Deur Wilma Bedford
Hoeveel geraas is te veel en wat is jou regte?
Tensy jy doelbewus stilte gaan soek, is jy feitlik elke oomblik van die dag omring deur klank, van die gesuis van jou yskas, die radio of TV, straatgeraas tot industriële geraas, en jy loop jou vas teen ontspanningsgeraas vanf die tiener tuis se persoonlike oudiostelsels tot fiksheidssentra, kroeë, restaurante, promosies, sportgeleenthede en nagklubs, maar besef ons werklik die skade wat oorverdowende klank aan die gehoororgane of aan ons geestesgesondheid doen?
Hoewel klanke soos rustige musiek ʼn fisies heilsame uitwerking meebring deurdat dit die brein dopamien laat afskei, kan klank ook neurologiese skade aanrig, soos tinnitus, wat ʼn newe-effek is van lang tye van blootstelling aan gevaarlik hoë klankfrekwensies. Tinnitus, die algemeenste klankskade, is ʼn neurologiese probleem wat wankommunikasie tussen die klankbeskadigde sensoriese selle veroorsaak en die gevolg is ʼn konstante gesuis in die ore.
Dit is egter nie die enigste neurologiese nagevolge nie; stres, kardiovaskulêre siekte en kognitiewe gestremdheid is ook gevolge van ouditiewe spanning, hetsy afkomstig van musiek, straatgeraas, vliegtuie of kraggereedskap. Blootstelling aan geraas bo 85 dB is gevaarlik en alles bo 120 dB is uiters gevaarlik. ʼn Gewone rock-konsert is gemiddeld 115 dB, maar hoe later en donkerder hoe hoër styg die desibels.
Hoekom word musiek gespeel teen vlakke wat mense as te hard ervaar?
Die sosiale belangrikheid van musiek is duidelik by saamtrekgeleenthede waar dit gebruik word om mense saam te bind en ʼn groepsamehorigheid te skep soos by rock-konserte en politieke samekomste.
Musiek laat mens positief, opgewek, energiek en goed voel, veral as ʼn persoon ʼn goeie assosiasie het met die musiek, wat dieselfde goeie assosiasies weer aktiveer.
Harde musiek blokkeer onaangename en onwelkome gedagtes, jy verplaas jou stres na die klank en sodoende verdwyn die slegte emosies. Deur jou eie harde musiek te kies, bewerkstellig jy kontrole oor jou eie persoonlike ruimte in die sin dat buiteklanke uitgeskakel word.
Harde musiek maak die oerdier in jou wakker – die veg-of-vlug-instink, maar in die mens is die adrenalien motiverend in die sin dat jy jou liggaam wil laat beweeg, hetsy op die dansbaan of in die gim. Die harde klank wat deur die liggaam vibreer, is ʼn aangename gevoel.
Musiek skep ʼn nuwe sosiale milieu waarbinne ʼn groter groep vriende of vreemdelinge met mekaar kan sosialiseer; dit skep groepkohesie deur die gesamentlike genieting of deel van musiek en lede van ʼn groep voel ingesluit wanneer die musiek hard is.
Soos by sosiale drink, verminder harde musiek inhibisies. Harde musiek, veral in nagklubs, bevorder intimiteit juis omdat geen hoorbare gesprek gehou kan word nie en ook omdat niemand kan inluister op ʼn intieme gesprek nie.
Harde musiek en klanke benadruk en bevestig ʼn persoonlike identiteit. In Australiese navorsing het manklike respondente gesê dat harde musiek of klanke manlikheid beklemtoon soos met motorklanke – wie is die manlikste? Dit skep ook die indruk van coolness. Die klank van ʼn treksaag laat jou manlik en sterk voel – dis die oerdier wat praat waar harde klanke vrees en bewing in die kudde bewerkstellig het.
Wanneer is klank nie meer veilig nie?
Klanke onder 70 dB is veilig, ʼn normale gesprek vind plaas by 30 dB.
Jou lugversorger, verkeer en grassnyer genereer 80-85 dB en twee ure se blootstelling sal skade doen. ʼn Motorfiets teen 90-95 dB vir een uur is onveilig terwyl ʼn trein of 15 minute by ʼn sportbyeenkoms in ʼn stadion jou aan 100 dB sal blootstel. Vyftien minute op jou slimfoon se oorfone teen maksimum volume van 110 dB sal ʼn gevaarlike vlak wees, terwyl 120 dB by ʼn rockkonsert jou beslis sal skade berokken.
Wat maak jy wanneer musiek of klanke nie net jou rus versteur nie maar jou fisies en geestelik affekteer?
Jou tiener kan jy ʼn gesprek mee voer en tot ʼn vergelyk kom maar wat maak jy met bure se honde, hul binnegevegte wat jy moet aanhoor, hul gereelde laatnaggefuif, hul TV, hul agterplaaswerkery?
Die wet onderskei tussen ontstellende geraas (disturbing noise), wat objektief is en wetenskaplik meetbaar is, en geraasoorlas (noise nuisance), wat subjektief is en gedefiniëer word as enige geraas wat steur, benadeel en die gerief en vrede van enige persoon affekteer.
Ontstellende geraas soos harde musiek wat deurnag speel, val onder munisipale verordeninge maar die munisipaliteit sal fokus op die desibels eerder as die tyd van die nag wat die versteuring plaasvind. Geraasoorlas is altyd onwettig en sluit in honde wat blaf, die orkes wat oefen vir vanaand se vertoning, die TV wat te hard is, masjinerie en kraggereedskap, hard praat en geskree, motors en motorfietslawaai en afskiet van vuurwerke.
Die mees koste-effektiewe manier om die geraasprobleem op te los, is om direk die geraasmaker so hoflik moontlik te benader en gesamentlik billike oplossing te vind. Indien dit geen oplossing bring nie moet ʼn skiftelike klag by die polisie gelê word. Die wetstoepassers behoort die saak te ondersoek, te bepaal hoe ernstig die klag is, aandring dat die geraas stop, ʼn boete oplê en selfs die bron van geraas verwyder.
Indien die geraas voortduur, kan jy regshulp inwin waar die oortreders weereens gewaarsku en gevra word om op te hou, of ʼn interdik kan verkry word teen die oortreders. Jy sal aan die wetstoepassers moet bewys dat jy alles gedoen het om ʼn oplossing te kry en dat die geraas jou algemene welsyn, jou gesondheid en jou lewensgehalte versuur.
Indien daar steeds geen einde aan die geraas is nie kan die buurman skuldig bevind word aan minagting van die hof en ʼn stywe boete of tronkstraf opgelê word.
Die wetstoepassers sal wel ʼn standpunt inneem dat ʼn sekere hoeveelheid ongerief en irritasie van ʼn aangrensende perseel wel verduur moet word.
Bronne
“Turn Down for What”—The Invisible Toll of Music That’s Too Loud
Pranav Trewn September 6, 2021 HEALTH BehAVIOURAL sCIENTIST https://behavioralscientist.org/turn-down-for-what/
Why do people like loud sound? A qualitative study. Welch, D., & Fremaux, G. (2017). International journal of environmental research and public health, 14(8), 908
How Loud Is Too Loud? Doctors and Club Owners on Hearing Loss and Volume By Molly Beauchemin https://pitchfork.com/thepitch/215-how-loud-is-too-loud-doctors-and-club-owners-on-hearing-loss-and-volume/
Noise – Know your rights as a neighbour
GOLEGAL Industry news and Insights. https://www.golegal.co.za/noise-nuisance-neighbourirights/Noise-Knowyourrightsasaneighbour
Oops! We could not locate your form.