Deur Wilma Bedford
Indien jy nie gereeld onderhoud aan jou motor doen nie sal dit geleidelik padwaardigheid verloor, maar jy kan dit vervang met ʼn splinternuwe model. Dink daaraan: jy het net een brein en as jy nie onderhoud doen nie, gaan jy saam met ouderdomsgepaardgaande slytasie breinfunksie verloor – en jou brein is onvervangbaar.
Jy voorsien finansieel vir jou oudag en neem versekering uit vir moontlike mediese onkoste, maar hou jy jou liggaam en veral jou brein in stand vir jou oudag?
Hoewel jy niks kan doen om byvoorbeeld die ongeneeslike Alzheimer se siekte te vermy nie, kan jy wel iets doen om die aanvang van ouderdomsverwante geheueverlies uit te stel deur vroegtydig sekere voorkomingsmaatreëls te neem.
Wat kan geheueverlies en vergeetagtigheid veroorsaak?
- Alzheimer se siekte is die grootste oorsaak van geheueverlies en tot op hede is daar nog nie wetenskaplike deurbrake gemaak ten opsigte van effektiewe behandeling nie en wat dit veroorsaak is ook nog onbekend. Alzheimer se siekte moet ook nie verwar word met gewone vergeetagtigheid wat miskien veroorsaak word deur ʼn besige lewe nie, byvoorbeeld jy het vergeet waar jou motor se sleutels is. Alzheimer se siekte is wanneer persone se kort-termyn geheue hulle in die steek laat en hulle in die laat stadium van die siekte nie meer hul geliefdes ken nie.
ʼn Paar feite oor Alzheimer se siekte:
Meer vroue as mans kry die siekte;
Daar blyk ʼn verband te wees tussen vaskulêre siektes, diabetes, hipertensie, hoë cholesterol en geheueverliessiektes;
Alzheimer se siekte kan vir 20 jaar in die brein aanwesig wees voordat simptome wys – en hoewel wetenskaplike uitsluitsel nog nie bereik is nie, is die vermoede dat dit met hormonale verskuiwing tydens menopouse verband hou;
Vroue in hul sestigs het ʼn twee maal hoër kans het om Alzheimer se siekte te kry as om borskanker te ontwikkel. Die rede daarvoor word op hierdie stadium nog nagevors: dit kan lê in die gene, in hormonale faktore en in lewensstylfaktore.
- Angs en stres kan kort-termyn geheue, aandag en beplanningsvermoë benadeel en kan depressie meebring.
- Harsingskudding en breinbeserings veroorsaak deur val is die grootste oorsaak van breinskade, gevolg deur beserings tydens motorongelukke en dan kontaksport.
- Voorskrifmedisyne soos vir geestesgesondheid en slaappille, pynstillers en antihistamiene kan lei tot geheueverlies.
- Chroniese alkoholisme oor die langtermyn veroorsaak nie net skade aan die organe nie maar ook langtermyn geheueverlies, beperk die vermoë om nuwe gedagtes of herinneringe te vorm, lei tot hallusinasies, verwardheid en permanente verlies van
- Ongekontroleerde kardiovaskulêre siektes soos abnormale bloeddruk, hoë cholesterol, diabetes en abnormale hartritmes affekteer jou brein se gesondheid, byvoorbeeld beroertes vind plaas wanneer ʼn bloedklontbloedvloei na die brein blokkeer.
Dit is nooit te laat om iets te doen wat die aanvang van ouderdomverwante vergeetagtigheid en geheueverlies sal vertraag nie, maar begin vroegtydig die voorkomingspad te stap.
Wat kan ek doen?
- Prioritiseer slaap, oefening en gesonde dieet. Onvoldoende slaap, slaaploosheid en slaap-apnee sal ook jou breinvermoë aantas. Jou dieet moet ryk wees aan Vitamine D en B en aan die omega-vette soos gevind in vis. Eet baie groente en minder geprosesseerde voedsel – dit veroorsaak breinvog. Eet wat gesond is vir jou hart en jy eet terselfdertyd vir jou brein.
- Daar is ʼn verband tussen fisiese aktiwiteit en ʼn verminderde risiko van kognitiewe agteruitgang. Doen gereeld kardiovaskulêre oefening wat jou bloedvloei na die brein sal verhoog. As jy nie ‘gym’ toe wil gaan nie, sal ʼn vinnige stap drie maal ʼn week ook ʼn beter as niks alternatief wees. Hou op rook.
- Sosiale Interaksie. Deur sosiaal aktief te wees voorkom jy depressie. Verkeer met persone wat vir jou opbouende geselskap bied en wees aktief betrokke by jou gemeenskap. Sluit aan by vrywilligersgroepe of ʼn koor, of wees net deel van jou familie en vriende se aktiwiteite. Persone wat alleen woon, raak meer depressief en het ʼn groter geneigdheid tot Alzheimer se siekte. Reik uit na ander, word ʼn geselsgenoot vir iemand wat huisgebonde is of in ʼn aftreeoord woon. Streef ʼn gesonde lewensstyl na; vermy dwelms en beperk alkoholgebruik.
- Daag jouself uit. Oortref jouself; stel vir jouself doelwitte. Verf daardie meesterstuk wat jy nog altyd wou en doen hom oor totdat jy tevrede is daarmee. Bou ʼn meubelstuk of stoffeer ʼn ou stoel. Speel speletjies waar jy strategies moet dink, soos brug of skaak, en onthou, dit gaan nie oor wen of verloor nie, dit gaan daaroor om jou strategiese denkvaardighede te verskerp. Leer ʼn inheemse taal of ʼn vreemde taal met ʼn vreemde alfabet soos Sjinees of Russies en leer dans. In jou vryetyd kan jy blokkiesraaisels, soduko of rekenaarspeletjies speel.
- Verander jou breinvoorkeur. As jy ʼn linkerbrein-persoon is wat goed is met aktiwiteite soos syfers, byvoorbeeld ʼn ouditeur, skakel dan oor na regterbrein-aktiwiteite wat die kreatiewe kant is; speel ʼn musiekinstrument of beoefen kuns. Vir die pret, draai jou mes en jou vurk om na die ander hand wanneer jy eet.
- Kyk na jou geestesgesondheid. Verkry hulp indien jy aan depressie, angstigheid of ander geestesongesteldhede ly en hou stresvlakke in toom.
Jy het net een liggaam en een brein en net jy is in beheer van die versorging van albei, maar net omdat jy nie jou brein kan sien nie, verwaarloos jy die versorging daarvan. Sien om na jou brein – sodoende belê jy in jouself.
Bronne
It’s Never Too Soon to Prioritize Your Brain Health. Here Is What Maria Shriver Recommends
Nicole Pajer Nov 5, 2021 Brain Health https://www.shondaland.com/live/body/a38164664/maria-shriver-brain-health/
Why Does Alzheimer’s Disease Affect More Women Than Men? 10 Ways to Love Your Brain February 11, 2016 Alzheimer’s Association https://www.alz.org/blog/alz/february_2016/why_does_alzheimer_s_disease_affect_more_women_tha
7 ways to protect your brain- and your thinking power
May 6, 2021. Kaiser Permanente Washington Health Research Institute https://www.kpwashingtonresearch.org/