Deur Emsie Martin
Baie mense worstel met eensaamheid en ʼn gebrek aan vriende. Jy kan dalk 1 000 vriende op Facebook hê, maar hoeveel van hulle is ”werklik” vriende? Dit is maklik om ʼn vriend te aanvaar en daarna op alles te reageer met ʼn Like-knoppie en die meeste van die tyd het jy nie eers die inskrywing gelees nie.
Dis maar selde dat mens saam met ʼn vriend of vriendin sit en koffie drink en gesels oor dinge wat saak maak. Mense sit meestal en skerts oor onbenullighede. Ek dink nie ons besef altyd hoe baie mense in eensaamheid leef nie. Vriendskap word as vanselfsprekend aanvaar en eers wanneer jy ʼn vriendskap verloor besef jy julle het eintlik baie in gemeen gehad.
Dr. ST Potgieter, sielkundige van Bellville, gee die volgende wenke oor vriendskap:
Ontmoet mense
Jy maak nie vriende deur in jou huis te sit nie. Jy moet uitkom en mense ontmoet. Die spreekwoord lui dat vreemdelinge vriende is wat jy nog net nie ontmoet het nie. Sluit aan by ʼn klub of vereniging waar jy mense ontmoet wat jou belangstellings deel.
Praat met mense
Vir ʼn introvert kan dit moeilik wees om met ʼn vreemdeling te kommunikeer. Maar al is dit hoe moeilik, jy moet tog maar probeer om met mense te praat. Jy kan nie vriendskappe ontwikkel as jy nie wil praat nie. Leer die basiese vaardighede aan soos om jouself voor te stel en ʼn gesprek aan die gang te kry.
Wees ʼn goeie luisteraar
Mense dink jy moet baie praat om ʼn vriendskap te behou, maar daar is weinig dinge so vervelig en oninteressant soos iemand wat aanmekaar praat. Stel eerder vrae aan die ander persoon. Dit sal hom prikkel om meer van homself te vertel, en dan luister jy met opregte belangstelling. Dale Carnegie het gesê dat jy meer vriendskappe sal maak deur in ander mense belang te stel as om jouself interessant voor te doen.
Wees betroubaar en lojaal
Sommige mense maak vinnig vriende, maar verloor vriende net so gou. Die rede hiervoor is dikwels onbetroubaarheid. Laat jou woord jou eer wees. Kan vriende op jou staatmaak? Goeie vriendskappe vereis betroubaarheid. ʼn Ontroue vriend is nie ʼn ware vriend nie. Lojaliteit beteken om jou vriend deur dik en dun, deur goeie en deur slegte tye, deur vreugde en trane by te staan. Vriende dra mekaar in tye van nood.
Behou jou vriendskappe
Dis hartseer wanneer iemand ʼn nuwe vriendskap sluit en sy rug op ʼn huidige vriend keer. Moenie jou ou vriende verwerp nie. Dit toon ʼn gebrek aan integriteit. Mense met karakter sluit nuwe vriendskappe, maar behou hul ou vriende.
Wees ʼn aangename persoon
Wanneer jy ʼn negatiewe en bitter geaardheid het, maak jy nie sommer maklik vriende nie. Mense hou van iemand met ʼn oop en gemaklike persoonlikheid, wat lag en ruimte vir ander se menings gee – dan sal mense graag met jou wil gesels en vriende wees.
Moenie uitnodigings van die hand wys nie
Moenie verskonings maak wanneer jy uitgenooi word nie. Dit bied aan jou ʼn geleentheid om nuwe mense te ontmoet. Doen moeite en aanvaar uitnodigings, dit is dalk iemand wat ʼn positiewe bydrae tot jou lewe kan maak.
Behou kontak met jou vriende
Daar is ʼn Skotse spreekwoord wat sê: “Vriende word verloor as jy hulle té veel of té min gebruik”. Vind die balans tussen te veel en te min. Wanneer jy al jou energie en tyd net aan een vriend gee, kan jy hom oorweldig. Aan die ander kant, ʼn vriend het ook ʼn sekere hoeveelheid aandag en tyd nodig om die vriendskap te laat groei.
Geen vriendskap is perfek nie
Aanvaar jou vriend se manier van doen, sy perspektief op sake en sy gewoontes wat jou irriteer. Moenie jou siening afdwing nie. Respekteer die grense van julle vriendskap.
Moenie net ʼn opsie wees nie
Indien jy voel jy is net ʼn opsie in iemand se lewe, aanvaar dit so en beweeg aan. Moenie tyd mors deur te klou aan ʼn vriendskap waarin jy nie waardeer word nie. Vind ʼn vriend wat jou waardeer, vir jou omgee en tyd saam met jou spandeer.
Vriende inspireer mekaar
ʼn Vriend trek jou nie ondertoe nie, maar help jou boontoe. Wanneer jy verlore voel, tel jou vriend jou op en help jou om weer rigting te vind.
Bid vir mekaar
Vriende bid vir mekaar. Soms het ʼn vriend daadwerklik nodig dat jy vir hom bid. Tree werklik vir jou vriend in by ons Hemelse Vader.
Waardeer jou vriende, ware en opregte vriende is skaars, baie skaars.
Bron