Deur Nico Strydom
Pynstillers, slaappille en kalmeermiddels word daagliks deur dokters voorgeskryf of is sommer oor die toonbank beskikbaar, en hoewel dit onskadelik lyk, kan dit dodelike gevolge inhou.
Kenners waarsku oor ‘n “versteekte pandemie” van verslawing aan voorskrif- en oor-die-toonbank-medikasie, wat ‘n groeiende probleem wêreldwyd is.
Suid-Afrika is nie immuun nie, met tot 7% van rehabilitasie-opnames wat weens verslawing aan voorskrifmedisyne is, sê dr. Shaquir Salduker, pynbestuurdeskundige en lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters (SASOP).
Salduker wys daarop dat verslawing en dwelmmisbruik nie net aan onwettige dwelms soos heroïen en kokaïen verbind word nie, maar ook aan voorskrif- en oor-die-toonbank-medikasie wat deur pasiënte vertrou en as “skadeloos” beskou word.
Dit sluit in opiaatgebaseerde pynmedikasie wat oksikodoon, fentaniel, morfien of kodeïen bevat, en baie kodeïengebaseerde hoesmengsels en verkoue- en griepmedikasie; bensodiasepien-medisyne en medikasies vir angs en slapeloosheid en stimulante soos metielfenidaat wat gereserveer moet word vir die behandeling van aandaggebrek-hiperaktiwiteitsversteuring (ADHD).
“Gevoelens van euforie, ontspanning, rustigheid en plesier, en die soortgelyke effekte van stimulante saam met hoë energievlakke, kan hoogs verslawend en net so verslawend soos sogenaamde straatdwelms,” sê Salduker.
“Opiate is die mees verslawende middel wat aan die mensdom bekend is. Net omdat hierdie middels deur dokters voorgeskryf word of in apteke in voorraad gehou word, maak dit nie die risiko van verslawing minder nie, en dit is ook nie minder geneig as onwettige dwelms om langtermyn permanente skade aan die individu se breinfunksie en algehele geestelike en fisiese gesondheid te veroorsaak nie.”
Kodeïen, wat as oor-die-toonbank-medikasie beskikbaar is vir pyn, hoes, verkoue en griep, is die mees misbruikte opiaat in Suid-Afrika en is net so verslawend soos lae dosisse morfien.
“Kodeïen metaboliseer in morfien wanneer dit ingesluk word, en morfien is ‘n nabye chemiese verwant van beide opium en heroïen. Wanneer ‘n individu groot hoeveelhede kodeïen inneem, verbruik hulle effektief groot hoeveelhede morfien, met dieselfde effek as heroïen.”
Die misbruik van voorskrifmedisyne kan soortgelyke langtermyn effekte as ander dwelms op breinfunksie, buie, konsentrasie en denkvermoë hê, sowel as ‘n impak op geestelike en fisiese gesondheid, met potensiële langtermyn orgaanskade en die risiko van voortydige dood deur ʼn oordosis.
Voortgesette gebruik van medikasie kan toleransie veroorsaak, wat weer daartoe kan lei dat ʼn individu toenemend hoër dosisse neem om dieselfde effek te verkry, en eers besef dat hulle verslaaf kan wees wanneer hulle probeer ophou om die dwelm te gebruik en vind dat hulle nie kan funksioneer nie en onttrekkingsimptome ervaar.
Volgens Salduker is Suid-Afrika een van die min lande ter wêreld waar kodeïenbevattende medisyne oor die toonbank beskikbaar is. Hy waarsku dat opioïedbevattende middels nie saam met ander sentrale senuwee-depressante soos slaaptablette, kalmeermiddels, angsmedikasie of alkohol geneem moet word nie, aangesien dit effekte soos lomerigheid en potensieel lewensgevaarlike respiratoriese onderdrukking (moeilike asemhaling) kan vererger, sowel as die risiko van verslawing verhoog.
Diegene wat vermoed dat hulle dalk aan voorskrifmedikasie verslaaf is, word aangeraai om hulp en ondersteuning te soek. Mediesgesteunde detoks en onttrekking mag nodig wees sowel as berading en psigoterapie om te help om onttrekkingsimptome te bestuur, die oorsaak van kwesbaarheid vir verslawing te verstaan en ‘n persoon te help om hul lewe weer op koers te kry met verbeterde lewensvaardighede om pyn en stres te bestuur.
Oops! We could not locate your form.