Deur Nico Strydom
Vetsug is een van die grootste gesondheidsuitdagings wat die wêreld vandag in die gesig staar.
Die jongste Wêreldvetsugatlas voorspel dat 1 miljard mense, oftewel een uit vyf vroue en eet uit sewe mans, wêreldwyd teen 2030 vetsugtig gaan wees.
Volgens dr. Morgan Mkhatshwa, bedryfshoof by Bonitas Mediese Fonds, het die voorkoms van vetsug oor die afgelope vier dekades verdriedubbel, wat ʼn enorme las op mense se gesondheid sowel as die gesondheidsorgstelsel plaas.
Volgens ʼn verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) leef meer as ʼn kwart van Suid-Afrikaners met vetsug, wat die land onder die top 20% van die mees vetsugtige lande in die wêreld maak. Studies deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad dui daarop dat byna die helfte van alle Suid-Afrikaners oorgewig is. Nog meer skokkend is die feit dat 22% van kinders tussen die ouderdomme van een tot nege oorgewig of vetsugtig is. Die pandemie, inperking en ʼn sittende lewenstyl het die situasie vererger.
“Dit is vir oorgewig of vetsugtige mense nie net ʼn kwessie van ydelheid of om in ʼn sekere denim te pas nie. Vetsug dra aansienlik by tot die ontwikkeling van kardiovaskulêre siektes, tipe 2-diabetes, hipertensie (hoë bloeddruk), kanker (veral kolon-, prostaat- en borskanker), slaapapnee, degeneratiewe gewrigsiekte, spysverteringskanaalsiektes, geestesgesondheidsprobleme en dermatologiese versteurings.”
Wat bepaal of jy vetsugtig is of nie? ʼn Liggaamsmassa-indeks (LMI) van meer as 25 word as oorgewig beskou en op 30+ word dit as vetsugtig geklassifiseer. “Die LMI is dalk nie die beste opsie vir byvoorbeeld lywige liggaamsbouers of bonkige mans nie. Dit is omdat dit nie onderskei tussen maer spiermassa en liggaamsvet nie. Beste praktyk is om liggaamsvetpersentasie saam met die BMI-berekening te meet. Dit gee ʼn beter aanduiding van ʼn mens se liggaamsamestelling.”
“Vetsug is ʼn chroniese en progressiewe siekte,” sê dr. Mkhatshwa en voeg by dat verstedeliking en die leefstyl wat daarmee gepaardgaan, een van die belangrikste bydraende faktore is.
“Daar is twee redes hiervoor. Dit is ‘n gebrek aan oefening en swak voeding. Alhoewel vetsug dikwels geassosieer word met swak lewenstylkeuses, ʼn gebrek aan motivering of ongesonde gewoontes, is dit nie altyd die geval nie. Die oorsprong van vetsug is kompleks en word swak verstaan, maar sluit voedings-, fisiologiese, sielkundige en genetiese faktore in.”
Daar is verskeie mediese behandelings en prosedures vir vetsug. Volgens Mkhatshwa is kaloriebeperking, oefening en gedragsverandering egter ook maniere om verandering teweeg te bring. “Deur jou inname met 500 tot 1 000 kalorieë per dag te verminder, sal totale liggaamsgewig oor ʼn tydperk van een jaar met gemiddeld 8% verminder. 30 minute oefening per dag sal gesondheidsvoordele oplewer terwyl 60−80 minute oefening sal help met gewigsverlies en bykomende voordele. Gedragsverandering sluit in doelwitstelling, selfmonitering, ʼn verandering van omgewing en om gedrag te verbeter sodat dit gewigsbestuur ondersteun.
“Die realiteit is dat vetsug en gepaardgaande leefstylsiektes ʼn pandemie in Suid-Afrika geword het. Diabetes 2 is een daarvan en het aansienlike gesondheidsimplikasies.”
Bronne
Bonitas: https://www.bonitas.co.za/
World Obesity: https://www.worldobesity.org/news/one-billion-people-globally-estimated-to-be-living-with-obesity-by-2030
CDC: https://www.cdc.gov/healthyweight/effects/index.html
Healthline: https://www.healthline.com/health/obesity/managing-obesity-health-risks
Oops! We could not locate your form.