Jy is gretig om met jou oefenroetine te begin en aan te gaan met jou dag ─ maar moenie sommer inspring nie. Om met “koue” spiere te begin oefen, kan beserings veroorsaak. Dit is belangrik om elke oefensessie met ʼn opwarming te begin en met afkoeling te eindig ─ en dit geld vir regte beginners, ervare professionele mense en almal tussenin.
Opwarming
Opwarming pomp nutriënt- en suurstofryk bloed na jou spiere na gelang jou harttempo en asemhaling vinniger word. ʼn Goeie opwarming moet 5 tot 10 minute duur en alle groot spiergroepe laat werk. Vir die beste resultate, begin stadig en tel dan spoed op. Baie opwarmingsroetines fokus op hart- en bewegingsomvangoefeninge, soos “jumping jacks” en spronge. As jy verkies, kan jy ʼn eenvoudiger opwarming doen deur op die plek te loop terwyl jy jou arms liggies swaai, of selfs op die maat van ʼn paar liedjies dans.
Afkoeling
Na jou oefensessie is dit die beste om 5 tot 10 minute lank af te koel deur ʼn reeks stadige bewegings. Dit help om spierkrampe en duiseligheid te voorkom terwyl jou asemhaling en harttempo geleidelik stadiger word. Doeltreffende afkoeling sluit ook in strekoefeninge om die spiere regdeur jou liggaam te ontspan en langer te maak en jou bewegingsomvang te verbeter. Om die meeste by hierdie oefeninge te baat, hou elke strek vir 10 tot 30 sekondes. Hoe langer jy ʼn strek kan hou, hoe beter vir jou soepelheid. Soos met die opwarming, is dit beter om van die een strek na die ander te vloei sonder om tussenin te rus.
Bron: Harvard Medical School
Oops! We could not locate your form.