Toetse en skanderings wat jou lewe kan red

Vrydag, April 21st, 2017

Jou gesondheid is jou grootste bate, daarom moet jy net soveel tyd aan jou gesondheid bestee as aan jou sukses en welvaart. Maar waar begin jy en wat kan jy hier en nou doen? Soos die spreekwoord lui: voorkoming is beter as genesing. Voorkoming deur middel van toetse en skanderings is nie net beter nie, dit is ook meer kostedoeltreffend.

 

Die 3VIER50-verhouding

Vier chroniese siektes is verantwoordelik vir meer as 50% sterftes wêreldwyd. Hierdie siektes het drie hoofrisikofaktore: ʼn swak dieet, gebrek aan fisiese aktiwiteit en tabakgebruik. Dit beteken as jy hierdie risiko’s takel, voorkom jy dat die siektes begin ontwikkel en is daar geen nodigheid vir wonderwerke of duur medikasie nie. Die Oxford Health Alliance het die 3VIER50-inisiatief begin om hierdie belangrike kennis te deel en lewens te red.

 

Maklike stappe om jou gesondheidsrisiko’s te verminder

Daar is bewys dat vyf porsies vrugte en groente gesondheidsrisiko’s soos volg verminder:

  • kardiovaskulêre siektes met 28%;
  • tipe 2-diabetes met 24%; en
  • sommige maagkankers met 20%.

Net 30-60 minute se fisiese aktiwiteit vyf keer per week verminder gesondheidsrisiko’s soos volg:

  • kolon- en borskanker met 20% tot 40%;
  • beroerte met 25% tot 30%;
  • hartvatsiektes met tot 50%; en
  • diabetes met 30% tot 50%

 

10 lewensreddende toetse en skanderings

Vroeë opsporing is die sleutel tot die voorkoming van die meeste siektes, selfs potensieel dodelike siektes soos kanker, beroerte en hartsiektes.

Waarvoor toets ʼn mens?

1. Hoë bloeddruk kan sonder enige waarskuwing hartaanvalle of beroertes veroorsaak en dit kan lei tot nierversaking.

Bloeddruk – hoe hard die bloed teen die wande van jou are stoot terwyl dit deur jou liggaam beweeg – word gemeet in millimeter kwik (mm Hg). Normale bloeddruk vir ʼn volwassene is onder 120/80 mm Hg. Hoë bloeddruk (hipertensie) is 140/90 mm Hg of hoër.

2. Hoë cholesterol kan veroorsaak dat plaak jou are verstop. Jy kan skielik ʼn hartaanval of beroerte kry sonder dat jy enige simptome gehad het.

ʼn Cholesteroltoets sal jou totale bloedcholesterol, LDL (“slegte” cholesterol), HDL (“goeie” cholesterol) en trigliseriede (bloedvet) meet.

3. Tipe 2-diabetes is ʼn algemene toestand. Tog weet baie mense nie eens dat hulle dit het voordat dit tot hart- of niersiekte, beroerte, blindheid of ander ernstige probleme lei nie.

ʼn Vastende plasma-glukosetoets en ʼn A1C-toets word algemeen gebruik om vir diabetes te toets. Hierdie toetse verskaf inligting oor die glukosevlak in jou bloed, ook bloedsuiker genoem.

4. Liggaamsmassa-indeks (BMI) is ʼn hulpmiddel om jou te help om jou liggaamsgewig in verhouding tot jou lengte te verstaan. BMI is ʼn goeie voorspeller van siekte, omdat oortollige liggaamsvet die risiko van hartsiektes, kanker, diabetes en beroerte verhoog.

5. Velkanker het baie vorme en vroeë behandeling is doeltreffend vir almal. Laat jou vel deur jou dokter of ʼn dermatoloog ondersoek. Wees op die uitkyk vir enige veranderinge in die vorm, kleur en grootte van jou moesies en sproete.

6. Oogtoetse toets nie net jou visie nie; dit is ook belangrik om vroeë tekens van diabetes en gloukoom op te tel. Laat jou oë van die ouderdom van 40 af gereeld getoets word en elke 6 tot 12 maande na 65.

Roetine-oogtoetse sluit die volgende in:

  • tonometrie (meet die druk binne-in die oog);
  • oftalmoskopie (ondersoek die vorm en kleur van die optiese senuwee);
  • perimetrie (ondersoek die volledige gesigsveld);
  • gonioskopie (kontroleer die hoek waar die iris en die kornea bymekaarkom); en
  • pachymetrie (meet die dikte van die kornea).

7. Kolonkanker is die tweede algemeenste oorsaak van kankerdood naas longkanker en is in meer as 90% van gevalle geneesbaar indien dit betyds opgespoor word.

Tydens ʼn kolonoskopie word ʼn kolonoskoop in die rektum geplaas en deur die dikderm gestoot. Die prosedure duur 30 minute tot een uur. Laat van die ouderdom 50 af gereeld ʼn kolonoskopie doen. As een van jou ouers of ʼn broer of suster dikdermkanker gehad het, moet jy gereeld ʼn kolonoskopie laat doen van 10 jaar voor die ouderdom waarop die familielid gediagnoseer is.

8. Prostaatkanker is naas velkanker die algemeenste kanker wat onder mans gevind word. Die siekte kan met skanderings opgespoor word selfs voordat simptome ontwikkel; behandeling is dan ook die doeltreffendste.

Daar is twee maniere om vir prostaatkanker te toets:

  • ʼn digitale rektale ondersoek; of
  • ʼn prostaat-spesifieke antigeentoets (PSA) wat die vlak van PSA (ʼn proteïen wat deur die prostaatklier geproduseer word) in die bloed meet.

Begin PSA-toetse op die ouderdom van 50, maar as jou pa of broer prostaatkanker het of gehad het, moet jy vroeër (40 tot 45) begin.

9. Borskanker beïnvloed beide mans en vroue, maar is naas velkanker die algemeenste kanker wat onder vroue voorkom.

Vanaf 40 moet vroue elke jaar ʼn mammogram laat doen om vir borskanker te skandeer. As die mammogram enige afwykings optel, moet jy dalk ʼn bors-sonar of bors-MRI laat doen.

10. Servikale kanker is die maklikste vroulike kanker om te voorkom met gereelde Papsmere. Die Papsmeer en HP-toets (vir menslike papilloomvirusse) word gebruik om servikale veranderinge, wat tot servikale kanker kan lei, op te spoor. Die Papsmeer word aanbeveel vir alle vroue tussen 21 en 65.

 

Bron: Discovery Health

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Skildklier en menopouse: Verwarring van simptome
Volgens die American Association of Clinical Endocrinologists (AACE) ly miljoene vroue met menopousale simptome, selfs dié wat estrogeen gebruik, dalk aan ongediagnoseerde skildkliersiekte. Hoewel simptome soos moegheid, depressie, buiwisselings en slaapversteuring dikwels met menopouse geassosieer word, kan dit ook tekens wees van skildkliertekort. ʼn Opname deur die AACE het getoon dat net een uit elke […]
Watter posisie is die beste om in te slaap?
Dit is heel waarskynlik dat daar een ding omtrent jou slaaproetine is wat redelik bestendig is. Selfs al varieer jou slapenstyd elke aand, of jy word elke oggend op verskillende tye wakker, is daar moontlik een posisie wat jy verkies om in te slaap. Ongelukkig mag die posisie wat jy die gemaklikste vind, uiteindelik gesondheidsprobleme […]
Toetse en skanderings wat jou lewe kan red
Jou gesondheid is jou grootste bate, daarom moet jy net soveel tyd aan jou gesondheid bestee as aan jou sukses en welvaart. Maar waar begin jy en wat kan jy hier en nou doen? Soos die spreekwoord lui: voorkoming is beter as genesing. Voorkoming deur middel van toetse en skanderings is nie net beter nie, […]
1 2 3 227