Deur Emsie Martin
31 Mei was anti-rookdag; kom ons kyk of jy kan ophou rook! Om op te hou rook, is een van die moeilikste uitdagings om te oorkom en die meeste mense gebruik stres by die werk of tuis as verskoning om te rook. Ander gebruik dit as verskoning om ʼn tydjie af te knyp om te rook. Wat ook al jou rede, dit is sleg vir jou gesondheid.
Jy kan vir vyf of ses jaar ophou en een trek aan ’n sigaret, sommer net vir die grap, kan veroorsaak dat jy weer begin rook. Hopelik het jy al die voordele van om op te hou rook eerstehands ervaar of dalk moet jy nou ophou omdat jou dokter jou aanraai om dit te doen.
- Die globale tabak-epidemie veroorsaak die dood van bykans ses miljoen mense elke jaar.
- Meer as 600 000 hiervan is nie-rokers wat sterf as gevolg van die inaseming van tweedehandse rook.
Die lys van gesondheidsprobleme wat met die rook van sigarette verband hou, is eindeloos en sluit kanker, longsiektes, hartaanvalle, beroerte, blindheid, probleme met vrugbaarheid en verskeie ander probleme in. Die goeie nuus is dat dit nooit te laat is om op te ou rook nie en die oomblik wat jy ophou begin jou liggaam herstel.
Wat met jou liggaam gebeur as jy ophou rook:
- Ongeveer 20 minute nadat jy jou laaste sigaret gerook het, sal jou bloeddruk na ’n normale vlak daal.
- Jou bloedsirkulasie en longkapasiteit sal verbeter.
- “Rook onderdruk sommige funksies van die longe en wanneer jy ophou rook, sal jou longe ooraktief raak,” waarsku dr. Vorster, ’n pulmonoloog by Mediclinic Panorama. Party mense hoes meer en het meer afskeidings in hul longe nadat hulle ophou rook het. Aanvanklik voel jy dus slegter as toe jy nog gerook het. Jou gehoes sal geleidelik opklaar en jou gebrek aan asem sal iets van die verlede wees.
- Jou smaak sal verbeter asook jou reuksintuig.
- Die trilhaartjies in jou longe sal weer normaal begin funksioneer en help om jou longe skoon te maak.
- ’n Jaar nadat jy opgehou rook het, sal jou risiko vir koronêre hartsiektes die helfte van die van ’n rokende persoon wees.
- Vyf jaar nadat jy opgehou rook het, sal jou risiko vir kanker van die mond, slukderm en blaas met die helfte verminder.
- Jou risiko vir servikale kanker sal gelykstaande wees aan die van ’n nie-roker.
- Na twee tot vyf jaar sal jou risiko om ’n beroerte te kry gelykstaande wees aan die van ’n nie-roker.
- Tien jaar nadat jy opgehou het sal jou risiko om aan longkanker te sterf die helfte van die van ’n roker wees.
- Die risiko vir kanker van die larinks en pankreas neem ook af.
- Na 15 jaar sal jou risiko om koronêre hartsiektes te ontwikkel gelykstaande wees aan die van ’n nie-roker.
- Die verouderingsproses sal ook verstadig.
Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) verskaf 10 wenke om jou te help om hierdie gewoonte af te leer:
- Besluit op ʼn datum om op te hou rook en hou daarby.
- Gooi alles wat jou aan rook kan herinner weg, insluitende sigaretpakkies, asbakke en aanstekers.
- Drink baie water – dit sal help om die nikotien uit jou liggaam te spoel.
- Raak meer aktief. Doen gereeld oefening soos stap of draf.
- Verander jou roetine. Vermy die eerste paar dae ander rokers of dinge wat jou lus maak om te rook.
- Vertel vir jou familie en vriende dat jy probeer om op te hou rook, sodat hulle jou kan ondersteun.
- As jy opgehou het, kan jy dalk lighoofdigheid ervaar of ligte hoofpyne kry. Dis egter normaal en behoort ná ʼn dag of twee te verbeter.
- As jy bang is dat jy gewig sal optel, eet met gereelde tussenposes gedurende die dag; eet vrugte tussen maaltye en maak tyd vir oefening. Nie alle voormalige rokers tel gewig op nie.
- Moenie ʼn krisis of ʼn spesiale geleentheid as ʼn verskoning gebruik vir ‘net enetjie’ nie. Een sigaret lei na ʼn volgende, en ʼn volgende …
Alternatiewe metodes
Daar is baie ander maniere om op te hou rook. Doen navraag oor alternatiewe behandelings soos akupunktuur, hipnose en homeopatie. Baie mense gebruik nikotienplaasvervangers soos plakkers, ʼn sproei of kougom.
Het jy hulp nodig?
Kontak die Nasionale Raad teen Rook se QUIT-lyn by 011 720 3145
Sluit aan by die KANSA https://www.ekickbutt.co.za/
Die Beroepsgilde vir Verpleging is jou vennoot deur al die stadiums van jou loopbaan: hetsy jy studeer, praktiseer of regmaak vir aftrede. Binne jou professie beleef jy elke dag uitdagings, soos pasiënte met kanker veroorsaak deur rook. Die gilde is ook daar om jou te help ontwikkel en met kennis toe te rus om jou daaglikse take professioneel en eties te kan aanpak. Hulle tree ook op namens die professie deur verhoudings te bou met ander instansies wat ʼn invloed op die beroep kan uitoefen. Besoek https://gildes.solidariteit.co.za/verpleegkunde/
BRONNE:
www.cancer.org.za
www.quit.org.nz
www.Health24.com
https://www.cansa.org.za/files/2014/04/Tobacco-Campaign-2014-AFR.pdf
https://www.mediclinicinfohub.co.za/can-body-heal-smoking/