Deur Nico Strydom
‘n Gebrek aan energie en entoesiasme, om ongemotiveerd te wees en die gevoel dat daar niks is om na uit te sien nie is alles tekens dat jy in ‘n groef vasgevang is.
Daar kan verskeie oorsake wees hoekom mens in ‘n groef verval en volgens Ilse de Beer, ‘n sielkundige, is dit baie keer ook moeilik om vas te stel wanneer en hoe jy in die groef beland het.
“Met die onsekerheid, isolasie, finansiële spanning en algemene bekommernis wat 2020 teweeggebring het, hoef mens egter nie ver te soek vir die rede vir die groef nie.”
Die inperking weens die Covid-19-pandemie was vir baie ‘n tyd van groot introspeksie. Mense se roetines en lewenswyse het heeltemal verander en vir sommige het dit moontlik met die besef gekom dat hul werk en lewe soos hulle dit geken het, nie meer is wat hulle wil hê nie.
“Terwyl daar weer na die werklikheid teruggekeer is met die land wat deur die verskillende vlakke van die inperking beweeg het, het baie mense in ‘n groef verval. Hulle voel vasgevang in ‘n werk waarvoor hulle nie meer gemotiveer is nie,” sê De Beer.
Die inperking het ook veranderinge in die werkplek teweeggebring. “Jy het dalk ‘n kollega verloor wat weens Covid-19 afgelê is of miskien het jou rol en verantwoordelikhede by die werk verander. Jy het dalk ook ‘n salarisaanpassing gekry.”
Volgens De Beer kan ‘n gebrek aan werksekerheid en ‘n afname in die gevoel van permanensie ook bydra tot gevoelens van ontevredenheid in die werkplek en ‘n drang om te verander. “Wees egter versigtig om drastiese veranderinge te maak. Navorsing het gewys dat mens nie groot veranderinge moet maak tydens moeilike tye, tye van hartseer, rou, spanning of ontwrigting nie.”
ʼn Eenvoudige verandering in roetine kan volgens De Beer dikwels die antwoord wees om uit ‘n groef te klim. Sy het verskeie voorstelle oor hoe dit gedoen kan word.
“Verander jou werkspasie. Dit kan help om ‘n gevoel van gemak en inspirasie te bevorder. Verander jou roetine. As jy die volgorde van jou take verander, kan dit jou werk anders laat voel.”
De Beer stel ook voor dat werk nie opgehoop moet word nie aangesien dit ‘n punt kan bereik waar jy nie weet waar om te vat of te los nie. “Maak lysies en wees georganiseerd. Dit verseker dat jy binne ‘n struktuur werk wat direk bydra tot ʼn gevoel van beheer en bekwaamheid.”
Moenie probeer om ‘n klomp goed gelyk te doen nie. Dit sal volgens De Beer net daartoe lei dat jy oorweldig en gefrustreerd voel en sal dit ‘n negatiewe impak op die kwaliteit van jou werk hê. Stel ‘n skedule op en doen een taak op ‘n slag.
“Selfs klein oorwinnings by die werk sal help dat jy bekwaam en gemotiveerd voel. As jy besef dat jy in ‘n groef is, moet jy nie in die versoeking kom om te veel dinge gelyktydig te probeer doen nie, aangesien jy miskien nie die resultate gaan kry wat jy verwag nie. Maak eers net klein veranderinge om te sien wat werk.”
De Beer beveel ook aan dat jy jou vaardighede slyp deur ‘n aanlynkursus te voltooi, aangesien dit kan help om jou passie vir jou werk weer vlam te laat vat en jou selfvertroue ‘n hupstoot sal gee.
Bron:
Ilse de Beer: https://ilsedebeer.co.za/af/home/
Oops! We could not locate your form.