Deur Essie Bester
Angs − kenners sê dis ʼn gewoonte. En soos enige gewoonte, kan dit afgeleer word.
Een van die algemeenste gedragspatrone wat met angs geassosieer word, is kommer, en as besigheidseienaar is daar altyd iets waaroor jy jou kan bekommer − ʼn markverskuiwing, ʼn nuwe mededinger, ʼn komende bekendstelling, en die lys gaan voort.
Judson Brewer, ʼn psigiater en medeprofessor by die Brown University School of Public Health in die Verenigde State, waarsku dat, hoewel bekommernis mens die illusie van beheer gee, dit eintlik teenproduktief is. Daar is baie navorsing wat toon dat wanneer ons bekommerd is, ons eintlik ons fokus verklein, wat daartoe lei dat ons nie kreatief kan dink nie.
Brewer sê dat angs en die kommer wat daarmee saamgaan ʼn gewoonte is. Dit sneller sekere gedrag − tipies maniere om daardie onaangename gevoelens te vermy, soos om alkohol te misbruik of vir ure reekse op Netflix te lê en kyk − en dit vorm ʼn sneller-gedrag-beloningslus.
Vier kennergesteunde strategieë om angs te bekamp en sodoende jou denke skerp en bekommernisse onder beheer te hou, sluit die volgende in:
Brewer sê jy moet, in plaas daarvan om daardie gewoontelus onbelemmerd te laat voortgaan, ʼn oomblik neem om te oorweeg of jou bekommernis werklik tot betekenisvolle resultate lei.
Volgens Brewer kan ons ondersoek of ons brein vals oorsaaklike verbande maak. As ons dink dat dit vir ons nodig is om bekommerd te wees ten einde te beplan vir die een of ander negatiewe gebeurlikheid, moet ons ook eksperimenteer om die teenoorgestelde te doen. “Ons moet ook beplan en ons nie bekommer nie en dan kyk watter een ons emosioneel en fisiek die meeste belas.”
Om te erken dat jy jou geestelike brandstof vermors, is die eerste stap na die kortsluiting van jou kommerkringloop.
Om te weet wat jou gewoontelusse is, is die helfte van die stryd, sê Brewer. Selfs as jy nie die gedrag dadelik kan verander nie, kan die herkenning van jou snellers jou ʼn sterk beginpunt gee.
By sommige individue veroorsaak elke kwessie wat opduik angs − van gebruikersprobleme tot personeelkwessies, en dit voel asof daar die heel tyd brande geblus moet word. Terwyl nie alle stres sleg is vir jou nie (soms kan dit ons selfs help) moet mens dit uiteindelik erken as daar oral snellers is en jy besig is om uit te brand. Jy sal moet verander − in sommige gevalle kan dit dalk beteken dat jy bloot moet leer om te delegeer.
As jy probeer om die snellers op te spoor wat tot jou bekommernis lei, kan dit jou help om ʼn plan van aksie te bedink wat jou angs kan verlig.
Hierdie wenk gaan hand aan hand met die herkenning van jou lusse. Maar in plaas daarvan om net in te skakel wanneer angs reeds toegeslaan het, beveel kenners aan dat ons ʼn gereelde oefening moet probeer om self-bewustheid te kweek.
Kenners glo dat as individue meer oor die werking van hulle eie innerlike verstaan – hulle gedagtes, gevoelens en outomatiese fisiese en emosionele reaksies – hulle beter persoonlike keuses kan maak in die aanwesigheid van alledaagse spanning.
Oorweeg ʼn self-bewustheidsraamwerk wat die volgende insluit:
om bewus te wees van huidige gedagtes, gevoelens en fisiese sensasies
om daardie sensasies ʼn naam te gee
om te besin oor patrone
om ingeligte keuses te maak gebaseer op selfrefleksie
Wanneer jy agterkom dat jy obsessief is oor perfeksie moet jy jouself afvra of minder moeite (en stres) nie min of meer dieselfde resultate sal bereik nie.
As nog ʼn dag waarin jy jouself obsessief besig hou met projekaanpassings net effens beter resultate sal oplewer, is dit beter om jou energie elders te gebruik − aan ander projekte of selfs jou eie welstand.
Dit kan dalk teenintuïtief lyk vir baie van ons, maar soms is “goed genoeg” werklik ʼn beter teiken vir jou en jou besigheid se algemene welstand.
Bronne
https://www.entrepreneur.com/article/418881
https://www.mentalhelp.net/blogs/5-strategies-for-managing-anxiety/
Oops! We could not locate your form.