• Teken in
  • Ander Artikels

    Kankergevaartekens wat jy nié moet ignoreer

    Cyril Blackburn

    Kankergevaartekens is dikwels vaag en in baie gevalle is daar min tot geen simptome nie. Om die waarheid te sê, prostaatkanker – die algemeenste kanker onder mans – is een van die kankers met die minste ooglopende simptome.

    Navorsing van die Universiteit van Texas se MD Anderson-sentrum vir kankervoorkoming het bewys dat mans hulle dikwels daaraan skuldig maak om nié vir jaarlikse ondersoeke te gaan of gereeld ʼn dokter te besoek nie. Die gevolg hiervan is dat baie mans kankergevaartekens ignoreer of bloot nie raaksien nie – iets wat enige kankerlyer duur te staan kan kom.

    Therese Bevers, direkteur van die MD Anderson-sentrum, werp lig op sommige van die vernaamste simptome of gevaartekens wat dikwels deur mans geïgnoreer word.

    ʼn Buitengewone knop

    ʼn Knop onder jou vel kan ʼn aanduiding van kanker wees. Dié knoppe kom gewoonlik voor in die bors, testikels, limfknope en sagte weefsels, soos ligamente. Só ʼn knop moet dadelik met jou dokter bespreek word.

    ʼn Verandering in jou testikels

    As een of albei van jou testikels abnormaal swel of groei, kan dit ook ʼn aanduiding van kanker wees. Wanneer ʼn man se testikels swaar en geswel voel, is dit dikwels ʼn waarskuwing dat hy lankal by ʼn dokter moes gewees het. Al dié simptome kan op testikulêre kanker dui.

    ʼn Verandering in jou badkamergewoontes

    As jy konstant badkamer toe moet gaan, en in baie gevalle ook pyn het wanneer jy urineer, kan dit dui op blaas- of prostaatkanker. Ander tekens om voor uit te kyk, is bloed in jou urine of stoelgang. Dit is selfs belangrik om te onthou dat diarree wat nie opklaar nie, ook gevare inhou.

    ʼn Verandering in jou velkleur

    Dit is nie nét diegene wat buite in die son werk wat velkanker kry nie. Bevers sê as jy sere het wat nie genees nie of vratte op jou lyf wat van kleur verander, kan dit dikwels dui op velkanker. Elke mens is veronderstel om sy vel konstant dop te hou vir enige verandering in kleur of sensitiwiteit.

    ʼn Verandering in jou spysvertering, of wanneer jy moeilik sluk

    ʼn Langdurige brandende sensasie in jou keel of bors moenie geïgnoreer word nie, maan Bevers. Sy sê ʼn skielike verandering in jou spysvertering of wanneer dit moeilik is om te sluk, het niks met ouderdom te make nie. Inteendeel, dit kan moontlik simptome van esofageale, maag- of keelkanker wees.

    ʼn Aanhoudende hoes of heesheid

    As jou hoes of heesheid vir langer as drie weke aanhou, is dit uiters gevaarlik. Selfs al is jy ʼn roker is ʼn seer keel of hoes vir ʼn tydperk van drie weke nie normaal nie. Aanhoudende heesheid, kortasemrigheid of as jy bloed hoes, kan alles tekens van longkanker wees.

    Veranderinge in jou mond

    Wanneer jy soggens of saans tande borsel, moet jy jou mond noukeurig deursoek. Wit kolle in jou mond of op jou tong kan dui op ʼn voorkankertoestand wat later in mondkanker verander. Sere, onverklaarbare bloeding of ʼn uiterste sensitiwiteit in jou mond is veral redes om ʼn dokter te spreek.

    Onverklaarbare gewigsverlies

    As jy konstant gewig verloor sonder dat jy jou dieet- of oefenprogram te verander het, moet jy ook ʼn dokter gaan spreek. Om sonder rede gewig te verloor, is ʼn gevaarteken van pankreas-, maag-, esofageale of longkanker.

    ʼn Konstante moegheid

    As jy konstant moeg is, ongeag die hoeveelheid slaap wat jy kry en dieetveranderings wat jy aanbring, kan dit ʼn teken van leukemie wees, of selfs ook kolon- of maagkanker.

    Aanhoudende pyn

    Konstante pyn die rug, hoofpyn of maagpyn wat nie wil opklaar nie, kan benewens kanker op talle ander kroniese siektes dui.

    Bevers sê dat geeneen van dié simptome definitief op kanker dui nie, maar dat dit belangrik is om te onthou om jaarliks vir mediese ondersoeke te gaan om te verhoed dat kanker jou onverhoeds betrap.

    Vir meer inligting, besoek die MD Anderson-sentrum vir kankervoorkoming se webblad.

     

    Bron

    https://www.mdanderson.org/

    • 176
    •  
    •  
    •  

    Wat gebeur met my liggaam wanneer ek ophou rook?

    Cyril Blackburn

    Dit mag dalk een van jou gunstelingtydverdrywe wees, maar dit is nie nuwe nuus dat rook ʼn groot gesondheidsrisiko vir jou en vir ander om jou inhou nie. Die gevaartekens staan immers selfs lewensgroot geskryf op die pakkie: Hierdie gewoonte kan jou lewe vir altyd verander.

    Volgens navorsing van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) bevat tabak en tweedehandse rook – wanneer jy die rook van ʼn roker inasem deur bloot in sy of haar geselskap te wees terwyl hulle rook – meer as 1 400 skadelike chemikalieë waarvan sowat 300 kankers veroorsaak.

    Dieselfde navorsing toon dat tabakverwante siektes verantwoordelik is vir die sterftes van meer as 44 000 Suid-Afrikaners en byna ses miljoen mense wêreldwyd. Hierdie statistiek kom neer op een persoon elke ses sekondes en een uit 10 mense in die wêreld.

    Watter siektes word almal met rook verbind?

    Sigaretrook word volgens KANSA verbind met verminderde longfunksie, longgroei en asma. Rokers is ook meer geneig tot virusse wat verkoues en griep veroorsaak. Buiten hierdie siektes, verhoog die gebruik van tabak ʼn roker se risiko vir siektes soos long-, slukderm-, mond-, blaas-, pankreas-, nier- en maagkanker.

    Sigaretrook stimuleer ook die afskeiding van epinefrien (adrenalien) in die bloed wat die bloeddruk abnormaal laat styg. Verder belemmer die teer in rook die asemhalingstelsel. Oor ʼn lang tydperk dra rook ook by tot arteriosklerose, wat die hoofoorsaak van hartaanvalle en beroerte is.

    Wat gebeur wanneer ek ophou rook?

    Volgens navorsing van die Hou op rook-veldtog verminder jou risiko vir hartverwante siektes met die helfte binne die eerste jaar wanneer jy ophou rook. Jy het dus ʼn 50% minder waarskynlikheid vir hartaanvalle, beroertes en hoë bloeddruk. Jy sal ook minder geneig wees om uitasem te raak, gespanne te wees of voortdurend moeg te voel.

    Binne 20 minute ná jou laaste sigaret sal jou bloeddruk na die normale vlak daal. Na ʼn week sal jou liggaam nikotienvry wees. Na ʼn maand sal jy minder hoes, jou sinusse sal oop wees en jy sal nie meer so moeg en kortasem wees nie. Na vyf jaar sal die risiko dat jy aan longkanker sal sterf met 50% afgeneem het. Na 15 jaar sal die risiko dat jy koronêre hartsiekte sal kry, afgeneem het tot dié van iemand wat nog nooit gerook het nie.

    Rook beïnvloed ook jou smaak, en persone wat ophou rook, vind dikwels dat hulle kos beter smaak as voorheen. Daarbenewens verbeter jou reuksintuig ook. Iets wat minder algemeen bekend is oor rook, is dat dit jou natuurlike verouderingsproses in die wiele ry en jy vinniger verouder as wat ʼn nie-roker doen. Elke teug bevat ammoniak, kadmium, bensien, formaldehied, nikkel, lood, asetoon en piridien.

    Slaan die rookgewoonte só hok

    KANSA se eKick Butt-program is ʼn unieke aanlyn-rookstaakprogram. Rokers word deur middel van ʼn reeks e-posse, opnames en aflaaibare materiaal gelei en gementor om die gewoonte finaal te laat vaar. Die program verskaf ook handige gereedskap om rokers met die staakproses by te staan.

    Navorsing deur die Amerikaanse MD Anderson-kankersentrum toon dat die groter meerderheid van rokers nie daarin slaag om op te hou rook nie omdat hulle nie ʼn plan van aksie het om die gewoonte ʼn nekslag toe te dien nie.

    Die kankersentrum maak ʼn paar voorstelle om jou rookgewoonte finaal te stop:

    • Kies vir jou ʼn datum en probeer jou nikotienverbruik voor daardie dag verminder. Hou op rook op die dag wat jy jouself belowe het.
    • Werf ondersteuning van jou vriende en familie. Sluit ook aan by ondersteuningsgroepe – daar is baie meer van hierdie soort groepe as wat jy mag dink, en jy hoef bloot net op sosiale media rond te snuffel.
    • Leer vir jouself nuwe gedrag aan en bepaal wat jou sigarette laat rook. In baie gevalle is dit wanneer persone in hoë-stressituasies is. Begin ʼn nuwe gewoonte, soos om liewer kougom te kou of ʼn draai in die buitelug te gaan loop.
    • Oorweeg nikotienvervangingsterapie soos medikasie of plakkers vir jou liggaam om jou te help met onttrekkingsimptome.

     

    Bronne:

    http://www.cansa.org.za/files/2014/04/Tobacco-Campaign-2014-AFR.pdf

    http://www.afrikaans.stopsmoke.co.za/hou-op-rook-7-voordele-van-ophou-rook/

    http://www.health24.com/Medical/Archive/Afrikaans/Hoekom-rook-jou-oud-laat-lyk-20120721

    •  
    •  
    •  
    •  

    Voor- en nadele van sonpanele

    Na gelang elektrisiteitstariewe aanhou styg en finansiële druk op Suid-Afrikaanse huishoudings plaas, kyk baie na alternatiewe kragbronne soos sonpanele in ʼn poging om hul huishoudelike elektrisiteitsverbruik te verminder.

    Adrian Goslett, streekdirekteur en HUB van RE/MAX Suider-Afrika, sê hoe meer elektrisiteit ʼn huishouding gebruik, hoe meer word hy per eenheid elektrisiteit gevra. As gevolg hiervan is daar ʼn groeiende neiging by huishoudings om energiedoeltreffende elemente in te voer om te help om hul energieverbruik en die totale koste om die huis te bedryf te beperk. “Hoewel die begrip ‘groen energie’ nie nuut is nie, het die stygende koste van elektrisiteit daartoe gelei dat verbruikers meer bewus geword het van die energie wat hulle gebruik. ʼn Studie deur die Nasionale Vereniging van Huisbouers (NVHB) het bekend gemaak dat, afgesien van ʼn veilige omgewing, die faktor met die grootste invloed op huiskoopbesluite ʼn huis se energiedoeltreffendheid is,” sê Goslett.

    Hy merk op dat elemente soos sonpanele al hoe gewilder geraak het soos die energiedoeltreffendheidsbeweging momentum gekry het. Goslett sê egter daar is ʼn paar voor-en nadele wat huiseienaars moet oorweeg voordat hulle voortgaan en sonpanele by hul huise laat installeer:

    Voordeel ─ laer elektrisiteitrekening

    Dit is vanselfsprekend dat krag wat deur middel van die son ontwikkel word die hoeveelheid elektrisiteit wat van die hoofkragnet gebruik word, sal verminder, wat die huishouding se diensterekening verlaag. In die meeste gevalle bespaar sonpanele tussen 50% en 75% van ʼn elektrisiteitsrekening. Die geld wat gespaar word, kan op die sonpanele of ander huishoudelike uitgawes afbetaal word.

    Nadeel ─ die voorkoste

    Selfs al het sonpanele oor die jare meer bekostigbaar geword, kan die aanvanklike installasiekoste duur wees en dit kan lank duur vir die stelsel om homself af te betaal ─ tipies ongeveer sewe jaar.

    Voordeel ─ verhoog waarde van die huis

    Energiedoeltreffende elemente voeg waarde by ʼn huis en ʼn groot persentasie van die aanvanklike uitleg van sulke elemente word herwin wanneer die eiendom verkoop word. “Volgens die NVHB is ongeveer 61% van huiskopers bereid om ʼn bykomende R50 000 tot R100 000 te betaal vir ʼn huis met bybehore wat dienstekoste sal verminder,” sê Goslett.

    Nadeel ─ werk nie op elke dak nie

    Daar is sekere dakmateriale, soos leiklipteëls, veral by ouer huise, wat dit moeilik maak om sonpanele te installeer. Daar is ook die kwessie van beskikbare ruimte op die dak; baie huise het beperkte oop ruimte om die sonpanele aan te bring.

    Voordeel ─ verkleinde koolstofvoetspoor

    Hoewel groen geld aan dienstekoste sal bespaar en waarde by die huis sal voeg, is die finansiële aspek nie die enigste rede nie. Dit gaan ook om volhoubaarheid en die vermindering van die huishouding se effek op die omgewing. As energie deur middel van fossielbrandstof ontwikkel word, gee dit skadelike koolstofdioksied en metaan af, wat bydra tot aardverwarming ─ die gebruik van sonpanele doen dit nie. Sonpanele gebruik ook nie water nie, terwyl ander energiebronne dit wel doen.

    Nadeel ─ instandhouding

    Soos in die geval van alle huishoudelike elemente, verg sonpanele versorging en instandhouding, wat bykomende koste meebring. Die sonpanele moet skoongemaak word, herstel word as dit nodig is, en verseker word.

    “Vir die regte huis, kan die installering van sonpanele ʼn volhoubare metode verskaf om sowel die energiekoste as die impak op die omgewing te verminder,” sê Goslett.

    • 37
    •  
    •  
    •  

    Sleutelfeite oor bloedklonte

    Bloedklonte sluit in diep-aartrombose (DAT) en pulmonêre embolisme (PE), wat ernstige maar voorkombare mediese toestande is. DAT is ʼn bloedklont in ʼn diep aar, gewoonlik in die laer been, dy of pelvis, maar kan in ander plekke, soos die arm, voorkom.

    As ʼn DAT afbreek en deur die bloedstroom na die longe toe reis, veroorsaak dit ʼn PE, wat ʼn blokkasie van are in die longe is. Saam staan DAT en PE bekend as veneuse trombo-emboliese (VTE). Dit is belangrik om kennis te dra van VTE want dit kan met enigiemand gebeur en ernstige siekte, gestremdheid en selfs die dood veroorsaak. Baie VTE-voorvalle is voorkombaar en indien dit vroeg opgespoor word, kan dit behandel word.

    Sleutelfeite

    • Dit is krities om die tekens en simptome van DAT en PE te ken sodat dit vroeg bespeur kan word.
    • Tekens en simptome van DAT sluit in swelsel, pyn, teerheid en rooiheid van die vel in die geaffekteerde area van die liggaam.
    • PE’s kan voorkom sonder enige tekens van ʼn DAT en kan dodelik wees.
    • Tekens en simptome van ʼn PE sluit in moeilike asemhaling, borspyn, onreëlmatige hartklop en om bloed te hoes.
    • Kry onmiddellike mediese versorging as jy simptome van ʼn DAT of PE ervaar.

     

    Bron: Sentrum vir Siektebeheer en -Voorkoming

    • 198
    •  
    •  
    •  

    Wenke om jou hond se skeidingsangs te kalmeer

    Raak jou hond senuagtig as hy sien jy maak gereed om die huis te verlaat? Raak hy mal van blydskap as jy by die huis kom? Het hy jou skoene verniel, die deur gekrap of die hoek van ʼn koffietafeltjie afgekou terwyl jy weg was?

    Jou hond ly dalk aan skeidingsangs.

    Wat is dit?

    Skeidingsangs kom voor as ʼn hond wat oorverknog aan sy eienaar is oorangstig raak as hy alleen gelos word. Dis meer as ʼn bietjie getjank as jy weggaan of ʼn bietjie kwaaddoen as jy uit is. Dis ʼn ernstige toestand en een van die hoofredes waarom eienaars gefrustreer raak met hul honde en ontslae raak van hulle, maar daar is baie wat jy kan doen om te help.

    Verstaan eers hoekom jou hond so maak

    • Om vir die eerste keer alleen gelos te word of as hy daaraan gewoond is om by mense te wees
    • Verandering van eienaar
    • Verskuiwing van ʼn skuiling na ʼn huis
    • Verandering in gesinsroetine of -skedule
    • Verlies van ʼn lid van die gesin

    Tekens van skeidingsangs

    ʼn Hond wat dit het, vertoon baie stres as hy alleen is. Hy kan:

    • huil, blaf, of uitermate tjank;
    • binnenshuise “ongelukkies” kry al is hy huisgeleerd;
    • goed stukkend kou, gate grawe, krap aan vensters en deure;
    • kwyl, hyg, of meer kwyl as normaalweg;
    • op-en-af loop, dikwels in ʼn obsessiewe patroon; en
    • probeer ontsnap.

    Hy sal waarskynlik nie een van hierdie goed oordoen as jy naby is nie. ʼn Normale hond sal dalk nou en dan party van hierdie goed doen, maar een met skeidingsangs doen dit byna die heel tyd.

    Hoe om dit te behandel

    Praat eers met jou veearts om mediese probleme uit te skakel. Soms kry honde ongelukkies in die huis as gevolg van infeksies of hormoonprobleme of ander gesondheidstoestande. Dit kan ook gebeur as gevolg van onvoldoende huisgeleerdheid. Sommige medikasie kan ook ongelukkies veroorsaak. As jou hond medisyne kry, vra jou veearts watter een die skuld moet kry.

    As die probleem nie erg is nie …

    • Gee jou hond ʼn spesiale bederfie elke keer as jy weggaan (soos ʼn raaiselspeelding wat met grondboontjiebotter gestop is). Gee dit eers sodra jy loop en vat dit weg as jy tuiskom.
    • Onderspeel jou kom en gaan sonder veel groetery. Ignoreer jou hond vir die eerste paar minute nadat jy tuisgekom het.
    • Laat klere rondlê wat jy ʼn rukkie tevore gedra het en wat na jou ruik.
    • Oorweeg dit om vir jou hond oor-die-toonbank natuurlike kalmeeraanvullings te gee.

    As die probleem ernstiger is …

    ʼn Hond met ernstige angs se aandag sal nie eers deur die lekkerste bederfie afgelei word nie. Jy sal hom stadig aan jou afwesigheid gewoond moet maak.

    Hy kan senuagtig begin word as hy tekens sien dat jy op die punt is om uit te gaan, byvoorbeeld deur jou skoene aan te trek en jou sleutels te vat. So, doen hierdie dinge maar moenie weggaan nie. Trek jou skoene aan en gaan sit dan by die tafel. Tel jou sleutels op en kyk TV. Doen dit ʼn hele klomp kere elke dag.

    As jou hond begin om minder onrustig te raak daaroor, kan jy stadigaan begin wegraak. Gaan eers net na die ander kant van die deur. Sê vir jou hond om te bly en maak dan ʼn binnedeur tussen julle toe. Verskyn weer na ʼn paar sekondes. Maak stadigaan die tyd wat jy weg is langer. Trek jou skoene aan en tel jou sleutels op. Sê vir jou hond om te bly terwyl jy na ʼn ander kamer gaan.

    Maak die tyd wat jy weg is langer na gelang hy gewoond raak aan die “bly-speletjie”. Gaan dan by ʼn buitedeur uit, maar nie die een waar jy elke dag uitgaan nie. Maak seker jou hond is ontspanne voordat jy uitgaan.

    Net jy sal kan sê of jou hond gereed is om vir langer tydperke alleen gelos te word. Moenie oorhaastig wees nie. Gee hom ʼn gevulde bederfie as julle by so om en by 10 sekondes weg van mekaar kom. Tree altyd kalm op as jy uitgaan en wanneer jy terugkom.

    Maak geleidelik die tyd langer totdat jy die huis vir ʼn paar minute kan verlaat. Bly dan vir al langer tydperke weg.

    Vir alle honde

    Maak seker jou hond kry baie oefening elke dag. ʼn Moeë, gelukkige hond sal minder gestres wees as jy uitgaan. Dit is ook belangrik om jou hond se brein te oefen. Speel opleiding- en bringspeletjies. Gebruik interaktiewe raaisels. Laat sy brein sowel as sy liggaam werk. Dit sal hom besig en gelukkig hou en te moeg om angstig te wees terwyl jy weg is.

     

    Bron: WebMD

    • 314
    •  
    •  
    •  
    Top

    Registreer / Register

    Maak toe / Close