Karen van der Berg
Almal het dit al gesien. Daardie opsigtelike blou spatare wat soms baie duidelik op mense se bene voorkom. Spatare hou meestal nie ʼn gesondheidsrisiko in nie. Tog is dit nie iets wat ignoreer moet word nie.
Wat presies is dit, wat veroorsaak dit en moet dit behandel word?
Dr Andries Nel, ʼn dokter in Pretoria, sê spatare word veroorsaak deur die opdamming van bloed en word oor die algemeen veroorsaak wanneer jy lank sit en/of staan. Ander noemenswaardige oorsake is “vetsug, rook, ’n gebrek aan oefening en hormonale geboortebeperking”.
“Vir die meeste mense is spatare ʼn groot kosmetiese probleem. Veral vroue wat lig van gelaatskleur is, voel innig skaam daaroor, daarom word dit behandel. Gewoonlik is dit nie iets om oor te bekommer nie, maar spatare moet ook nie noodwendig geïgnoreer word nie.”
Hy sê spatare word deur moegheid van die bene, swelling en algemene ongemak veroorsaak.
“Dit kan ook ʼn waarskuwingsteken van langtermyn-gesondheidsrisiko’s wees, waaronder bloedklonte, swak sirkulasie en beenswelling,” sê Nel.
Wanneer moet jy ʼn dokter raadpleeg?
“Dit is altyd ʼn slim plan om ’n dokter te gaan sien, wanneer jou bene swaar of seer voel aan die einde van die dag. Raadpleeg ook ʼn dokter indien die spatare baie uitstaan en sensitief is wanneer jy daaraan raak.”
Swangerskap en spatare
Nel sê swangerskap veroorsaak toenemende druk teen die hoofaar wat bloed van die onderste helfte van die liggaam dreineer. In sekere liggaamsposisies kan die fetus die bloedvloei versper. “Die ekstra produksie van hormone gedurende swangerskap veroorsaak ook dat die gladde spier van die are ontspan, wat hul stoorkapasiteit én geneigdheid om uit te sit vergroot. Dit vergroot weer die risiko van spatare en spinnekopare.”
Voorkoming
Nel sê oefening is beslis die beste manier om probleme met are te keer. Voeg dit dus by jou lys redes om te oefen of meer trappe te klim. Eenvoudige toonopdrukke kan help. “Versterk en oefen jou kuitspiere regdeur die dag deur jouself eenvoudig op die bal van jou voete op te druk en weer te laat sak.”
“Daar is geen bewese manier om die voorkoms daarvan te verminder nie, behalwe professionele behandeling, hoewel sommige pasiënte grimering gebruik om prominente are te bedek.”
Hy sê daar is tog maniere om pynlike simptome te verlig:
“Kompressiekouse of sykouse in kniehoogte, dyhoogte en middelhoogte groottes kan gedra word.”
Hy sê mense voel dikwels spatare is ʼn onbenullige toestand en mens het nie werklik rede om ʼn dokter daaroor te raadpleeg nie.
“Jy ken jou liggaam die beste. Indien dit vir jou ʼn verleentheid is, of as jy dink dit kan moontlike gesondheidgevare vir jou inhou, is dit altyd raadsaam om met jou dokter daaroor te gesels.”
Oops! We could not locate your form.