Vererger stres my diabetes?

Vrydag, April 21st, 2017

Dit wil deesdae voorkom asof stres moeilik vermy kan word. Werk- of studiedruk, kommer oor jou gesin en finansies is algemene stressors wat baie van ons op ʼn daaglikse basis in die gesig staar. Stres val in twee kategorieë: emosioneel, soos die beëindiging van ʼn verhouding, of fisies, soos om ʼn griepaanval te bowe te kom.

Studies het ook al getoon dat om met diabetes te leef op sigself ʼn stressor kan wees. ʼn Internasionale studie getiteld Diabetes Attitudes, Wishes and Needs (DAWN) het aangedui dat die meerderheid diabete gevind het dat om met diabetes te leef, veeleisend en stresvol is. Een derde van die respondente het hulle algehele welstand as swak beskryf en ongeveer 56% as matig. Die studie het ook aangedui dat ongeveer 50% van pasiënte erge angs ervaar oor hulle gewig, die toekoms en hipoglukemie.

Terwyl die aftakeling wat hierdie  stressors meebring, sy tol op selfs die gesondste liggaam kan eis, is die gesondheidsimplikasies wat deur stres veroorsaak word, vir ʼn diabeet nog ernstiger.

 

Hoe stres diabetes affekteer

Jou liggaam se natuurlike reaksie wanneer onder stres, is ʼn styging in bloedglukosevlakke. Bloedglukose word geaktiveer deur hormone soos epinefrien en kortisol, wat tydens ʼn staat van stres vervaardig word. Diabete besit egter nie die fisiese hanteringsmeganismes wat nodig is om hierdie fluktuasies in bloedglukose te hanteer nie, wat beteken dat stres kan lei tot ʼn stryd om bloedglukosevlakke te stabiliseer wat alreeds wisselvallig is, en dus ander fisiese komplikasies tot gevolg het.

Terwyl die meeste van ons geneig is om onsself te verwaarloos wanneer ons onder stres verkeer, ongesonde trooskos eet en oefening afskeep weens moegheid wat dikwels gekoppel word aan die hantering van lewensprobleme, is dit hanteringsmeganismes wat dokters sterk afkeur vir diabete. Indien dit die geval is, moet diabete ander maniere vind om hulle stres te hanteer.

 

Hoe om stres te hanteer

Diabete benodig deurlopende monitering en sorg, en dit sluit in om maniere te vind om stres te hanteer wat nie die toestand sal vererger nie.

  1. Identifiseer jou stressors. Sodra jy weet wat jou stres veroorsaak, kan jy besluit of jy dit van aangesig tot aangesig wil aanpak, of ʼn manier vind om om dit te werk.
  1. Maak die nodige aanpassings. Diabetes.org adviseer dat stressors ʼn teken kan wees dat dinge moet verander. Miskien is dit tyd om daardie argument met jou beste vriend uit te klaar, of te oorweeg om ʼn nuwe werk te soek?
  1. Ontleed jou hanteringsmeganisme. Pak jy ʼn probleem alleen aan, of soek jy hulp? Konfronteer jy jou uitdagings, of maak jy asof hulle nie bestaan nie? Identifiseer wat vir jou die beste werk, en op daardie basis, stel ʼn plan op oor hoe jy stres gaan hanteer.
  1. Maak tyd vir ontspanning. Of dit nou is deur joga te doen, ʼn boek te lees of ʼn vriend op te soek, om tyd te maak om te ontpan kan ʼn baie positiewe effek op jou stresvlakke hê. Daarbenewens, eerder as om jou toevlug na ongesonde kos te neem as beloning vir die hantering van ʼn moeilike situasie, maak jou ontspantyd die beloning wat jy aan jouself toeken vir ʼn werk welgedaan.
  1. Moenie jou goeie gewoontes afskeep nie. Dit mag voel asof om jou gesondheid op te pas te veel is tydens ʼn stresvolle tydperk, maar dit is belangrik dat jy ʼn gesonde lewenstyl handhaaf om te verseker dat jy gereed is vir die stryd en enige uitdaging kan hanteer wat jou omstandighede na jou kant toe mag laat kom.

 

Bron: Clicks

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Skildklier en menopouse: Verwarring van simptome
Volgens die American Association of Clinical Endocrinologists (AACE) ly miljoene vroue met menopousale simptome, selfs dié wat estrogeen gebruik, dalk aan ongediagnoseerde skildkliersiekte. Hoewel simptome soos moegheid, depressie, buiwisselings en slaapversteuring dikwels met menopouse geassosieer word, kan dit ook tekens wees van skildkliertekort. ʼn Opname deur die AACE het getoon dat net een uit elke […]
Watter posisie is die beste om in te slaap?
Dit is heel waarskynlik dat daar een ding omtrent jou slaaproetine is wat redelik bestendig is. Selfs al varieer jou slapenstyd elke aand, of jy word elke oggend op verskillende tye wakker, is daar moontlik een posisie wat jy verkies om in te slaap. Ongelukkig mag die posisie wat jy die gemaklikste vind, uiteindelik gesondheidsprobleme […]
Toetse en skanderings wat jou lewe kan red
Jou gesondheid is jou grootste bate, daarom moet jy net soveel tyd aan jou gesondheid bestee as aan jou sukses en welvaart. Maar waar begin jy en wat kan jy hier en nou doen? Soos die spreekwoord lui: voorkoming is beter as genesing. Voorkoming deur middel van toetse en skanderings is nie net beter nie, […]
1 2 3 227