Arbeidsterapie vir kinders is ’n veld waaroor talle mites bestaan: Dis onwetenskaplik; net “dom” kinders het dit nodig; dis ’n geldmaakfoefie. Dit is jammer dat meer ouers met doodgewone kinders nie besef watter waarde dit tot enige kind se ontwikkeling kan voeg nie. Susan Lombaard het met Elrika Borcherds en Lauri Fraser, twee arbeidsterapeute van Centurion, gesels.
“Nicolene was van kleins af ’n uitblinker. Sy het vlot gepraatvoor sy twee jaar oud was, was ’n uitstekende swemmer, was baie sosiaal en gewild by haar maatjies, en was ’n slim, voorbeeldige kind in die kleuterskool,” vertel Monica Maritz van Potchefstroom.
“Ons het al die matriek onderskeidings getel en begin stry oor watter universiteit sy gaan bywoon, toe ons kaartehuis skielik ineentuimel. Want toe sy graad R tref, loop dinge skielik skeef. Ons vrolikemeisiekind is skielik neerslagtig en huilerig, en sukkel om nuwe maatjies te maak. Sy skop haar hond, klap haar deur toe, maak haar bed nat en is angsbevange om skool toe te gaan. Toe dié ‘aanpassingsprobleme’ ná ’n maand erger word, was dit tyd om die feite in die oë te kyk: Iewers was groot fout.”
’n Arbeidsterapeut het bevind dat Nicolene opverskeie terreine ’n geringe ontwikkelingsagterstand het. Omdat sy van nature slim is, kon sy gemaklik opkleuterskool en tussen ’n kleiner groepie maatjies vir dié agterstande vergoed sonder dat enigiemand iets agtergekom het. Toe sy egter in die groter graad R groep moes funksioneer, het dinge te moeilik geraak. Sy moes so vinnig moontlik met ’n reeks van 40weeklikse arbeidsterapiesessies begin sodat sy ’n entjie voor haar verwagte ontwikkelingsvlak kon wees wanneer graad 1 aanbreek.
Wat is arbeidsterapie?
Elrika Borcherds is ’n arbeidsterapeut wat al in ’n paar lande in verskeie velde van arbeidsterapie gewerk het. Sy het tans ’n praktyk in Centurion saam met Lauri Fraser, ook ’n arbeidsterapeut met bewese ondervinding en ’n hart vir kinders. As jy met Elrika en Lauri gesels, kom jy gou agter dat ’n arbeidsterapeut veelmeer doen as om mense wat in ’n ongeluk was weer te leer loop. En as jy tyd deurbring in dié praktykwaar hulle hoofsaaklik op kinders fokus, besef jy dat elke terapiesessie vir die kinders wat hier instap ’n uur van pret, kreatiwiteit en grense verskuif binne ’n veilige omgewing is. Speel-speel leer op sy beste.
’n Arbeidsterapeut skop enige terapie af met ’n evaluasie om te bepaal wat die doelwitte met die individu se behandeling is, en stel dan ’n geïndividualiseerdeterapieprogram saam om by hierdie doelwitte te kan bereik. Daar is twee kernelemente van so ’n program: Die pasiënt is deurgaans deel van die behandelingsproses, en die terapeut volg ’n holistiese benadering om die pasiënt se uitdagings op ’n intellektuele, fisieke en emosionele vlak aan te pak. Indien ’n persoon wat byvoorbeeld graag houtwerk doen in ’n motorongeluk was, sal die arbeidsterapeut ná die tydsaam met die pasiënt sekere houtwerktake aanpak (byvoorbeeld ’n stoel maak) wat op verskeie vlakke terapeuties is: Die pasiënt moet rek en strek omgereedskap by te kom; sy werkomgewing word só opgestel dat die gebruik daarvan sy spiere versterk; hy herwin verlore vaardighede; én hy produseer iets wat sy selfvertroue bou en emosionele skade herstel.
Daar is verskillende soorte arbeidsterapie, waarvan terapie vir babas, kinders en kleuters slegs eenafdeling is.
Terapie vir pienkvoete
Arbeidsterapie vir babas is gerig op kinders van geboorte (dikwels premature babas) tot twee jaar. Die terapeut fokus op die bereiking van ontwikkelingsmylpale, voeding en sensoriese sisteme. Babas begin heel eerste met hul tassintuig kommunikeer, en veral premature babas mis dikwels uit op dié fase vanontwikkeling as hulle vir ’n tyd ná geboorte in neonatale sorg was en nie deur hul ma vasgehou is nie. Mylpale by babas word baie ruweg bepaal – hulle sit, kruip en staan op verskillende ouderdomme. Dit maak dit vir ouers en selfs terapeute soms moeilik om te bepaal of ’n kind terapie nodig het, en of hy dalk net stadiger as sy maatjies mylpale bereik.
“Tog kan ’n mens gewoonlik al van baie klein afsien as daar iets ernstig fout is,” sê Elrika. “Ons kykgewoonlik of ’n kleintjie se reflekse normaal of abnormaal teenwoordig is. ’n Baba het byvoorbeeld ’n suigrefleks om te kan drink en ’n natuurlike gryprefleks. In ’n stadium moet dit dan deur willekeurigebewegings oorgeneem word.
“Indien hierdie of enige ander mylpaal nie op die regte tyd bereik is nie, soek ons die oorsaak daarvan: spiertonus, spierkrag, visie, die vestibulêre stelsel (tas), en so meer.”
Boublokkies vir kleingoed
Peuters en kleuters het egter baie meer spesifiekemylpale wat in ’n spesifieke volgorde bereik moet word. Hierdie mylpale werk soos boublokkies wat opstapel. Indien enige van hierdie blokkies nie in plek is nie, verswak dit die struktuur, wat beteken dat dit later kan ineentuimel indien daar te veel druk op die struktuur geplaas word.
As al dié stappe in ag geneem word, het dit sin as mense sê aktiwiteite soos kruip, balspel en touspring is belangrik vir ’n kind se wiskundevaardighede in later jare!
Stap vir stap tot by geniaal
Wanneer ’n kind terapie ontvang, word vaardighede in ’n baie spesifieke volgorde ontwikkel, vertel Elrika. “Alles wat ’n kind leer, word eers kinesteties geleer; dan driedimensioneel; dan tweedemensioneel en, uiteindelik, hoër kognitief. Terapie sal dus altyd ’n kind se vaardighede in hierdie volgorde ontwikkel.”
Intelligensie teenoor stimulasie
“Arbeidsterapie het niks met intelligensie te doen nie,” verduidelik Lauri. “Jy word met ’n sekere intellektuelevermoë gebore, maar dan moet dié potensiaal ontwikkel word. ’n Kind met ’n laer IK wat optimale stimulasie kry, kan later beter presteer as ’n kind met ’n hoër IK wat nie optimaal gestimuleer is nie.”
Sal ’n kind wat ná terapie “voor” sy maatjies is, nie verveeld wees in die klas nie?
“Kinders wat verveeld lyk in die klas, is dikwels kinders by wie die grondslag van leer nie goed gevorm is nie. Hulle sit en rondkyk omdat hulle nog nie die hoër kognitiewe begrippe waarmee die onderwyserbesig is, onder die knie het nie en dus sukkel om te fokus. ’n Kind wat, in terme van ontwikkeling, danksy arbeidsterapie twee of drie jaar voor symaatjies is, luister graag in die klas en is geïnteresseerd in wat sy of haar onderwysers sê.”
Karate, dans of swem?
Watter buitemuurse aktiwiteite is, vanuit ’n arbeidsterapeutiese oogpunt, die beste vir ’n kindse ontwikkeling?
Vir dogtertjies is dans (soos ballet en hip-hop) en gimnastiek van die beste aktiwiteite. Dit ontwikkelonder meer posturele stabiliteit, konsentrasie, motoriese beplanning, dissipline, spierkrag en bilaterale integrasie.
Seuntjies kan karate, judo, stoei en gimnastiek aanpak – dit hou dieselfde voordele in as dans virdogtertjies. Balvaardighede soos tennis is ook sinvol. Perdry en swem is goeie aktiwiteite, maar het beperkings vanuit ’n arbeidsterapie-oogpunt. Perdry verrig wel wondere in terapie metgestremde kinders.
Aandagafleibaarheid
Volgens Elrika word kinders dikwels met aandagafleibaarheid gediagnoseer, waarvoor medisyne voorgeskryf word. Dis egter dikwels onnodig. “’n Kind wat ’n ontwikkelingsagterstand het, se konsentrasie is swak. Soos ’n kind se ontwikkeling tydens terapievorder, verbeter sy konsentrasie meestal vanself, sonder dat mediese ingryping nodig is.”
Daar is wel gevalle waar die probleem neurologies is, en dit sal deur ’n pediatriese neuroloog of psigiater gediagnoseer en met medikasie behandel kan word, sê sy
Vir ’n langer weergawe van hierdie artikel, gaan na www.gesondheid.maroelamedia.co.za en soek vir “arbeidsterapie”. Elrika Borcherds en Lauri Fraser is arbeidsterapeute met ’n praktyk by Stimustation in Doringkloof, Pretoria. Kontakgerus vir Elrika by ekka@misava.co.za of Lauri bylaurioos@gmail.com.
Oops! We could not locate your form.