Deur Anja van den Berg
Werkproduksie is selde in klip gegraveer, en die meeste van ons vind onsself in getye van eb en vloed met betrekking tot professionele druk. Hoe hoër die druk, hoe meer is ons natuurlik geneig om te stres.
Stres is nie altyd sleg nie, sê ULifeline, ʼn aanlyn hulpbron vir studente se geestesgesondheid. Die meeste van ons benodig ʼn gesonde stresvlak om goed te presteer. In klein dosisse hou stres baie voordele in. Stres kan jou byvoorbeeld help om daaglike uitdagings te bowe te kom en jou motiveer om jou doelwitte te bereik. Stres kan jou help om take meer doeltreffend te voltooi. Dit kan selfs jou geheue ʼn hupstoot gee.
Ons almal moet van tyd tot tyd ekstra werk in ons produktiwiteitsvlakke insit, en die meeste van ons baat by die stresvlak wat met die stywe pas gepaard gaan. Dit is egter makliker om die pas vol te hou as jy weet die situasie is tydelik.
Nogtans werk Suid-Afrikaanse werknemers gemiddeld 43.3 ure per week, die vyfde hardste werkende land ter wêreld, sê die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO).
Byna 12% van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag werk meer as 60 ure per week. Dit is ten spyte van Suid-Afrikaanse arbeidswette wat nie meer as 45 uur per week en nie meer as 10 ure oortyd toelaat nie.
Of jy nou in die middel van ʼn tydelike intensiewe werkprogram vasgevang is, of as om al die tyd te werk jou weergawe van ‘normaal’ is, is daar ʼn paar kritieke tekens dat jy jouself te hard dryf, sê Rebecca Zucker. Zucker is ʼn uitvoerend afrigter en stigterslid van Next Step Partners, ʼn boetiek-leierskapontwikkelingsmaatskappy.
Hier volg die waarskuwingstekens waarvoor jy volgens Zucker op die uitkyk moet wees:
Jy neem (byna) nooit tyd af nie
Die eerste rooi lig dat jy jouself te hard dryf, is dat jy nooit nie, of baie selde, tyd afneem. “Om voortdurend vakansies af te stel (insluitend om te werk oor belangrike openbare vakansiedae), gereeld oor naweke te werk, of om dit af te maak om nou en dan ʼn dag af te neem te maak, is ʼn teken dat jy te veel hooi op jou vurk het,” waarsku Zucker.
Jy deprioritiseer persoonlike verhoudings
Om vir lang tydperke eksklusief op werk te fokus kom dikwels ten koste van persoonlike verhoudings. Huwelike word skade berokken, met werkholiste wat twee keer meer geneig is om te skei. Om nie tyd af te staan om met vriende en familie deur te bring nie kan ook jou welsyn benadeel. Wanneer jy met geliefdes konnekteer maar nie in staat is om jou werk geestelik af te skakel en by hulle teenwoordig te wees nie, is dit tyd om bekommerd te raak.
Jy verwaarloos persoonlike versorging
Zucker sê dat verwaarlosing van persoonlike versorging nie beteken om nou en dan ʼn stort oor te slaan wanneer jy tuis in jou sweetpak werk nie. Om slaap vir werk op te offer, maaltye oor te slaan en op te hou oefen is tekenend van ʼn ongesonde gedragspatroon. Hierdie patrone word ʼn glipperige afdraand en sal jou in die spreekwoordelike dryfsand laat beland. Hier is hoekom: gebrek aan slaap belemmer hoër-vlak kognitiewe funksies, insluitend oordeel, kritiese denke en besluitneming. Om oefening oor te slaan beteken jou liggaam sal sukkel om stres te verlaag, jou bui te verbeter en energievlakke te verhoog. Meng hierdie lysies en jy het ʼn toksiese konkoksie wat jou chronies sleg sal laat voel.
As jy nie in staat is om ʼn breër perspektief te sien nie, beide in terme van hoe jy jou waarde as ʼn persoon en die belangrikheid van werk relatief tot die res van jou lewe sien, kan ʼn teken wees dat jy jouself te hard dryf. As jy jouself na waarde ag slegs in terme van jou werk, is dit tyd om met ʼn terapeut, ʼn lewensgids of jy MH-praktisyn te gesels en hulp te vra.
Bronne:
Harvard Business Review: https://hbr.org/2020/01/are-you-pushing-yourself-too-hard-at-work
Quartz Africa: https://qz.com/africa/1282780/south-africans-are-among-the-hardest-workers-in-the-world/
ULifeline: http://www.ulifeline.org/articles/450-good-stress-bad-stress
Foto krediet: olia danilevich | Pexels
Oops! We could not locate your form.