Kopluise: Só maak jy!

Vrydag, April 21st, 2017

Karen van der Berg

 

Jou kind krap en krap. Haar kop jeuk. Eers dink jy dit is dalk iets anders. Maar dan sien jy dit: Kopluise!

Kopluise is iets wat elke mens kan tref, en dit is veral by die skool dat kinders met dié gediertes in aanraking kom. Verskrikte ma’s wil dan so gou moontlik ontslae raak van al wat ʼn gogga is en voel selfs skaam dat so ʼn “plaag” hulle kind kon tref.

Maar kopluise is geen skande nie, en daar is gelukkig baie raad daarvoor.

Die apteker, Karina du Toit van Klerksdorp, gee wenke.

Die eerste ding wat jy moet weet, sê Karina, is dat kopluise niks met higiëne te doen het nie. “Kopluise hou glad nie verband met swak higiëne nie. Inteendeel, hulle verkies skoon hare. Hulle kan nie spring nie, en word slegs oorgedra deur fisieke kontak.”

 

Behandel dit dadelik

Karina sê klere en beddegoed moet in baie warm water gewas word en dan in die son uitgehang word of in die tuimeldroër gesit word. Die bykomende hitte help verder om die luise dood te maak. “Almal en alles in die huis moet behandel word. Die matrasse en die matte kan ook met ʼn geregistreerde gifdoder vir luise gespuit word.”

Daar is verskeie produkte wat kan help met luise.

Deesdae word daar ál meer wegbeweeg van gifstowwe, en eerder gesteun op natuurlike produkte soos klapperolie en teeboomolie, want dit is onskadelik as dit deur die vel opgeneem word.

“Permethrin is baie gewild omdat sy toksisiteit baie laag is; absorpsie deur die vel is ook laag. Die 1-persent-oplossing kan vir kinders bo ses maande gebruik word,” sê sy. “Produkte wat teeboomolie bevat, is ook doeltreffend. Vir voorkoming kan dit by sjampoe gevoeg word – die luise hou nie van die reuk nie. Jy kan ook natuurlike produkte gebruik wat klapper-, anys- en ilang-ilang-olies bevat vir voorkoming en behandeling. Maak seker jy was borsels en kamme met baie warm water ná gebruik, anders kan besmetting weer plaasvind.”

 

Pasop hiervoor:

Volg hierdie maatreëls wanneer jy jou eie of jou kinders se hare teen kopluise behandel, sê Karina.

Enige aërosols moet altyd in ʼn goedgeventileerde area gebruik word.

Asmalyers moet die inasem van aërosols vermy.

Aërosols is baie vlambaar; moet dus glad nie rook terwyl dit gebruik word nie en bly weg van hittebronne, soos ʼn kampvuur.

Hou die luissjampoe weg van jou oë, stukkende vel en jou mond.

Volg aanwysings van enige produk noukeurig, al is dit ʼn natuurlike produk.

Maak seker die produk wat jy gebruik, is veilig vir jou kind se ouderdom. Jong kinders is byvoorbeeld sensitiewer vir party gifmiddels.

As jy ʼn gifmiddel gebruik, moenie jou kind se hare was terwyl hulle in die bad sit nie, want die gif kan ook deur die vel opgeneem word. Hou hul kop oor die wasbak of bad en spoel met ʼn beker af.

 

Voorkoming

Karina sê jy kan die volgende maatreëls volg om te keer dat jy of jou kinders luise kry.

Moenie dat kinders hoede, serpe, borsels, kussings en sagte speelgoed met maats by die skool deel as jy dink daar is luise in die omtrek nie.

Stel onmiddellik die skool of dagsorgsentrum in kennis as jy luise op jou kind se kop kry. As jy meer as een kind het en hulle is in verskillende skole, laat albei skole weet.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Skildklier en menopouse: Verwarring van simptome
Volgens die American Association of Clinical Endocrinologists (AACE) ly miljoene vroue met menopousale simptome, selfs dié wat estrogeen gebruik, dalk aan ongediagnoseerde skildkliersiekte. Hoewel simptome soos moegheid, depressie, buiwisselings en slaapversteuring dikwels met menopouse geassosieer word, kan dit ook tekens wees van skildkliertekort. ʼn Opname deur die AACE het getoon dat net een uit elke […]
Watter posisie is die beste om in te slaap?
Dit is heel waarskynlik dat daar een ding omtrent jou slaaproetine is wat redelik bestendig is. Selfs al varieer jou slapenstyd elke aand, of jy word elke oggend op verskillende tye wakker, is daar moontlik een posisie wat jy verkies om in te slaap. Ongelukkig mag die posisie wat jy die gemaklikste vind, uiteindelik gesondheidsprobleme […]
Toetse en skanderings wat jou lewe kan red
Jou gesondheid is jou grootste bate, daarom moet jy net soveel tyd aan jou gesondheid bestee as aan jou sukses en welvaart. Maar waar begin jy en wat kan jy hier en nou doen? Soos die spreekwoord lui: voorkoming is beter as genesing. Voorkoming deur middel van toetse en skanderings is nie net beter nie, […]
1 2 3 227