Deur Dr. Eugene Brink
Deur die jare is daar altyd ʼn bestendige stroom nuus oor beroemde middeljarige mans wat gans te jonk sterf – om nie te praat van die ongepubliseerde gevalle van dié wat nie so beroemd is nie.
Byvoorbeeld, die voormalige Australiese draaibouler Shane Warne is hierdie jaar oorlede op die ouderdom van 52 nadat hy voor sy dood borspyn ervaar het. Ander sluit in die Sopranos-ster James Gandolfini en die akteur Luke Perry – albei in hulle vroeë vyftigs toe hulle gesterf het.
Alhoewel Covid-19 gedurende die afgelope twee jaar ʼn rol in baie van hierdie sterftes kon gespeel het – aangesien mense bo 45 aan ʼn groter risiko blootgestel is om die virus ten prooi te val – verduidelik dit nie die langer-termyn tendens nie. Daar is vir seker ander faktore wat die risiko van middeljarige mans wat sal sterf, verhoog – en dit is nie noodwendig roekelose gedrag en ongelukke nie, wat hoofsaaklik die geval met jonger mans is.
Hartkwale
In 2019 het die VS Sentrum vir Siektebeheer en -Voorkoming (CC) onthul dat 357,761 Amerikaanse mans aan hartsiektes gesterf het, wat een in vier manlike sterftes verteenwoordig. In 2016 het bykans ʼn kwart van Amerikaanse mans aan hartsiektes gesterf – wat die hoofoorsaak was. ʼn 1984-studie het bevind dat 23% van sy afgestorwe middeljarige Sweedse manlike deelnemers aan hartsiektes gesterf het – wat ʼn teken is van die blywende risiko daaraan verbonde.
“Hartsiektes is ʼn term wat baie spesifieke harttoestande insluit. Volgens die CDC is koronêre hartsiekte, wat hartaanvalle kan veroorsaak, die algemeenste hartsiekte in die VSA. Ander harttoestande sluit in borspyn bekend as angina, hartversaking en onreëlmatige hartklop bekend as aritmie,” sê die Illinois Departement van Openbare Gesondheid.
Volgens statistieke ontwikkel mans tipies hartsiektes 10 tot 15 jaar voor vroue en is dus meer geneig om in hulle fleur daaraan te sterf. ʼn Kwart van alle sterftes te wyte aan hartsiektes kom voor in mans tussen die ouderdomme 35 en 65.
Warne en Gandolfini se afsterwe kon ook te wyte gewees het aan hartsiektes, alhoewel daar ook ʼn paar verswarende faktore aanwesig was, aangesien beide rokers was. Nogtans is hartsiektes in al hul gedaantes en vorms kategories ʼn leidende risiko vir sterftes onder middeljarige mans.
Kanker
Kanker bly steeds ʼn enorme risiko vir middeljarige mans, alhoewel moontlik ʼn dalende een op ʼn proporsionele of selfs absolute basis. Alhoewel afkomstig uit verskillende lande, het die 1984-studie se data aangedui dat 28% van die afgestorwe deelnemers aan kanker oorlede is, maar die CDC se meer onlangse syfers dui aan dat dit in belangrikheid afgeneem het teenoor hartsiektes.
ʼn CDC-verslag van 2019 het bevind dat die persentasie VSA-volwassenes tussen die ouderdomme 45 en 60 wat aan kanker dood is, sedert 1999 geleidelik gedaal het. Daarteenoor is die gedeelte van middeljarige persone wat aan hartsiektes sterf sedert 2011 besig om te styg.
Die verslag het bevind dat hartsiektes en kanker die twee leidende oorsake van middeljarige sterftes in die VSA is, wat vir ongeveer die helfte van alle sterftes in hierdie ouderdomsgroep verantwoordelik is. Die Illinois Departement van Openbare Gesondheid lys kanker ook as die tweede grootste risiko vir middeljarige mans ná hartsiektes.
Dit word aanbeveel dat mans op 45 of selfs vroeër met voorkomende gesondheidsondersoeke begin, veral as daar ʼn familiegeskiedenis van kanker is of ander risikofaktore presenteer. Dit is veral van toepassing op kolon-, kolorektale, prostaat- en longkanker. Rook, alkoholmisbruik, hipertensie, obesiteit, ʼn sedentêre leefstyl, gebrek aan oefening en ʼn swak dieet is ongetwyfeld bydraende faktore tot karsinogene sterftes onder middeljarige mans.
Bronne
Advisory Board. 2019. Charted: Middle-aged cancer deaths are falling—even as heart disease deaths are on the rise. https://www.advisory.com/daily-briefing/2019/05/29/cancer-heart-disease.
CDC. 2016. Leading Causes of Death – Males – All races and origins – United States, 2016. https://www.cdc.gov/healthequity/lcod/men/2016/all-races-origins/index.htm.
Illinois Department of Public Health. 2022. Top 10 Causes of Death in Men. https://dph.illinois.gov/topics-services/life-stages-populations/mens-health/top-10-causes-death.html.
https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/20742237/
Oops! We could not locate your form.