Verstikking: Rus jouself toe om dit te hanteer

Wat het die Amerikaanse sangeres en aktrise Cher, die voormalige president van die Verenigde State Ronald Reagan en die Amerikaanse aktrise Ellen Barkin in gemeen? Hulle is van die gelukkiges wie se lewens gered is omdat iemand geweet het wat om te doen toe hulle amper doodverstik het.

Hulle verhale is goed gedokumenteer. Die uitkomste van verstikking is egter nie altyd gunstig nie. Almal van ons sal waarskynlik die een of ander tyd iemand sien wat verstik. Dit kan ’n skrikwekkende ervaring wees. As jy egter leer wat om te doen wanneer iemand verstik, kan jy die verskil tussen lewe en dood wees.

David Stanton, Gautengse kampusbestuurder van Netcare-opvoeding se Fakulteit Nood- en Kritieke Sorg, sê verstikking is een van die algemeenste lewensbedreigende gevare. Hy moedig almal aan om te leer om iemand in hierdie potensieel noodlottige situasie te help.

“Verstikking vind plaas óf as gevolg van die algehele verstopping van iemand se lugweg deur ’n ingeslukte voorwerp, óf wanneer iets die windpyp verstop in plaas daarvan om in die kosweg af te gaan,” verduidelik Stanton.

Die verstopping in die lugweg beperk die vloei van lug na die longe of sny dit heeltemal af, wat kan veroorsaak dat die persoon bewusteloos raak. “As die lugweg nie betyds oopgemaak word nie kan die persoon doodgaan van versmoring. Verstikking is dus ’n mediese noodgeval.”

Stanton merk op dat versmoring binne minute kan plaasvind omdat mens nie kan oorleef sonder genoeg lug in die longe nie, wat die brein van lewensnoodsaaklike suurstof voorsien. “Dit beteken dat as iemand besig is om te verstik, tyd van die uiterste belang is en dat jy onmiddellik die regte stappe moet doen om die persoon aan die lewe te hou totdat professionele hulp opdaag.”

“As nood mediese praktisyns beskou ons dit as ons plig om die publiek in te lig oor die tegnieke wat kan help om iemand se lewe te red wanneer ’n opgeleide gesondheidsorgpraktisyn nie onmiddellik beskikbaar is om te help nie,” sê Stanton.

 

  • Hoe weet jy dat iemand besig is om te verstik?

Stel vas of die persoon besig is om te verstik. Iemand met ’n verstopte lugweg sal nie kan hoes, praat of asemhaal nie en sal heelwaarskynlik na sy keel gryp. “Vra hardop en duidelik of hy besig is om te verstik – in die meeste gevalle sal hy ja of nee kan beduie. Dit sal help om ander moontlikhede uit te skakel, soos ’n allergiese reaksie, wat anders behandel word.”

“Beoordeel die situasie en, indien dit nodig is, laat iemand bel vir nood mediese bystand. As jy alleen is by die persoon wat verstik, bel vir bystand maar sit jou telefoon in die luidsprekermodus sodat jy hom kan begin help terwyl jy om hulp bel. Dit is noodsaaklik dat die persoon wat bel die aard van die noodsituasie en presiese aanwysings na die plek gee.”

“As die persoon sterk hoes, moenie met ’n spontane gehoes inmeng nie want dit kan help om die verstopping uit te kry. As die obstruksie ernstig word, sal ’n sagte gehoes of swaar asemhaling voorkom. En nog erger, die persoon kan heeltemal ophou reageer.”

 

  • Die Heimlich-maneuver

Probeer om die obstruksie los te kry deur ’n aantal kragtige abdominale drukke toe te dien. Dit word ook die Heimlich-maneuver genoem en dit moet net toegepas word indien die persoon wat verstik ’n volwassene of ’n kind ouer as een jaar is.

“Die Heimlich-maneuver bestaan uit ’n abdominale druk wat ’n kunsmatige hoes veroorsaak, wat sterk genoeg kan wees om die lugweg skoon te maak. Vinnige, opwaartse abdominale drukke forseer ’n stroom lug uit die longe en dit kan dít waaraan die persoon ook al besig is om te verstik uit die lugweg forseer,” verduidelik Stanton.

 

Stap-vir-stap-verduideliking van die Heimlich-maneuver

  1. Laat die persoon effens vooroor buig en staan of kniel voor of agter hom of haar.
  2. Bal een hand in ’n vuis. Sit jou arms om die persoon en gryp jou vuis met die ander hand bokant die verstikkende persoon se naeltjie en net onder die ribbekas.
  3. Maak ’n vinnige, kragtige inwaartse en opwaartse beweging in ’n poging om die persoon te help om die voorwerp uit te hoes.
  4. Hierdie maneuver moet minstens vyf keer herhaal word. Hou aan om te kontroleer of die voorwerp losgekom het uit die pasiënt se lugweg.
  5. Indien die Heimlich-maneuver aanvanklik nie werk nie, slaan die persoon verskeie kere ferm tussen die blaaie met die basis van die hand en herhaal dan die Heimlich-maneuver.

 

“Onthou, hoewel die Heimlich-maneuver lewens kan red, dit ook beserings kan veroorsaak. Om moontlike beserings uit te skakel, is dit is dus belangrik dat die persoon ook ’n dokter moet spreek nadat hierdie tegniek op hom uitgevoer is.”

“Abdominale drukke moet egter nie uitgevoer word nie op vrouens in ’n gevorderde stadium van swangerskap of op obese mense. Instede daarvan is dit raadsaam om ’n tegniek bekend as borsdrukke op sulke pasiënte te gebruik,” sê Stanton.

 

  • Borsdrukke

Indien die persoon ophou reageer of swanger of obees is, is dit raadsaam om borsdrukke te gebruik in ’n poging om die obstruksie uit te kry.

  1. Staan agter die persoon, soos by die Heimlich-maneuver.
  2. Sit jou arms om die persoon se bors.
  3. Gee kort, kragtige drukke teen die bors met die doel om die lug uit die bors te druk.

 

  • Klein kindertjies (jonger as een jaar)

As ’n kind wat jonger as een jaar is besig is om te verstik, moet jy, ten einde beserings te voorkom, uiters versigtig wees wanneer jy probeer om die voorwerp uit te kry.

  1. Sit en hou die kind met die gesig na onder oor jou voorarm, wat vir stabiliteit op jou bobeen rus.
  2. Hou die kind teen ’n hoek sodat die kop en nek laer as die bolyf is.
  3. Stamp verskeie kere met jou ander hand teen die middel van die kind se rug.
  4. Hierdie beweging en swaartekrag saam behoort te help om die verstopping uit die lugweg te kry.
  5. Hou aan om in die mond te kyk of die voorwerp losgekom het.
  6. As dit nie werk nie, kan jy die kind op sy rug draai en vyf sterk borskompressies in die middel van die borskas uitoefen.

Indien ’n persoon van enige ouderdom bewusteloos raak, moet jy begin on kardiopulmonêre resussitasie (KPR) uit te voer. Hou aan met die KPR totdat die voorwerp sigbaar is en verwyder kan word of totdat die paramedici opdaag.

“Om met ’n persoon te werk wat verstik, kan ’n skrikwekkende ervaring wees, maar dit is essensieel om kalm te bly en die stappe hierbo te volg omdat dit die beste kans bied om iemand te help wat verstik,” sê Stanton.

“Dit is ’n goeie idee om met jou gesin en enigiemand wat gereeld na jou kinders kyk die stappe te bespreek om ’n pasiënt te help wat verstik. Mens weet nooit wanneer hierdie lewensbelangrike inligting die lewe van een van jou geliefdes of selfs jou eie kan red nie.”

“Onthou, dit is noodsaaklik om die nood mediese dienste te skakel sodra iemand verstik omdat, indien hierdie stappe nie werk nie, verstikking baie gou kan veroorsaak dat die persoon bewusteloos word en versmoor. Hoe gouer die paramedici geskakel word, hoe gouer sal hulle opdaag en hoe groter die kanse op ’n positiewe uitkomste.”

Share

Recent Posts

Wat om te doen as jy oorweldig voel by die werk

Deur Essie Bester Ons almal beleef oomblikke waarin ons oorweldig voel deur werk. Met die…

5 dae ago

Hoop vir nierlyers

Deur Emsie Martin Die meeste van ons weet nie regtig wat nierdialise behels nie, nog…

2 weke ago

Jou oë en rekenaargebruik

Deur Emsie Martin Weens Covid-19-inperkingsmaatreëls werk baie van ons na ̓n jaar steeds van die…

3 weke ago

Wat is emosionele volwassenheid?

Deur Emsie Martin Ons lewe in ̓n uiters snaakse wêreld, met baie nuwe eise wat…

3 weke ago

Hou op om na jou foon te kyk

Deur Wilma Bedford Is jou slimfoon jou baas? Indien wel, hoe affekteer dit veral jou…

3 weke ago

Vroeë tekens wat my waarsku dat ek dalk besig is om siek te raak

Deur dr. Jerrie Bezuidenhout – Psigiater en Direkteur Mediese Dienste by Vista   Ons weet…

4 weke ago