Deur Wilma Bedford
Die huidige generasie afgetredenes het ’n voorsprong bo die jongeres in dat hulle waarskynlik voorsiening gemaak het vir aftrede. Hulle het in hulle leeftyd waarskynlik verskeie terugslae ervaar, wat hulle meer veerkragtig maak.
Finansiële onstabiliteit, beleggingsonsekerhede, stygende lewens- en mediese koste en moontlike versorging vir ouderdomverwante siektes is tans bejaardes se grootste bekommernisse en sal ook so wees vir diegene wat voor aftrede staan.
Baie afgetredenes besit hul eie huise en het nie verbandpaaiemente nie. Hul finansies word aangevul deur ʼn neseier, ʼn pensioenfonds en mediese dekking en dit gaan beter met hulle omdat hulle nie van ʼn werk en ʼn maandelikse inkomste afhanklik is nie. Vir voornemende afgetredenes gaan dit egter fyn beplanning en ʼn kopskuif verg om ʼn gemaklike aftrede te geniet.
Die nuwe normaal gaan finansiële geletterdheid verg sodat die afgetredene stabiel en ook buigbaar kan wees, en in beheer van sy/haar finansies asook van sy/haar pensioenplan kan bly. Dit gaan ook nodig – en wenslik – wees om aftrede so lank as moontlik uit te stel, wat moontlik kan wees met tegnologiese ontwikkeling en die huidige tuiskantoortendens.
Waar afgetredenes dalk tegnologies weerstandig was, het tegnologie noodsaaklik geword om met ander in kontak te bly of om vermaak te vind. Afgetredenes sal in die toekoms telemediese dienste gebruik en hulle banksake behartig soos hulle nooit gedroom het moontlik kan wees nie. Aanlyn aankope en tuisaflewering word die norm, virtuele samesyn, aanlyn vriendskapsklubs en om video-oproepe met familie en vriende in ander lande te maak, sal die gegewe manier van kommunikasie en kontak wees.
Met inperking het baie bejaardes hul sin vir doel verloor, wat net so belangrik soos gesondheid, familie en finansies is vir ʼn vervulde afgetrede lewe, maar baie vind ʼn doel in die uitreik na en versorging van ander. Isolasie en depressie sal steeds ʼn probleem bly, maar daar is reeds ʼn bewustheid in gemeenskappe oor die emosionele welstand van senior burgers. Daar sal ook ʼn oplewing kom in innoverende idees oor hoe om die lewe vir bejaardes meer aangenaam te maak en ʼn bewusmaking van hoe om die langtermyn fisiese en sielkundige skade van Covid-19-inperkings te beperk. Covid-veilige sosiale aktiwiteite, fisiese oefeninge en maniere om gesonder lewenstyle te kweek om afwendbare siektetoestande te bekamp of te beheer sal geredelik beskikbaar wees vir seniors.
Meer mense sal tuis by kinders of familie oud word en behuising en versorging vir senior burgers sal oor herbesin moet word. Covid-19 het meegebring dat bejaardes gesegregeer en geïsoleer word, wat beide fisies en emosioneel ongesond is. Daar sal ʼn neiging wees tot meer tuisversorging, wat goedkoper is as voltydse inwoning by versorgingseenhede en wat werkskeppingsgeleenthede aan vele sal bied.
Vakansies gaan ook anders lyk, met meer tyd by familie of naweekwegbreke en, gegewe die buitensporige reiskoste en besmettingsgevaar, sal plaaslike reis oorsese reise vervang juis om besmetting te vermy. Nog ʼn normaal sal wees om bewys van inenting of ʼn Covid-vry-sertifikaat by ontspanningsplekke te toon, maar namate navorsing ontwikkel, sal dit moontlik word om sonder veel moeite vooraf tuis ʼn Covid-toets te doen.
ʼn Ander sosiale orde sal tot stand kom, geskoei op gesonde verhoudinge met familie en vriende – dié wat jy vertrou. Nie net bejaardes nie maar ook die jonger geslag gaan herbesin oor wat is prioriteit en belangrik in die lewe. Covid verskerp die idee van die mens se verganklikheid en dat die lewe kort is. Gepaardgaande hiermee besin oud en jonk oor hoe hulle hul laaste dae wil deurbring en beplan vir die sak van die gordyn. Hoe morbied dit ook al mag klink, beplanning vir afsterwe help die bejaarde om in die pylvak ʼn betekenisvolle en vol lewe te lei en help die agtergeblewenes om die persoon se dood te verwerk.
Kom in lyn met die nuwe normaal: raak finansieel geletterd en wees in beheer van jou finansies, kyk na jou eie gesondheid, raak tegnologies geletterd, beplan waar en hoe jy so ver moontlik onafhanklik wil woon en bevorder goeie verhoudinge met jou familie en vriende.
Bronne
The Impact of Covid-19 virus on South African Retirement funds
Anil Singh
https://serr.co.za/the-impact-of-covid-19-virus-on-south-african-retirement-funds
Covid-19 And The Future Of Aging: The Finances Of Retirees
https://www.forbes.com/sites/nextavenue/2020/11/12/covid-19-and-the-future-of-aging-the-
finances-of-retirees
What the New Normal for Retirement Looks Like
Maryalene LaPonsie. https://money.usnews.com/money/retirement/articles/2015/09/04/what-the-new-normal-for-retirement-looks-like
What Seniors Can Expect as Their New Normal in a Post-Vaccine World
By Bruce Horovitz August 3, 2020 https://khn.org/news/what-seniors-can-expect-as-their-new-normal-in-a-post-vaccine-world/
Oops! We could not locate your form.