Suid-Afrikaanse jongmense voel dikwels negatief en bedruk oor die situasie in ons land. Werkloosheid, politiek, misdaad en korrupsie dra daartoe by dat die toekoms soos ʼn onoorkombare berg voor hulle lê. Daarbenewens worstel hulle daagliks met die akademie, verhoudingsprobleme en vele ander persoonlike uitdagings. Jy kan dalk nie jou persoonlike omstandighede of die landsituasie verander nie, maar werk daagliks doelgerig daaraan om positief te bly, al is dit ook hóé moeilik.
Leef gesond. Goeie gesondheid stel jou in staat om soggens op te staan en doelgerig die uitdagings wat oor jou pad kom die hoof te bied. Vermy dus slegte gewoontes soos dwelms, oormatige alkoholgebruik, ooreet en onverskilligheid, wat jou gesondheid kan knou. Oefen gereeld. Onthou, ʼn gesonde liggaam huisves ʼn gesonde gees.
Leef voluit en benut elke geleentheid wat die lewe jou bied. Leef jou belangstellings uit en benut jou talente. Geniet die lewe. Mens is net een maal (en ook net vir ʼn beperkte tyd) jonk.
Hou jou oë en ore oop vir geleenthede. Benjamin Disraeli het gesê: “Die geheim van sukses in die lewe is dat ʼn mens gereed moet wees wanneer jou geleentheid arriveer”.
Werk hard. Thomas Edison het gesê geleenthede gaan by die meeste mense verby omdat dit ʼn oorpak aan het en na werk lyk. Geleenthede en sukses hang af van jou bereidheid om jou moue op te rol en hard te werk.
Goeie en betroubare vriende is ʼn aanwins vir elke jongmens. Hulle sal jou opbeur, vir jou omgee, jou laat lag en die lewe die moeite werd maak. Kies vriende op wie jy kan reken vir ondersteuning en wat vir jou goeie, eerlike raad kan gee. Robert Louis Stevenson, Skotse skrywer, het gesê: “Ons is almal reisigers deur die wildernis van hierdie wêreld. En die beste wat ons kan hoop om op dié reis te vind, is ʼn goeie vriend”.
Moenie jouself met ander vergelyk nie, want dit lei tot jaloesie, depressie en ʼn swak selfbeeld. Daar sal altyd iemand beter, slimmer, mooier, suksesvoller en ryker as jy wees. Fokus op jou talente, drome en doelwitte en woeker daarmee. Wees die beste mens. Jy het reeds alles wat jy moet hê – fokus dus op jou drome en doelwitte.
Humorsin. Om te lag, is goed vir die gees. Leer om die humor in situasies te sien, maar waak teen ligsinnigheid.
Behou jou geloof. Dit is ʼn wonderlike bron van krag en hoop in moeilike tye en ʼn bron van inspirasie en hoop vir die toekoms.
Maak ʼn verskil. Wend jou talente en kennis aan om van hierdie wêreld ʼn beter plek te maak. Moenie net wil ontvang nie, wees bereid om ook te gee.
Maak te alle tye die regte keuses. Weet wanneer om “ja” te sê en wanneer om “nee” te sê. Gryp geleenthede aan, maar stel ook die grense. Moenie ander mense blameer vir verkeerde besluite nie; aanvaar verantwoordelikheid vir jou keuses.
Drome en doelwitte gee rigting aan jou lewe. Besluit waarheen jy met jou lewe wil gaan en wat jy wil doen en pak die bul by die horings. Deel jou drome en doelwitte met ʼn betroubare vriend(in) of familielid wat jou kan aanmoedig en motiveer wanneer jy moedeloos of negatief raak.
Niemand is perfek nie, almal maak soms foute – so, dis onnodig om te tob oor jou mislukkings en foute.
Praat met iemand wat jy kan vertrou oor jou vrese, bekommernisse of ontsteltenis.
Aanvaar terugslae as een van die onvermydelike dinge in die lewe en dat dit iets is wat jy kan oorbrug.
Sien jouself as ʼn oorwinnaar eerder as ʼn slagoffer. Besluit doelbewus om die positiewe in ʼn situasie te neem en sien dit as ʼn groeigeleentheid.
Wees vriendelik teenoor die mense rondom jou. Jy sal verras wees oor hoe dit jou ook beter laat voel, ondanks jou oënskynlik haglike situasie.
Stel ʼn dankbaarheidslysie op – daar is dikwels meer in jou lewe om voor dankbaar te wees as wat daar negatiewe dinge is wat jy tans beleef, selfs al is jy net dankbaar vir die voorreg om te leef.
Onthou dat dit normaal en deel van die lewe is om soms ongelukkig, bekommerd en negatief te voel.
Dinge sal weer beter raak, dit neem dit soms langer as wat jy dit sou wou hê.
Bronne
Dr. ST Potgieter. Pitkos. 5/12/2019. Boodskap vir jongmense. Tel: 021 949 5007; Selfoon: 083 227 3683; E-pos: st@pitkos.co.za