Deur Melodie Veldhuizen
Almal ervaar trauma op verskillende maniere. Dis belangrik om nie ons swaarkry te onderdruk of te ignoreer in ʼn naïewe strewe na optimisme nie. Deur ons trauma en die impak daarvan gering te ag of te ignoreer, ontneem ons onsself van die geleentheid om op ʼn gesonde manier uiting te gee aan ons negatiewe emosies. Sodoende verbeur ons die geleentheid om voordeel te put uit posttraumatiese groei.
Posttraumatiese groei is die positiewe sielkundige belewenis wat sommige persone ervaar na ʼn groot krisis of traumatiese verandering in hul lewe, byvoorbeeld werksverlies, ernstige siekte, die verlies van ʼn ledemaat of sintuig of die afsterwe van ʼn geliefde. Posttraumatiese groei beteken geensins dat jy jou diepe droefheid of ontsteltenis ontken nie. Dit vind gelyklopend plaas met posttraumatiese stres – ʼn mens kan nie groei indien jy nie trauma ervaar het nie. Groei is ʼn uitkoms sowel as ʼn proses.
Dit behels meer as net oorlewing en om heelhuids anderkant uit te kom. Dit beteken dat jy deur die ervaring groei, met positiewe lewensveranderende gevolge.
Wanneer vind posttraumatiese groei plaas?
Lewenskrisisse is aardskuddende gebeure en kan veroorsaak dat ʼn mens dit waarin jy nog altyd geglo het, begin bevraagteken. Dit dwing jou om anders oor jouself, ander mense en die wêreld te begin dink. Konfrontasie met ʼn traumatiese ervaring en jou poging om sin daarvan te maak kan aanleiding gee tot ingrypende verandering van denke.
Hoe algemeen kom posttraumatiese groei voor?
Nie almal wat trauma ervaar het, ervaar posttraumatiese groei nie, maar by diegene wat dit ervaar, kan dit lewenslange veranderinge teweegbring. Na beraming ervaar die helfte tot twee-derdes van trauma-slagoffers posttraumatiese groei.
Wie sal waarskynlik posttraumatiese groei ervaar?
Persone wat ontvanklik is vir nuwe ervarings en met ʼn positiewe lewensbeskouing, ʼn optimistiese ingesteldheid en ʼn toekomsgerigtheid sal die positiewe in die traumatiese ervaring kan raaksien, dit tot sy/haar voordeel benut en groei ervaar.
Posttraumatiese groei behels ʼn veel dieper ervaring as veerkragtigheid; dit verteenwoordig die vermoë tot nadenke, om te groei en om jou uitkyk op die situasie te verander. ʼn Persoon wat ʼn uitmergelende stryd teen kanker oorleef het, sal ook ander kankerlyers ondersteun in hul stryd. Hulle sal ʼn nuwe waardering vir die lewe, verbintenis tot hul lewenswaardes en ʼn sterker verhouding met hul geliefdes toon.
Hoe om posttraumatiese groei te bewerkstellig
Dis feitlik onmoontlik om te groei terwyl jy jou in die traumatiese situasie bevind. Trauma-oorlewendes kan groei bewerkstellig sodra hulle hul van die trauma kan distansieer. Net jy kan besluit of jy posttraumaties wil groei. Wanneer jy hierdie besluit geneem het, kan jy die volgende riglyne toepas:
Resultate van posttraumatiese groei
Mense wat posttraumatiese groei beleef, sal:
Wanneer posttraumatiese groei nie plaasvind nie, bestaan die gevaar dat jy lewenslank in die gevolge van jou trauma verstrengel sal bly. Dit is daarom belangrik dat jy ʼn doelgerigte besluit sal neem om, na watter traumatiese ervaring jy ook al ervaar het, te groei. Nie net tot jou eie voordeel nie, maar tot dié van almal om jou.
Bronne:
American Psychological Association. https://www.apa.org/monitor/2016/11/growth-trauma
Healthline. https://www.healthline.com/health/what-is-post-traumatic-growth#Different-responses-to-trauma
Psychology Today. https://www.psychologytoday.com/za/basics/post-traumatic-growth
Resilience. https://www.resilience.org/stories/2021-12-17/henry-david-thoreau-philosopher-of-post-traumatic-growth/
Trauma recovery. https://trauma-recovery.ca/resiliency/post-traumatic-growth/
Oops! We could not locate your form.