Deur Marli Naidoo
Die mens is inherent sosiaal en die menslike brein is bedraad om op sosiale konneksies staat te maak vir oorlewing. Die afwesigheid van hierdie konneksies aktiveer dieselfde waarskuwing as honger, dors en fisiese pyn.
Ten spyte daarvan dat mense nader aan mekaar bly en die wêreld al kleiner word, is isolasie en eensaamheid skerp aan die toeneem. Isolasie kan tot eensaamheid, wanhoop en depressie lei.
Daar is ʼn algemene wanopvatting dat eensame mense swak sosiale vaardighede het. Navorsing toon egter dat hulle sosiaal goed toegerus is, en selfs sosiale leidrade beter kan lees as baie nie-eensames.
Eensaamheid is nie ʼn hopelose toestand nie. Daar is stappe wat jy kan doen om hierdie gevoelens teen te werk en sodoende meer betekenisvolle sosiale konneksies in jou lewe te ontwikkel.
Beoefen deernis met jouself. Die feit dat jy eensaam voel, beteken nie dat daar innerlik iets fout is met jou nie. Wees liefdevol en sagmoedig met jouself. Vertel jouself ook dat jy, soos enigiemand anders, ook verdien om betekenisvolle konneksies met ander te geniet.
Raak meer betrokke by sosiale groepe. Kies aktiwiteite wat jy geniet, woon klasse by, of sluit by ʼn klub aan.
Vra jouself af watter tye jy die eensaamste voel en vind dan iets om te doen in daardie tye. Jy kan gaan stap, oefening doen, mediteer of ʼn vriendin bel.
Dink buite jouself. Vrygewigheid is ʼn natuurlike afskrikker van selfhaat, wat met eensaamheid gepaard gaan. Vind ʼn liefdadigheidsorganisasie waar jy vrywillig kan uithelp. Jy sal nie net saam met ander aan iets betekenisvol werk nie, jy sal ook aan jou selfbeeld werk, wat tot meer sosiale gedrag kan lei.
Hou op om jou met ander te vergelyk. Elke mens is waardevol en het iets om te gee. Maak ʼn lys van al jou goeie eienskappe en lees dit daagliks aan jouself voor.
Omring jouself met opregte mense wat jou opbou en jou aanvaar vir wie jy is.
Wees bewus van negatiewe gedagtes en moet hulle nie as feite aanvaar nie. Wanneer die gedagte by jou opkom dat jy byvoorbeeld nie goed genoeg is nie, dat sosiale interaksies altyd negatief is, of dat iemand stil is omdat hy vir jou kwaad is, moet jy hierdie gedagtes oorweeg, probeer verklaar, en dan jouself vertel dat dit nie noodwendig waar is nie. Gee jouself positiewe verduidelikings en verklarings om die negatiewe gedagtes te vervang.
Dit is die sleutel tot die deur wat jou weglei van eensaamheid af. Sommige mense is baie sosiaal, en gaan gereeld uit, maar is steeds eensaam. Daar is gevind dat die verandering na positiewe gedagtes waarlik ʼn verskil maak wanneer dit by eensaamheid kom.
Bronne
Psych Alive: https://www.psychalive.org/isolation-and-loneliness/
Psych Central: https://psychcentral.com/blog/5-undeniable-ways-to-stop-feeling-extremely-lonely/
Psychology Today: https://www.psychologytoday.com/us/blog/the-science-success/201010/the-cure-loneliness
Oops! We could not locate your form.