Eugene Brink
Depressie is ʼn baie algemene siekte wêreldwyd, wat miljoene mense affekteer.
Alhoewel dit mans sowel as vroue teister en sommige universele eienskappe openbaar, is die oorsake, simptome en behandeling dikwels verskillend vir die onderskeie geslagte.
“Terwyl die simptome wat gebruik word om depressie te diagnoseer dieselfde is ongeag geslag, kan die hoofklagte dikwels tussen mans en vroue verskil,” sê Ian A. Cook, MD, professor in psigiatrie aan die Universiteit van Kalifornië–Los Angeles.
Simptome en oorsake
Die hoog-aangeskrewe Koninklike Akademie van Psigiaters in die VK het in ʼn 2010-verslag, uitgevoer onder opdrag van die Nasionale Gesondheidsdiens (NGD), aangetoon dat daar geen bewys is van ʼn algehele aparte tipe “manlike depressie” nie. “Daar is egter bewyse dat sommige simptome van depressie meer algemeen in mans is as in vroue,” lees die verslag.
Die verslag lys geïrriteerdheid, skielike woede, ʼn toename in verlies van beheer, groter neem van risiko’s en aggressie as hierdie algemene simptome. Daarbenewens is mans meer geneig as vroue om selfdood te pleeg.
Een van die hoofsimptome van depressie, veral onder mans, is uitputting en ʼn verlies van belangstelling in eens genotvolle aktiwiteite. Volgens dr. Josh Klapow, ʼn kliniese sielkundige aan die Universiteit van Alabama se Birmingham Skool van Openbare Gesondheid, is mans meer geneig as vroue om uitputting en ander fisiese simptome van depressie aan te meld as hulle hoofklagtes.
Ander simptome wat met hierdie uitputting gepaard gaan, sê die Nasionale Instituut van Geestesgesondheid (NIGG) in die VS, sluit in die onvermoë om te konsentreer, slapeloosheid of te veel slaap, oor-eet, sowel as pyn.
Mans is minder sku vir risiko as vroue, en ander gedrag wat mans openbaar wanneer hulle aan depressie ly – maar wat nie as sodanig herken word nie – sluit in ontvlugtingsgedrag (soos om baie tyd by die werk of in kroeë deur te bring), alkohol- en dwelmmisbruik, gewelddadige gedrag, en waaghalsige gedrag, soos om uitermatig te jaag.
Kure en hantering
Volgens die Koninklike Kollege van Psigiaters vind mans dit moeilik om vir hulp te vra wanneer hulle depressief is, aangesien dit onmanlik voel. Hulle is ook meer geneig om oor die fisiese simptome van depressie te praat eerder as oor die emosionele en psigologiese simptome.
Dit bly gevolglik ongediagnoseerd en miljoene mans ly in stilte terwyl hulp geredelik beskikbaar is. Dit is ook waarom mans meer geneig is om hulle depressie te “verdrink” met dwelms, alkohol en ander riskante gedrag en makliker selfdood pleeg.
Aan die mediese kant is dit raadsaam om ʼn dokter of geestesgesondheidkundige, byvoorbeeld ʼn psigiater, te raadpleeg. Hulle sal die ernstigheid en duur van jou simptome kan vasstel, die moontlike oorsake diagnoseer en medikasie of ander behandeling dienooreenkomstig voorskryf. “Navorsing toon dat om gouer as later behandeling te kry simptome vinniger kan verlig en die tydsduur van die nodige behandeling verkort,” adviseer die NIGG.
Maar daar is ook persoonlike en leefstylfaktore wat ʼn groot rol speel in die genesing of behandeling van depressie. Om aktief te bly en reg te eet is twee van die eenvoudigste dog mees verwaarloosde maniere om depressie te hanteer. Alkohol en ander stimulante behoort ook vermy te word.
Doen ook iets wat jy geniet. Gaan stap, lees ʼn nuwe boek, gaan fliek. Maar probeer om aan iemand oop te maak wanneer jy depressief voel. Indien nie ʼn sielkundige of psigiater nie, probeer emosionele ondersteuning te kry by ʼn geliefde, betroubare vriend of familielid.
Dit word sterk aanbeveel dat jy jou werkgewoontes en lewensdoelwitte aanpas sodat jou lewe meer hanteerbaar word. Stel kleiner en meer realistiese doelwitte, breek groot take op in kleineres, en stel groot besluite uit of af wat oormatige stres op jou plaas.
Bronne:
Zamosky, L. n.d. “12 signs of depression in men”. http://www.health.com/health/gallery/0,,20521449,00.html.
Mayo Clinic Staff. 2016. “Male depression: Understanding the issues”. http://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/depression/in-depth/male-depression/art-20046216?pg=1.
National Institute of Mental Health. 2013. “Men and depression”. http://www.nimh.nih.gov/health/publications/men-and-depression/index.shtml.
The Royal College of Psychiatrists. 2010. “Men and depression”. http://www.nhs.uk/ipgmedia/national/Royal%20College%20of%20Psychiatrists/Assets/MenandDepression.pdf.
Oops! We could not locate your form.