Deur Melodie Veldhuizen
ʼn Groot groep Suid-Afrikaners (Afrikaans- en Engelssprekendes) is dit eens dat die situasie in ons eens vreedsame, mooi land nie meer dieselfde is as drie dekades gelede nie. Daar vind byna daagliks ongeregtighede plaas wat woede in ons gemoedere laat opvlam.
Wat lei tot hierdie woede?
Regstellende aksie, sportkwotas, morele verval, grondonteiening, naamsveranderinge van dorpe en strate en swart ekonomiese bemagtiging, asook die miskenning van ons kulturele en geskiedkundige herkoms veroorsaak wrewel. Afrikaans het sy status as amptelike onderrigtaal begin verloor en ons beleef taaldiskriminasie ook in ander sfere van ons daaglikse bestaan. Dan is daar geen of swak dienslewering, kragonderbrekings, omgewingsbesoedeling en die verval van die land se infrastruktuur. Onderwysstandaarde verswak om aan te pas by meerderheidsgroepe se willekeurige standaardverslapping. Misdaad word in alle vorme en op alle vlakke gepleeg – moord, korrupsie, kapings, inbrake, diefstal, grondbesetting en onteiening sonder vergoeding. Dan ook plaasmoorde met gepaardgaande marteling van boere wat voedsel aan alle bevolkingsgroepe voorsien, en waarvan die erns deur die regering ontken word. Blankes word voortdurend valslik van rassisme beskuldig. Kort-kort is daar stakings wat met aggressie, geweld, kwaadwillige saakbeskadiging en grootskaalse ontwrigting gepaardgaan en dikwels ernstige beserings en lewensverlies tot gevolg het.
Al die bogenoemde veroorsaak woede by individue wat persoonlik hierdeur geraak word, of wie se geliefdes en vriende slagoffers is. Omdat so baie van ons dieselfde hieroor voel, kan dit as kollektiewe woede beskou word.
Is hierdie woede geregverdig?
Navorsing identifiseer die onderstaande as die grootste oorsake van woede:
Die bogenoemde benadruk dat die redes vir ons woede wel geregverdig is.
Wat is kollektiewe woede en mag ʼn mens maar kwaad word?
Ons word almal kwaad – dis ʼn normale menslike emosie. Edward Abbey het gesê die persoon wat oor niks kwaad word nie, gee oor niks om nie.
Wat egter belangrik is, is of ons toelaat dat woede die oorhand oor ons kry, en of ons ons woede gaan oorwin. Dis een van die gevaarlikste emosies omdat daar soveel energie in opgesluit is dat dit tot geweld kan lei by individue en groepe. Dit kan menseverhoudings en mense se besittings verwoes en vernietig.
In 1893 het die Franse sosioloog Émile Durkheim sy teorie oor kollektiewe bewussyn gepubliseer. Hierin beskryf hy hoe daar in elke individu twee vorme van bewussyn bestaan, naamlik ʼn individuele bewussyn wat ons individualiteit en uniekheid beskryf, en die kollektiewe bewussyn wat gedeelde waardes, idees, en oortuiginge wat gemeenskaplik is binne ʼn groep of gemeenskap beskryf. Die kollektiewe waardes lei ook tot kollektiewe emosies, waarvan woede een is. Omdat woede algemeen as negatiewe emosie beskou word, kan dit haat en grootskaalse geweld laat posvat, soos ons by sekere groepe in ons land waarneem.
In skrille kontras met die geweld en verwoesting wat ons samelewing kenmerk, distansieer ons ons van soortgelyke gedrag. Om opruiend te raak, verwoesting te saai en mense te beseer en om die lewe te bring, gaan geen probleem oplos nie en het geen toegevoegde waarde vir ʼn vreedsame samelewing nie. Die positiewe van woede is dat dit konstruktief gekanaliseer kan word en tot aktiewe doelgerigte positiewe optrede aanleiding kan gee. Woede word ook as ʼn “kan doen-emosie” beskryf, wat ons veggees aanwakker en ons help om van die wêreld ʼn beter plek te maak. Kollektiewe woede kan ʼn gevoel van samehorigheid en gesamentlike veerkragtigheid skep. Daarom is dit noodsaaklik dat ons die negatiewe energie wat in ons woede opgesluit is, kanaliseer in optrede met gevolglike positiewe resultate.
Hoe kan ons kollektiewe woede konstruktief hanteer?
Ons verander niks aan die situasie deur net om braaivleisvure daaroor te praat, op sosiale media negatief op beriggewing te reageer, apaties te wees of te emigreer nie. Die Nobelpryswenner vir vrede, Kailash Satyarthi, moedig die kanalisering van woede in positiewe sosiale uitkomste aan, met die doel om onreg in die wêreld (ons samelewing) uit die weg te ruim, om van ons samelewing ʼn beter plek maak.
Om kollektiewe woede op een of meer van die bostaande maniere te hanteer, help mense om optimisme te bewerkstellig en vrees te besweer, om vir ʼn billike ooreenkoms te onderhandel, verhoudings te verbeter deurdat mense oor hul gevoelens van onreg praat eerder as om hul woede te onderdruk of op ʼn negatiewe manier daaraan uitdrukking te gee. Dit gaan nie noodwendig alle probleme in ons samelewing oplos of onmiddellik uit die weg ruim nie, maar ten minste kanaliseer jy jou woede konstruktief.
Bronne
Association for Psychological Science. https://www.psychologicalscience.org/observer/collective-emotions
Calgary Herald. https://calgaryherald.com/health/addressing-anger-how-to-calm-the-collective-rage-out-there
Maroela Media. https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/bly-en-bou-proaktiewe-afrikaners-in-sa/
Paul Ekman Group. https://www.paulekman.com/universal-emotions/what-is-anger
People Tweaker. https://peopletweaker.com/hcr-blog/the-positive-side-of-anger/
Susan Rosenthal. https://susanrosenthal.com/oppression/psychology-psychiatry/anger-is-the-emotion-of-injustice/
Vrouekeur. https://www.pressreader.com/south-africa/vrouekeur/20200124/281599537439863
Tips on Life and Love. https://www.tipsonlifeandlove.com/self-help/7-ways-use-anger-positive-change
Oops! We could not locate your form.