Deur Nico Strydom
Tegnologie het ‘n integrale deel van ons lewens geword maar dit is belangrik om nou en dan ‘n blaaskans te vat en na jou digitale welstand om te sien.
Die Covid-19-pandemie het tot gevolg gehad dat ons nou selfs meer afhanklik van tegnologie is as voorheen. Virtuele vergaderings het die norm geword en dit het tot gevolg dat ons amper altyd aanlyn en gekoppel moet wees.
Die afhanklikheid van tegnologie kan egter ‘n impak op jou geestesgesondheid hê en dit kan ook jou interpersoonlike verhoudings beïnvloed. Google het wenke oor hoe jy kan begin om gesonde verbruiksgewoontes rakende tegnologie te ontwikkel.
Verminder jou skermtyd op digitale toestelle. Met mense wat deesdae meer gereeld by die huis is en die feesseisoen wat voorlê, spandeer mense meer tyd op skerms. Dit is egter belangrik om grense te stel, soos om byvoorbeeld nie elke keer op jou digitale toestel te loer wanneer jy ‘n boodskap kry nie. ‘n Manier om dit te doen is om jou foon se moenie-steur-funksie aan te skakel sodat boodskappe weggesteek word en jy dan later weer kan opvang.
Dit is maklik om vir ure lank op jou selfoon doenig te wees, hetsy deur video’s te kyk, speletjies te speel of op sosiale media bedrywig te wees. Dit kan tot gevolg hê dat jy ander dele van jou lewe afskeep, so dit is belangrik om jou selfoongebruik te beperk.
Skakel af wanneer jy bed toe gaan. Tegnologiegebruik voor bedtyd kan jou slaap beïnvloed en daartoe lei dat jy nie ‘n goeie nagrus kry nie. Jy kan byvoorbeeld jou skerm se lig reeds vroeër die aand sagter stel en eerder ‘n boek lees wanneer jy in die bed klim.
Dit is belangrik ‘n gesonde werk-lewe-balans te handhaaf. Koester gesinstyd en maak seker dat niemand dan op hul digitale toestelle is nie. Eet almal saam en sit die selfone eers eenkant. Maak ook seker dat jy nie jou foon te veel by die werk gebruik nie – dis nou vir aktiwiteite wat nie werksverwant is nie. Jy kan byvoorbeeld jou e-pos op jou foon só stel dat jy net belangrike boodskappe ontvang.
Dit is belangrik om bewus te wees van jou verbruiksgewoontes aangesien dit al manier is om te besef of jy te veel tyd op jou digitale toestelle deurbring en om dan daadwerklike stappe te doen om na jou tegnologiese welstand om te sien.
Bron:
Google Africa: https://africa.googleblog.com/
Oops! We could not locate your form.