Deur Emsie Martin
Dit is al vir solank op jou wenslysie, maar na drie miskrame voel jy dalk om moed op te gee. Jy het ʼn voltydse, stresvolle beroep wat baie van jou tyd verg. Na maande bevestig die dokter dat jy weer swanger is en die sonar wys dit is beslis ʼn tweeling. Jy begin reeds wonder hoe jy gaan aanhou werk en twee babas hanteer. ʼn Latere sonar bevestig dat daar ʼn gesamentlike plasenta is, wat beteken dis TTS.
Maar wat is tweelingtransfusiesindroom (TTS)?
Volgens inligting wat verskaf is deur dr. Marshal, konsultantverloskundige en ginekoloog , is TTS ʼn baie skaars en ernstige komplikasie wat 8-10% van identiese tweelinge raak.
By ʼn identiese tweeling met ʼn gesamentlike plasenta is daar altyd ʼn verbinding tussen die twee se sirkulasie. TTS ontwikkel wanneer daar ʼn wanbalans tussen die twee se bloedvloei is. Een tweeling bekend as die skenker pomp dan van sy bloed en voedingstowwe deur die plasenta na die ander tweeling, bekend as die ontvanger.
Volgens dr. Lou Pistorius, perinatoloog by Mediclinic Panorama, produseer die skenker minder vrugwater en word sy groei hierdeur belemmer. Uiteindelik sit die baba “vasgeplak” aan die kant van die uterus, want daar is byna geen vrugwater in sy sak nie. Hy kan selfs in die baarmoeder sterf omdat daar nie genoeg voedingstowwe of suurstof is om aan die lewe te bly nie.
Die ontvanger, aan die ander kant, produseer te veel vrugwater. Daar kan soveel vrugwater ontwikkel dat die moeder se buik skielik groter, ongemaklik en selfs pynlik word. Die groot hoeveelheid vrugwater kan ook ʼn miskraam of premature kraam veroorsaak. Verder kan die ontvangertweeling hartversaking ontwikkel as gevolg van die oorlading van die bloed in die sirkulasie en ook selfs in die baarmoeder sterf.
Wat is die oorsaak van TTS?
By ʼn tweeling met ʼn enkel plasenta is daar altyd verbindings tussen die twee se sirkulasie. Die skenker gee meer bloed as wat terugkom en het later te min bloed in sirkulasie, produseer minder urine en het gevolglik minder en minder vrugwater, terwyl die ontvanger se sirkulasie oorlaai is en dan meer en meer urine en vrugwater produseer en heeltemal te veel vrugwater ontwikkel.
Op watter stadium kan TTS geïdentifiseer word?
Volgens dr. Pistorius ontwikkel TTS meestal tussen 16 en 24 weke, maar kan ook vroeër of later ontwikkel. ʼn Deeglike sonarondersoek met goeie toerusting is nodig om TTS te bevestig. Die membraan tussen die tweeling kan moeilik wees om te sien, maar kan na aan die skenkertweeling gesien word. Hierdie lid van die tweeling is dikwels te klein vir die swangerskapsduur en sy beweeglikheid is beperk as gevolg van ʼn gebrek aan vrugwater.
Opsies indien TTS geïdentifiseer word?
In die verlede is sonder veel sukses probeer om die hoeveelheid vrugwater met medikasie te verminder, kontraksies te onderdruk, en hartversaking te probeer behandel. Met of sonder hierdie medikasie sou minder as 5% van ʼn tweeling met erge TTS oorleef.
Volgens kenners is die opsies soos volg:
Ongelukkig moet die mamma dan by geboorte ook afskeid neem van die baba wat reeds dood is.
Behandeling vir TTS
Volgens dr. Marshall, hang dit af van die stadium af waarop TTS gediagnoseer word.
In stadium I is geen behandeling nodig nie en daar is ʼn 50%-kans dat dit vanself sal beter word.
In stadium 2−4 is daar ʼn 80−90%-kans om albei babas te verloor en is laserbehandeling om die verbinding op die plasenta toe te skroei die beste opsie.
Laser het ook ʼn 10-15%-risiko dat jy in kraam kan gaan of die babas kan verloor.
Volgens kenners is laser die beste behandeling beskikbaar vir TTS, maar dit is nog nie vervolmaak nie.
In stadium 5 is dit te laat om iets te doen en sal daar gekyk word na uitgebreide berading vir die ma en beplanning van die bevalling.
Kry sommer vandag nog ʼn tweede opinie as jy ʼn identiesetweelingswangerskap het.
Bronne
www.tttsfoundation.org (die VSA TTTS Foundation)
http://maternalfetal.co.za/pasiente/prosedures/ttslaser/
KENNERS: Dr. Marshal, voorheen konsultantverloskundige en ginekoloog by George Hospitaal en dr. Lou Pistorius, perinatoloog by Mediclinic Panorama.
Oops! We could not locate your form.