Deur Emsie Martin
Dis ʼn stryd om soggens op te staan. Party dae staan jy flink en vinnig op en kom jou energie uit ʼn onuitputlike bron. Die volgende paar dae is jy dan weer soos ʼn klimtol, dan bo en dan onder. Jy voel gedurig moeg en uitgeput. Baie mense ly jare aan ʼn bipolêre versteuring voordat hulle gediagnoseer en behoorlik behandel word.
Iemand wat bipolêr is, probeer voortdurend om sy/haar lewe te herbou, net om te ervaar hoe dit weer ineenstort.
Bipolêre versteuring kan op enige ouderdom toeslaan. Dit verskil van persoon tot persoon en daarom is individuele diagnose en medikasie nodig. Korrekte medikasie sowel as terapie is absoluut noodsaaklik om die funksionering van die breinselle te reguleer en die lewe van die lyer aan hierdie siekte draaglik te maak – presies net soos ʼn diabeet afhanklik is van insulien.
Bipolêre versteuring is ‘n diagnoseerbare sielkundige toestand wat gekenmerk word deur groot skommelinge in ‘n persoon se gemoedstoestand, vanaf uiterste depressie (lae gemoed) tot uiterste manie (uitermatige, ontoepaslike opgeruimdheid).
Bipolêre versteuring beteken “twee pole” wat in die brein aangetref word. Die twee pole verduidelik die twee toestande naamlik die hipomanies fase (oppool) en depressie (afpool).
Daar is ’n groot verskil tussen bipolêre versteuring en gewone depressie.
’n Dokter wat nie oor die nodige kennis van hierdie siekte beskik nie kan die toestand baie maklik met gewone depressie verwar.
Iemand met bipolêre versteuring ervaar die vinnige verwisseling van emosies vir dae aaneen. Tydens die gemengde episode kom op- en afpole gelyktydig voor. Die lyer is dan rusteloos en hiperaktief, maar voel terselfdertyd moedeloos en angstig. Wanneer die lyer in hierdie toestand is, moet jy liefs nie met hom argumenteer of belangrike sake bespreek nie.
Vir iemand om met bipolêre versteuring gediagnoseer te word, moet die simptome nie die gevolg wees van die misbruik van alkohol of ander middels nie en dit moet ook nie aan ‘n ander siektetoestand te wyte wees nie.
Alle mense ervaar skommelinge in hul gemoedstoestand. Dit is normaal en deel van menswees. Soms is ‘n mens byvoorbeeld ekstaties gelukkig en dan is daar ook tye in die meeste mense se lewens wat hulle baie neerslagtig en “af” kan voel. Die verskil is egter dat die persoon wat aan bipolêre versteuring ly, uitgelewer is aan chemiese skommelinge wat baie meer intens as die gemiddelde persoon s’n is.
Die simptome kan soms so intensief raak dat die persoon met bipolêre versteuring selfs kontak met die werklikheid kan verloor. Die gemoedswisseling kan dramaties en skielik plaasvind, maar in die meeste gevalle vind ‘n geleidelike oorgang plaas.
Het jy geweet?
Leef met bipolêre versteuring
Bipolêre versteuring het nie net ʼn geweldige uitwerking op die persoon wat daaraan ly nie, maar ook op diegene wat saam met hulle moet werk of hulle moet bystaan en onderskraag. Familielede word dikwels tot die uiterste beproef deur ʼn kind, ouer, broer of suster en huweliksmaats wat aan bipolêre versteuring ly. Dit is belangrik om soveel as moontlik daaroor te wete te kom om voorbereid en toegerus te wees om dit te hanteer. Ondersteuners van bipolêre pasiënte moet nie onrealistiese verwagtinge koester nie. In beide die maniese en depressiewe fases is hul gedrag buite hul beheer. Hulle is nie toerekenbaar of verantwoordelik vir hul optrede nie.
Behandeling
Vir ondersteuning kontak:
Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) besoek www.sadag.co.za
Cipla 24hr Mental Health Helpline – 0800 456 789
Adcock Ingram Depression and Anxiety Helpline – 0800 70 80 90
ADHD Helpline – 0800 55 44 33
Suicide Crisis Line – 0800 567 567
SADAG Mental Health Line – 011 234 4837
Akeso Psychiatric Response Unit 24 Hour – 0861 435 787
Solidariteit verstaan dat arbeidsverhoudingspesialiste, kantoorpraktisyns en gesondheidspraktisyns unieke uitdagings ervaar, soos byvoorbeeld om onder baie druk te werk, om persone met onder andere bipolêre gemoedsversteurings te hanteer en oor ‘n wye verskeidenheid ander inligting, kennis en vaardighede moet beskik. Daarom bied Solidariteit Beroepsgildes vir jou ‘n geleentheid om by enige van hul gildes aan te sluit. Besoek gerus die skakel https://gildes.solidariteit.co.za/ vir meer inligting.
BRONNE
https://www.sadag.org/index.php?option=com_content&view=article&id=1877&Itemid=142
https://www.wieisek.co.za/index.php/informasie/gemoedsversteurings/bipolere-versteuring
Oops! We could not locate your form.