Deur Melodie Veldhuizen
Wat is vergifnis?
Vergifnis is ʼn doelbewuste besluit om gevoelens van gegriefdheid, haatdraendheid en wraaksug teenoor iemand wat jou te nagekom het, te laat vaar. Vergifnis beteken dat jy nie langer gevoelens van wraak of bitterheid koester nie, en ook nie wens dat dit met hom sleg moet gaan nie. Dit gebeur ongeag of die persoon dit verdien of nie en ook dikwels sonder dat hy verskoning vra vir of berou toon oor sy dade of woorde. Dit beteken nie noodwendig dat jy vergeet wat die persoon jou aangedoen het of dat jy die gedrag goedkeur nie. Vergifnis verplig jou ook nie om weer vriende te wees of weer by ʼn verhouding van enige aard betrokke te wees nie. Weiering om te vergeef beteken dat jy lewenslank aan daardie persoon die mag oor jou lewe en emosies verleen.
Vergifnis is nooit maklik nie – hoe meer intens jou seerkry, of hoe groter die skade wat jou berokken is, hoe moeiliker sal dit wees om te vergewe. So is dit ook moeiliker om iemand te vergeef wat jou doelbewus skade berokken het of te na gekom het as iemand wat jou onbewus te na gekom het. Wanneer die persoon wat jou onreg aangedoen het verskoning aanbied wat onopreg is, of selfs geen berou toon nie, is vergifnis dalk ondenkbaar.
Vergifnis is inderdaad moeilik, maar dit ís moontlik.
Hoe vergewe ek?
Om die verontregting te ignoreer of net te leer om daarmee saam te leef, is op die lange duur sleg vir jou emosionele, geestelike en fisieke welstand. Besin oor presies wat die persoon gedoen of gesê het en waarom dit jou so seergemaak het. Het die persoon jou bewustelik pyn aangedoen of bestaan die moontlikheid dat hy onbewus is van watter effek sy woorde of dade op jou het? Is die persoon al oorlede of is dit iemand wat op die een of ander manier nog deel is van jou lewe? Moenie hierdie negatiewe emosies ontken of reken dat dit van verbygaande aard is nie. Ervaar jy steeds pyn oor iets wat iemand jou jare gelede aangedoen het? Is dit iets wat onlangs gebeur het? Neem ʼn doelbewuste besluit om te vergewe. Doen dit deur hom in jou hart vry te spreek, of deur dit van aangesig tot aangesig vir hom sê, of deur ʼn brief te skryf.
Probeer sin en betekenis vind in dít wat met jou gebeur het. Dit sal jou help om nie deur die lewe gaan met ʼn gevoel van hooploosheid en wanhoop dat die lewe geen betekenis meer vir jou inhou nie. Besin oor hoe die swaarkry jou lewe op ʼn positiewe manier beïnvloed het – wat het jy hieruit geleer en hoe jy uit hierdie ervaring gegroei ? Dink ook na oor hoe voordelig dit vir jou kan wees om te vergewe. Dit beteken nie dat jy jou pyn gering moet ag en sê jy moet maar die beste van die saak maak nie.
Raak vergifnisfiks
Net soos ʼn mens geleidelik met ʼn nuwe oefenprogram begin, kan jy ook in jou alledaagse omgang met ander jou vergifnishartspiere geleidelik sterker maak. Stel jou daarop in om nie ander mense leed aan te doen nie. Vermy dit byvoorbeeld om negatiewe dinge te sê oor die persoon wat jou te na gekom het nie. Ontwikkel ʼn omgeegesindheid teenoor die oortreder. Besin daaroor of hy kwaadwillige bedoelings gehad het en of dít wat hy jou aangedoen het uit sy eie lewensomstandighede voortgespruit het.
Daar is ʼn verband tussen empatie en vergifnis. Loop die persoon dalk met ʼn diepgesetelde seer weens verwerping, mishandeling of onregverdige optrede jeens hom? Het hy op daardie stadium erge stres beleef, verkeerde inligting gehad, of is hy deur iemand anders geïntimideer? Dit regverdig nie sy optrede teenoor jou nie en dit sal nie jou pyn wegneem nie, maar die besef dat almal van ons iewers in ons lewe seergekry het, kan jou help om empatie met hom te hê sodat jy makliker kan vergewe.
Wanneer vergifnis vir jou onmoontlik voel, beroep jou op ander bronne en op jou ander sterkpunte. Onthou eerstens dat om te sukkel om te vergewe, nie beteken dat jy ʼn mislukking is nie. Vergifnis is ʼn proses en verg geduld, tyd en vasberadenheid. Omring jouself met mense wat ʼn positiewe invloed op jou het, wat jou ondersteun en wat jou tyd sal gun om teen jou eie pas te genees. Wees nederig, nie deur jouself en jou gevoelens gering te ag nie, maar deur die besef dat elke mens feilbaar is en aan swaarkry onderworpe is. Wees moedig en geduldig met jouself.
Met selfvergifnis gee jy erkenning aan jouself as mens in eie reg, selfs al is jy onvolmaak. Wees net so lief vir jouself as wat jy is vir iemand anders vir wie jy baie lief is. Versag jou hart teenoor jouself. Selfvergifnis help jou om ander makliker te vergewe en dit help jou ook om ander teenoor wie jy oortree het om vergifnis te vra.
Indien die persoon wat jy vergewe het sy gedrag voortsit, jou met disrespek behandel en geen berou toon nie, tree ferm op. Weier om langer ʼn vloermat te wees, en moenie toelaat dat die persoon se gedrag jou selfbeeld negatief beïnvloed nie.
“Om te kan vergewe, vereis dat jy moet kan ly, want vergifnis volg op lyding. Wie nie kan ly nie, soek vergelding. Eers as jy bereid is om te ly, kan jy vergewe. Vergifnis is nie goedkoop nie.”
(Ferdinand Deist)
Bronne
Greater Good Magazine. https://greatergood.berkeley.edu/article/item/eight_keys_to_forgiveness
Greater Good Magazine. https://greatergood.berkeley.edu/topic/forgiveness/definition
Positive Psychology. https://positivepsychology.com/forgiveness-benefits/
Psychology Today. https://www.psychologytoday.com/za/basics/forgiveness#how-to-forgive-others
Psychology Today. https://www.psychologytoday.com/us/blog/the-mindful-self-express/201506/6-important-facts-about-forgiveness
Oops! We could not locate your form.