Deur Dr Eugene Brink
Die samelewing is gekondisioneer om te dink die wêreld word nou regeer deur briljante en geesdriftige jong mense.
Per slot van rekening maak millenniërs ʼn toenemende deel van die arbeidsmag en bestuurskorps uit en regeer oor ʼn aansienlike deel van “Silicon Valley”. “Mark Zuckerberg was 20 toe hy Facebook van stapel gestuur het, Steve Jobs was 22 toe Apple 11 die lig gesien het, Larry Page en Sergey Brin was net 23 toe hulle met hulle navorsingsprojek Google begin het,” sê Betsy Mikel, die eienaar van Aveck, ʼn inhoudskonsultasiefirma wat spanne help om nuttige en doeltreffende produkte te vervaardig en bemark.
Die wetenskap en lewensware voorbeelde dui egter daarop dat jong mense nie altyd die toppunt van kreatiwiteit en innovasie is nie en dat ouer en meer ervare dikwels beter is. “Ons het al almal gehoor van mense wat nie sukses bereik het alvorens hulle ouer was nie, dikwels na dekades se stryd op hulle gebied. Maar ons is steeds geneig om te dink dat as inspirasie ons nie teen ʼn sekere ouderdom getref het nie, dit waarskynlik nooit sal gebeur nie – en ons sal verkeerd wees, wetenskaplik gesproke bygesê,” skryf Diana Bruk op MSN Lifestyle.
Sy wys daarop dat ʼn 2019- studie in die joernaal De Economist, dit gestel het dat kreatiwiteit ʼn toppunt bereik in jou middel-20’s of jou middel-50’s. Die navorsers het die lewensiklusse van 31 Nobelpryswenners in ekonomie geanaliseer om hulle bevindings te bereik.
“Baie mense glo dat kreatiwiteit uitsluitlik aan jongmense gekoppel word, maar in werklikheid hang dit af van watter tipe kreatiwiteit jy praat,” sê Bruce Weinberg, ʼn professor in ekonomie aan Ohio State University en toonaangewende outeur van die studie. “Ons navorsing stel voor dat die tydperk van jou kreatiwiteit minder ʼn produk is van die wetenskaplike gebied waarin jy is en meer oor hoe jy die werk benader wat jy doen.”
Volgens Weinberg het diegene wat ʼn meer konseptuele benadering tot hulle werk gevolg het en meer deurslaggewende gebruik van aannames, bewyse en vergelykings gemaak het, meer waarskynlik hulle kreatiewe toppunt in hulle jonger dae bereik. Maar diegene met eksperimentele neigings het eers later in hulle lewens spoed opgetel, toe hulle hulle enorme poel kennis gebruik het om “buite die boks” te dink.
En dit is nie slegs tot ekonomie beperk nie. Vermaarde joernalis en skrywer Malcolm Gladwell sê dit hang af van watter gebied ter sprake is. “Genialiteit, volgens die gewilde opvatting, is onlosmaaklik verbind aan vroegrypheid – om iets waarlik kreatief te doen, is ons geneig om te dink, vereis die varsheid en geesdrif en energie van die jeug.
“Sommige digters lewer hulle beste werk aan die begin van hulle loopbane. Ander doen hulle beste werk dekades later. Twee-en-veertig persent van Frost se gebundelde gedigte is na die ouderdom van 50 geskryf. Vir Williams, is dit vier-en-veertig persent. Vir Stevens, is dit nege-en-veertig persent.”
Hy onderskei ook tussen konseptuele denkers, wie se kreatiwiteit vroeg die toppunt bereik, en eksperimentele denkers, wat “tentatiewe en eksperimentele” eksplorasie beoefen wat dekades neem om die toppunt te bereik. Op sy beurt stel The New York Times se Sam Tanenhaus dit dat fiksieskrywers geneig is om vroeg hulle toppunt te bereik en dat die meeste groot romans deur mense onder 40 geskryf is.
ʼn Sielkundige by UC-Davis, Dean Simonton, het die historiometriese data oor die onderwerp versamel en dit toon die variasie teenwoordig in kreatiwiteit se toppunt. Volgens hom is digters en fisici geneig om hulle mees kreatiewe werk in hulle laat-20’s te lewer, terwyl geoloë, bioloë en romanskrywers geneig is om hulle bloeityd veel later te bereik, miskien eers in hulle laat-middeljare.
Phillip Hans Franses van die Erasmus Skool van Ekonomie het ʼn breedvoerige studie oor toppuntkreatiwiteit onderneem. Hy het byvoorbeeld 90 Nobel letterkunde bekroondes, 100 van die gewildste klassieke komponiste en 221 kunstenaars wat die mees gewaardeerde werke in die wêreld geskilder het, bestudeer. Na assessering van hulle prestasies en samevoeging van die data, het hy bevind dat die gemiddelde ouderdom vir toppuntkreatiwiteit 42 is.
Deur in gedagte te hou dat nie almal tot dieselfde ouderdom lewe nie, het hy hulle leeftyd geanaliseer en die persentasie leeftyd bereken wat hulle geleef het toe hulle hulle toppunt bereik het. Almal het ongeveer twee-derdes van hulle lewens geleef alvorens hulle hulle kreatiewe toppunte bereik het.
Bronne
Betsy Mikel, 13 September 2016, “This Is the Peak Age for Creativity, Science Says”, https://www.inc.com/betsy-mikel/this-is-the-peak-age-for-creativity-science-says.html.
Diana Bruk, 26 April 2019, “Science Says This is the Age When Creativity Hits Its Peak”, https://www.msn.com/en-us/lifestyle/lifestyle-buzz/science-says-this-is-the-age-when-creativity-hits-its-peak/ar-BBWkqWX.
Max Fisher, 16 June 2010, “When Does Creativity Peak: Youth, Middle Age, or Old Age?”, https://www.theatlantic.com/culture/archive/2010/06/when-does-creativity-peak-youth-middle-age-or-old-age/345188/.
Oops! We could not locate your form.