Deur Melodie Veldhuizen
Die voorkoms van diabetes is besig om wêreldwyd en ook in Suid-Afrika drasties toe te neem. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) is diabetes, naas tuberkulose, die algemeenste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika.
Bloedsuiker (glukose) is die hoofbron van energie vir die liggaam en ons kry dit uit koolhidrate wat ons inneem. Om koolhidrate af te breek tot glukose, wat dan deur die bloed opgeneem word, het die liggaam insulien nodig, wat in die pankreas voorkom. Wanneer daar geen of ʼn onvoldoende hoeveelheid insulien vervaardig word, styg jou bloedsuikervlakke en jy kan diabetes ontwikkel.
Tipes diabetes
- Tipe 1: Ongeveer 10% tot 15% van alle gevalle van gediagnoseerde diabetes is tipe 1 en word veroorsaak deur verminderde of geen insulienvervaardiging in die pankreas. Dit word nie deur leefstylfaktore veroorsaak nie en kan nie voorkom word nie. Die simptome (erge dors, gereelde urinering, skielike onverklaarbare gewigsverlies, erge moegheid, dowwe sig, spierkrampe, naarheid en braking, voortdurende honger, maagpyn en bewussynsverlies) verskyn gewoonlik onverwags. Dit kan lewensbedreigend wees en daarom is dit raadsaam om mediese hulp te kry die oomblik as jy enigeen van die genoemde simptome ervaar.
Risikofaktore vir tipe 1-diabetes is:
- ʼn familiegeskiedenis (ouers en/of sibbe met diabetes);
- omgewingsfaktore soos die blootstelling aan ʼn virale siekte; en
- die teenwoordigheid van skadelike immuunsisteemselle (outoïmmuunteenliggaampes).
- Tipe 2-diabetes is die algemeenste tipe, en dit word by ongeveer 85-90% van alle diabeteslyers gediagnoseer. Volwassenes, jonger mense en ook kinders kan dit kry. Die oorsake hiervan is gewoonlik ʼn kombinasie van genetiese en omgewingsfaktore, maar kan ook met leefstyl verband hou (hoë bloeddruk, hoë cholesterol, onvoeldoende fisieke aktiwiteit en oorgewig om die middellyf ─ die klassieke “appelvormige” figuur). Insulien word wel vervaardig, maar dit werk nie effektief nie (insulienweerstandigheid) of onvoldoende hoeveelhede insulien word vervaardig (betaseldisfunksie), wat die bloedsuikervlakke drasties laat styg. Simptome is dikwels vir jare lank sluimerend, of die simptome word dikwels aan ander oorsake soos spanning of ouderdom toegeskryf. Benewens die simptome wat by tipe 1-diabetes ervaar word, kan persone met tipe 2-diabetes ook een of meer van die volgende simptome ervaar: jeukerige vel, wonde wat moeilik genees, velinfeksies, geleidelike gewigstoename, gemoedskommelings, geïrriteerdheid, lighoofdigheid en beenkrampe. Dit kan vir 10 jaar of langer in jou liggaam skuil met ʼn enkele simptoom wat van tyd tot tyd kop uitsteek. Daarom is dit noodsaaklik om, indien jy ouer as 45 is, minstens een maal per jaar jou bloedsuikervlakke vastend te laat toets. Mense met ʼn lae risiko behoort dit minstens drie maal per jaar te doen.
- Prediabetes is ’n toestand wat voorkom wanneer die bloedsuikervlak hoër as normaal is, maar nie hoog genoeg is om as diabetes gediagnoseer te word nie. Navorsing bevestig dat mense met (gediagnoseerde) prediabetes die risiko om tipe 2-diabetes te ontwikkel, kan verminder deur die handhawing van ʼn gesonde leefstyl. Die ontwikkeling van diabetes kan met tot 60% voorkom word indien jy vroegtydig met prediabetes of insulienweerstandigheid gediagnoseer word, jy daarvoor behandel word en dit reg bestuur.
Risikofaktore (op hul eie of in kombinasie) vir prediabetes en tipe 2-diabetes:
- Oorgewig
- Onaktiwiteit
- Familiegeskiedenis
- Ras (bronne verskil oor watter rassegroepe)
- Ouderdom (Hoewel persone ouer as 40 ʼn groter risiko loop, is daar ook ʼn toename onder kinders, adolessente en jong volwassenes.)
- Indien jy swangerskapdiabetes gehad het, of aan ʼn baba wat meer as 4 kg weeg geboorte geskenk het, loop jy egter die risiko om later tipe 2-diabetes te kry.
- Polisistiese ovariumsindroom
- Hoë bloeddruk (oor 140/90 (mm Hg)
- Abnormaal hoë cholesterol- en trigliseriedvlakke
- Swangerskapdiabetes word gewoonlik tussen die 24ste en 28ste week van swangerskap gediagnoseer, is meestal tydelik van aard en verdwyn na die baba se geboorte.
Risikofaktore vir swangerskapdiabetes
Enige swanger vrou kan swangerskapdiabetes ontwikkel, maar daar is bykomende risikofaktore:
- Ouderdom (vroue ouer as 25)
- Familie- of persoonlike geskiedenis (ouers of sibbe met diabetes, vorige swangerskapdiabetes, geboorte geskenk aan baba wat meer as 4 kg geweeg het, onverklaarbare doodgeboorte)
- Oorgewig voor swangerskap
- Ras (bronne verskil oor watter rassegroepe)
- Vroue met polisistiese ovariumsindroom
Diabeteskomplikasies
Langtermynkomplikasies van diabetes ontwikkel geleidelik en kan uiteindelik ʼnuitwerking op jou lewensgehalte hê en selfs tot die dood lei.
Dit sluit die volgende in: kardiovaskulêre siektes, senuweeskade (neuropatie), voetskade, nierskade (nefropatie), oogskade (retinopatie), veltoestande (wonde wat moeilik genees), gehoorverlies, Alzheimer se siekte en depressie.
Swangerskapdiabetes kan die volgende komplikasies by die moeder tot gevolg hê:
Preëklampsie (met simptome van hoë bloeddruk, te veel proteïen in die urien, geswelde voete en bene; dit kan lewensbedreigend vir moeder en baba wees)
Diabetes gedurende volgende swangerskappe
Die ontwikkeling van tipe 2-diabetes later in haar lewe
Dit kan ook die volgende komplikasies by die baba tot gevolg hê:
Te vinnige groei, met ʼn te hoë geboortegewig, lae bloedsuikervlakke by geboorte, tipe 2-diabetes of vetsug wanneer die baba ouer word, sterfte voor of kort na geboorte indien die moeder nie betyds behandel word nie
Vroegtydige behandeling is dus noodsaaklik om komplikasies by die moeder en baba te voorkom.
Só bestuur jy diabetes
Met alle tipes diabetes moet bloedsuikervlakke so na as moontlik aan die teikenvlak gehou word. Persone met tipe 1-diabetes moet daagliks insulieninspuitings kry en terselfdertyd ʼn gesonde leefstyl kweek.
Persone met tipe 2-diabetes moet gesond eet en gereeld oefen. Daarbenewens is die gebruik van medikasie en/of insulien, soos deur jou mediese praktisyn voorgeskryf, noodsaaklik.
Bronne
Clicks Club Magazine. Uitgawe 5. 2018
Diabetes South Africa. www.diabetessa.co.za
Mayo Clinic. https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/diabetes/symptoms-causes/syc-20371444