Meg de Jong
Al ooit vir jouself breed in die spieël geglimlag, net om agter te kom jou gebit is geler as die skitterwink wat jy jou verbeel het? Tandverkleuring het ʼn hele paar verskillende oorsake, maar dit is ʼn baie algemene toestand. Hier is wat jy moet weet.
Waarom vlek tande?
“Verkleuring van jou tande kan veroorsaak word deur interne of eksterne faktore,” verduidelik Kaapstad-gebaseerde mondhigiënis Emma Coulter. “Faktore soos ouderdom, medikasie, tandtrauma en vulsels kan intrinsieke vlekke (van binne-in die tand) veroorsaak, terwyl ekstrinsieke vlekke deur voedsel en drank soos borrie, rooiwyn, tee en koffie, sowel as rook, veroorsaak kan word.”
Emma King, ʼn mondhigiënis en hoof van bemarking en opleiding by Zoom Whitening Southern Africa, soms dit eenvoudig so op: “Enige kos of drank wat ʼn wit oppervlak kan vlek, kan jou tande vlek.”
Wat kan jy doen om vlekke te verwyder of verminder?
Vlekke op die buitekant van jou tande kan verwyder word deur te borsel of met ʼn professionele skoonmaak, maar intrinsieke vlekke kan slegs met ʼn oksidasieproses verwyder word, wat die gebruik van chemikalieë soos waterstof of karbamied peroksied benodig, verduidelik King.
Coulter verduidelik dat gereelde mondhigiëne-skoonmaakafsprake baie belangrik is aangesien enige growwe areas, plaak of gekalsifiseerde plaak-aanpaksels (tartar) tot gevolg sal hê dat vlekke vinniger voorkom en langer duur. Jy behoort elke ses maande ʼn mondhigiënis te besoek, of meer dikwels indien daar ʼn bo-gemiddelde plaak-opbou is.
Dentale bleikbehandelings wat deur tandheelkunde-praktyke aangebied word en tuisbehandelingpakette kan ook help om vlekke te verminder en ʼn algehele witter tandkleur te bewerkstellig.
Wat kan jy doen om vlekke te voorkom?
“Om goeie mondhigiëne te beoefen is die beste manier om te voorkom dat jou tande vlek,” sê King. Om twee keer per dag te borsel en elke dag te vlos is nie onderhandelbaar nie.
Vervolgens moet jy dit wat jy ook al doen wat jou tande vlek, afskaal of staak. Dit sluit dinge in soos om te rook, koffie en kerrie. “Om water te drink nadat jy iets geëet of gedrink het wat jou tande kan vlek, kan ook die hoeveelheid vlekke wat akkumuleer, verminder,” adviseer King.
Sy beveel ook suikervrye kougom met xilitol aan om jou speekselvloei te vermeerder, wat jou mond natuurlik reinig. “Kou slegs tot die geur verdwyn het, en moenie meer as vier tot vyf stukkies per dag kou nie,” beveel sy aan.
Wanneer moet jy bekommerd wees oor die vlekke?
Beide kundiges stem saam: Wanneer jou tande tot so ʼn mate verkleur het dat dit jou selfvertroue aantas, is dit tyd dat jy iets daaromtrent doen!
Dit is egter soms nie net ʼn kosmetiese en selfvertroue-kwessie nie, en kan iets meer ernstig wees. As jy ʼn enkele donker tand het, kan dit wees dat ʼn senuwee doodgegaan het ween trauma soos ʼn val – dit kan daartoe lei dat ʼn abses vorm, so dit is uiters belangrik om jou tandarts dadelik te besoek. Wit kolle kan moontlik ook verswakte emalje aandui, wat ook kundige hulp sal benodig.
Bron: Clicks
Oops! We could not locate your form.