Handhaaf ʼn gesonde gewig. Dit is belangrik om te weet dat wanneer jy rugprobleme ervaar jou gewig dikwels ’n rol kan speel. Wanneer jy oorgewig is, plaas jy onnodige spanning op jou rug. Jy kan wel daarby baat wanneer jy ʼn gesonde leefstyl volg en oefeninge doen om rugpyn te voorkom.
Doen strek-oefeninge. Dit klink soms onnodig, maar dit is absoluut noodsaaklik om strek-oefeninge te doen voor en nadat jy geoefen het. Dit sal help om spanning te verlig en mag op die langtermyn beter vir jou rug wees. Dit is ook nie altyd nodig om te strek net na oefeninge nie maar jy kan sommer in jou kantoor strek of wanneer jy verveeld is by die werk.
Slaap gemaklik. Wanneer jy al raadop is oor jou rugpyn, is ’n nuwe matras dalk ’n goeie opsie om te oorweeg. Indien jy gereeld op jou rug slaap, kan dit ook rugpyn veroorsaak, daarom moet jy ’n kussing onder jou knieë plaas om spanning op jou rug te verminder terwyl jy slaap.
· Verhoog jou daaglikse vitamine D- en kalsium-inname. Volgens die Healthline-webtuiste is osteoporose ʼn hoofoorsaak van rugpyn later in ’n persoon se lewe. Daarom is dit noodsaaklik om soveel moontlik melkprodukte, eiergeel en kaas as bronne van vitamine D in te neem.
Oefen jou maagspiere. Doen oefeninge soos opsitte en “bicycle crunches”om jou maagspiere te versterk. Volgens professor Baker van Healthline.com is hierdie oefeninge noodsaaklik om rugpyn te voorkom, omdat jou maagspiere jou lae-rug ondersteun.
Rus genoeg. Wanneer jy baie aktief is by jou werk of net daarvan hou om baie te oefen moet jy in gedagte hou dat jou liggaam ook rus nodig het. Stres kan ook rugpyn veroorsaak, daarom moet jy tyd in jou dag skeduleer sodat jou liggaam ook net ’n bietjie kan rus. Wanneer jy oefen, moet jy dit rustiger neem of stop en rus wanneer jou rug begin seer word.
Gaan vir terapie. Wanneer jy al baie metodes probeer het om rugpyn te verminder moet jy dalk oorweeg om behandeling soos spinale terapie te kry. Dit verminder die druk op jou gewrigte en werk inflammasie tee. Volgens Pletcher, ’n voeding- en dieetkundige, kan hierdie terapie deur ’n chiropraktisyn gedoen word.