Deur Reon Janse van Rensburg
As ons regtig weet dat ons goed genoeg is, sal die woorde en menings van ander minder van ʼn houvas op ons hê.
Omtrent almal wat jy om jou ken, is besig om ʼn persoonlike stryd te stry. Vir sommige is dit ʼn privaat saak en niemand weet hulle ly nie. Vir ander word hul persoonlike of professionele stryd algemene kennis vir almal rondom hulle, of hulle dit so wil hê of nie.
Vir sommige word hul gedagtes deur hartseer en nederlaag oorweldig, terwyl ander kies om met een klein besluit op ʼn slag vir hul toekoms te veg.
Ons word elke dag wakker en moet bewustelik kies waar om ons fokus te plaas – op die probleme of die oplossings; op die verlede of die hede? Uitdaging of geleentheid? Die einde van wat was of ʼn nuwe begin?
Deur ons gedagtes neem ons die wêreld om ons in en verwerk dit. Jou ingesteldheid op die dag-tot-dag dinge kan ʼn wêreld se verskil maak in hoe jy die lewe benader. Jou ingesteldheid vorm jou gedagtes, oortuigings en ervarings, met dit wat bepaal of ons ons geluk vind en of ons suksesvol is.
Dit geld veral vir professionele persone met groot drome. As jy aan jou loopbaan werk deur aan jouself te twyfel en alles deur ʼn negatiewe lens te beskou, kan jy moontlik vir jouself die weg na mislukking voorberei. Soos wat ons werk vir dit wat ons wil hê, kan ons kanse op sukses dikwels eenvoudig in ons ingesteldheid opgesluit lê.
Die goeie nuus is dat jou ingesteldheid nie altyd rigied hoef te wees nie en dat, indien jy jou brein oefen en nie toelaat dat onbeplande hindernisse jou onderkry nie, jy kan sorg dat jou ingesteldheid positief is. Jy kan jou gedagtes op enige tydstip herskep, en as dit nodig is, kan jy kan altyd jou benadering verander.
Die lewe is vol gebeure en omstandighede wat jy nie kan beheer nie. Selfs met jou beste pogings sal jy op die pad om jou loopbaan- en persoonlike doelwitte te bereik dus onverwagte kinkels en draaie teëkom.
Daar is te veel mense wat hulself op die volgende maniere saboteer:
Jy werk hard, maar jy is net nie waar jy wil wees nie
Voel jy dat jou pogings, vaardighede en ervaring net nie benut word in die rolle waarin jy beland nie? Voel jy oorgekwalifiseerd vir jou werk of was jy al te lank by dieselfde maatskappy sonder om verder op die leer te vorder? Dit kan wees dat jy jouself onbewustelik deur jou ingesteldheid saboteer.
Jy bly soortgelyke situasies ervaar ten spyte van die verandering van werk
Dalk is jy net ongelukkig, of dalk is jy die gemene deler tussen die frustrerende scenario’s wat jy blykbaar bly teëkom. Dit is asof jy net nie daardie deurbraak kan behaal wat almal weet jou toekom nie.
As jy dus aanhou om van werk te verander, maar steeds base of spanmaats teëkom met wie jy nie oor die weg kan kom nie, moet jy jou dalk afvra of dit nie jy is wat die negatiewe energie in die mengsel inbring nie en dan moet jy dink hoe om jou benadering te begin verander.
Jy voel dikwels verontreg en dit lyk vir jou asof jy nie jou groot deurbraak kry nie
As jy dikwels voel dat die hele wêreld teen jou is, is dit ʼn geleentheid om baie eerlik met jouself te wees en te besin of jy nie dalk self groter verantwoordelikheid vir jou resultate moet aanvaar nie. Wanneer jy volle verantwoordelikheid vir jou loopbaan en ontwikkeling neem, gee jy jouself die beste geleentheid om ʼn suksesvolle en vervullende loopbaan te hê.
Jy praat op ʼn negatiewe wyse met jouself
Jou innerlike dialoog bied fassinerende insigte in jou ingesteldheid. Let op na jou gedagtes, sowel as die dinge wat jy hardop sê wanneer jy na jouself in gesprekke verwys.
Jy neem nie baie risiko’s nie
Met die regte ingesteldheid sal jy loopbaangeleenthede aangryp, ʼn sterk gevoel van selfvertroue hê en terugslae, uitdagings en mislukkings sien as geleenthede om te leer sodat jy nie bang sal wees om risiko’s te neem nie. Die teenoorgestelde geld egter ook. As jy nie eers kan onthou wanneer laas jy by die werk uitgedaag gevoel het nie, kan jou ingesteldheid jou verhoed om uit jou gemaksone te beweeg en professioneel te groei en te ontwikkel.
Om nuwe geleenthede na te streef kan ʼn ongemaklike proses wees, maar danksy die regte ingesteldheid sal jy jou vermoëns vertrou om dinge te ontdek en nuwe uitdagings aan te pak en sal jy ook jou vermoë om mislukking te hanteer, verbeter. As jy egter bang is om te misluk en ʼn bietjie verveeld wil wees eerder as om die onbekende te trotseer, kan jy uiteindelik te klein speel en op groot loopbaanbelonings uitmis.
Om jou ingesteldheid te verander, gebeur nie toevallig nie. Dit is ʼn doelbewuste besluit wat jy daagliks toepas. Ongeveer 65 000 gedagtes gaan elke dag deur ons brein en onderbewussyn. Hoewel elke gedagte nie positief is of kan wees nie, moet ons daarop let dat ons ingesteldheid teenoor ons gedagtes positief en opbouend is.
Bronne:
How to Change Your Mindset – https://7mindsets.com/how-to-change-your-mindset/
How You Can Make The Right Mindset Work For You – https://www.forbes.com/sites/forbesbusinesscouncil/2021/06/04/how-you-can-make-the-right-mindset-work-for-you/?sh=44ee67e027e2
Oops! We could not locate your form.