Deur Emsie Martin
Om beweeglik te wees, is eintlik ’n groot voorreg al beskou die meeste van ons dit as vanselfsprekend. Wanneer jy styf en moeilik begin beweeg, kyk mens anders na die probleem. Baie dink dadelik aan ʼn heupvervanging, maar dit is nie jou eerste opsie nie en daar kan verskeie redes vir die ongemak wees. Hier is ’n paar:
Heupartritis
Artritis van die heup is ʼn siekte wat die kraakbeen tussen die femurkop en die asetabulum laat verweer en veroorsaak dat die twee bene teen mekaar skaaf – been op been. Wanneer dít gebeur, raak die gewrig grof, verweer en ongelyk. Die gevolg hiervan is pyn, styfheid en onstabiliteit. In sommige gevalle word beenbeweging erg beperk.
Osteoartritis
Osteoartritis, wat die algemeenste vorm van artritis is, is ʼn degeneratiewe toestand. Hoewel dit meestal in pasiënte bo 50 jaar voorkom, kan dit op enige ouderdom voorkom, veral as die heup op die een of ander wyse beskadig is. Osteoartritis is gewoonlik beperk tot die groot gewigdraende gewrigte van die onderlyf, die heupe en knieë inbegrepe, maar kan ook die ruggraat en gewrigte van die bolyf aantas. Pasiënte met osteoartritis ontwikkel soms groot beenuitgroeisels, of osteofiete, rondom die gewrig, wat beweging verder beperk.
Oorsake
Daar word algemeen na osteoartritis verwys as “slytasie”-artritis. Hoewel die degenerasie by persone met vorige heupbeserings kan versnel, kom baie gevalle van osteoartritis voor waar die heup eenvoudig verslete raak of degenereer. Osteoartritis van die heup is die algemeenste rede vir ʼn heupvervanging.
Simptome
Die eerste en algemeenste simptoom van osteoartritis is pyn in die heup- of liesarea tydens aktiwiteite soos stap. Mense met heuppyn kompenseer gewoonlik deur mank te stap of gewig op die artritiese heup te verminder. Uiteindelik, namate die toestand vererger, is pyn deurgaans teenwoordig, selfs tydens niegewigdraende aktiwiteite.
Behandeling
Voordat ʼn heupvervanging oorweeg word, kan jy en jou dokter verskeie niechirurgiese opsies probeer. ʼn Gepaste gewigsverliesprogram kan voordelig wees om die spanning op die heupgewrigte te verminder. Gewigsverlies kan egter moeilik wees vir pasiënte met heupartritis aangesien die artritispyn hulle verhoed om aktiwiteitsvlakke te verhoog ten einde kalorieë te verbrand. ʼn Oefenprogram wat daarop gerig is om die sterkte en beweeglikheid van die heup te verbeter, kan gevolg word.
Gewrigsrumatiek
Anders as die “slytasie”-verskynsel by osteoartritis, is kroniese gewrigsrumatiek ʼn inflammatoriese siekte wat gewrigspyn, styfheid en swelling tot gevolg het. Die siekte lei tot erge en soms vinnige agteruitgang van veelvuldige gewrigte, wat lei tot erge pyn en verlies aan funksie.
Oorsake
Hoewel die presiese oorsaak van gewrigsrumatiek onbekend is, glo sommige kenners dat ʼn virus of bakterie die siekte kan aanwakker in mense wat ʼn genetiese geneigdheid tot gewrigsrumatiek het. Gewrigsrumatiek kom gewoonlik by middeljariges voor en is algemener by vroue.
Simptome
Die primêre simptome van gewrigsrumatiek stem ooreen met osteoartritis en sluit pyn, swelling en bewegingsverlies in. Ander simptome kan aptytverlies, koors, lusteloosheid, bloedarmoede en rumatiese knoppe (weefselknoppe onder die vel) insluit. Mense wat aan gewrigsrumatiek ly, het gewoonlik tydperke van opvlamming waartydens veelvuldige gewrigte pynlik en styf kan wees.
Behandeling
Behandeling van gewrigsrumatiek kan medikasie insluit wat doeltreffend vir die vermindering van inflammasie Is. Newe-effekte kan by die gebruik van hierdie middels voorkom. Deurlopende monitering deur die dokter is noodsaaklik.
Leefstylaanpassings
Die eerste alternatief tot heupvervanging behels leefstylaanpassings soos gewigsverlies, vermyding van aktiwiteite wat lang tye van staan of stap verg, asook die gebruik van ʼn kierie om drukking op die pynlike heup te verminder.
Oefening en fisioterapie
Oefening en fisioterapie kan voorgeskryf word om die sterkte en beweeglikheid van jou heup en onderlyfspiere te verbeter.
Antiinflammatoriese medikasie
Artritispyn word hoofsaaklik veroorsaak deur inflammasie van die heupgewrig. ʼn Vermindering van die inflammasie van die heupweefsel kan tydelike pynverligting bring en die operasie uitstel.
Niesteroïdale antiinflammatoriese middels (NSAIM’s) kan voorgeskryf word om die inflammasie wat met artritis geassosieer word, te verminder. As gevolg van die groot aantal newe-effekte van hierdie middels, moet ʼn dokter die gebruik daarvan egter noukeurig moniteeer.
Glukosamien/Chondroïtien
Twee dieetaanvullings, glukosamien en chondroïtien (algemeen beskikbaar in gekombineerde tabletvorm), kan die simptome van heupartritis verminder. Glukosamien- en chondroïtiensulfate is molekules wat natuurlik voorkom en kwessies wat met albei verband hou, word tans aktief nagevors. Dit wil egter voorkom asof persone wat hierdie aanvullings gereeld gebruik ʼn afname in hulle artritissimptome ervaar.
Indien al bogenoemde opsies uitgeput is en jou ortopediese chirurg ʼn operasie aanbeveel, kan ʼn heupvervanging uiters suksesvol wees om jou pyn te verlig en jou mobiliteit te verbeter.
Bronne
https://www.mediclinicinfohub.co.za/hip-replacement-surgery-the-facts/
Oops! We could not locate your form.