Deur Melodie Veldhuizen
Ons weet dat te veel suiker ongesond is. Tog oordoen ons dit soms en vergryp ons ons aan ʼn oormaat van soetgoed of selfs net ʼn ekstra lepeltjie suiker in ons koffie of oor ons ontbytpap. Maar suiker kom selfs voor in oënskynlik ‘onskuldige’ voedselprodukte soos brood, tamatiesous en energiestafies, wat daartoe kan lei dat ons daagliks veel meer as die gesonde toegelate hoeveelheid suiker inneem. Te veel suiker het op vele maniere ʼn negatiewe effek op jou welstand.
As kinders wou ons dit nie glo nie, maar ons ouers was reg toe hulle ons gewaarsku het dat te veel lekkergoed ons tande ‘sleg’ kan maak. Dis inderdaad so dat dit tot tandbederf kan lei. Bakterieë wat gaatjies in die tande veroorsaak, floreer op die suikerreste wat vir lank nadat jy soetgoed geëet en gedrink het nog in jou mond agterbly.
Gewrigspyne is dikwels die gevolg van te veel soetgoed, omdat dit inflammasie in die liggaam veroorsaak. Navorsing het ook bevestig dat te veel suiker rumatoïede artritis tot gevolg kan hê.
Nog ʼn newe-effek van inflammasie is dat dit die veroudering van jou vel versnel. Suiker verbind met die proteïne in jou bloedstroom, wat skadelike molekules laat ontstaan. Die molekules beskadig die kollageen en elastien (proteïnevesels wat jou vel soepel en jeugdig hou). Die resultaat is plooie en ʼn ingesakte vel.
Fruktose word in die lewer geprosesseer en ʼn oormaat daarvan kan die lewer beskadig. Wanneer fruktose in die lewer afgebreek word, word dit in vet omgeskakel. Weens oortollige vet wat in die lewer opbou, kan dit nie-alkoholiese vetterige lewersiekte veroorsaak. Dit kan ook nie-alkoholiese steatohepatitis veroorsaak – ʼn vetterige lewer, inflammasie en “steatose” wat letsels op die lewer maak, wat uiteindelik bloedtoevoer na die lewer afsny. Dit kan lewersirrose veroorsaak en uiteindelik ʼn leweroorplanting noodsaak.
Te veel suiker kan ook hartprobleme tot gevolg hê. Die oortollige insulien in jou bloedsroom kan die slagare regdeur die liggaam affekteer deurdat inflammasie in die wande van die slagare ontstaan; die wande verdik en verhard en spanning word op die hart geplaas Daarbenewens kan te veel suiker hoë bloeddruk veroorsaak. Dit lei tot hartsiektes soos hartversaking, hartaanvalle en beroertes.
Die pankreas vervaardig insulien, wat deur die liggaam versprei word. Te veel suiker het tot gevolg dat die liggaam nie na wense op die insulien reageer nie. In reaksie daarop vervaardig die pankreas ʼn oormatige hoeveelheid insulien. Sodoende word die pankreas ooreis en jou bloedsuikervlakke styg. Dit kan tipe 2-diabetes asook hartsiektes veroorsaak.
Indien jy diabetes, het, kan te veel suiker nierskade veroorsaak. Jou niere vervul ʼn noodsaaklike funksie deurdat dit jou bloed suiwer. Sodra jou bloedsuiker versadigingsvlak bereik, begin die niere om oortollige suiker in jou urine vry te stel. Dit kan daartoe lei dat die niere nie meer afvalstowwe uit jou bloed kan verwyder nie, met gevolglike nierversaking.
Oormatige suikerinname kan inflammasie in die vetselle veroorsaak, wat tot die vrystelling van chemikalieë lei, met gevolglike gewigstoename.
Te veel suiker het op verskeie maniere ʼn effek op ʼn mens se brein. Die brein gebruik meer energie as enige ander orgaan in die liggaam, en glukose is die hoofbron van breinenergie. Suiker help met die vrystelling van dopamien in die brein. Omdat voedselsoorte soos vrugte en groente nie so doeltreffend is met die vrystelling van dopamien nie, het die brein ʼn toenemende behoefte aan suiker vir daardie goedvoel-ervaring. Te veel glukose in die bloedstroom kan skadelik wees vir die brein, met ʼn negatiewe effek op ons kognitiewe funksionering, geheue en aandagspan en ook op ons gemoedstemming. Klein hoeveelhede suiker kan jou bloedsuikervlakke vinnig laat styg en jou vir ʼn kort periode goed laat voel. Sodra die breinselle die suiker absorbeer en jou bloedsuikervlakke daal, begin jy geïrriteerd en angstig voel. Daarom is daar ʼn verband tussen te hoë suikerinname en depressie.
ʼn Mens kan gesond eet en steeds die soetigheid van die lewe geniet.
Bronne:
Healthline. https://www.healthline.com/nutrition/too-much-sugar#TOC_TITLE_HDR_12
Verywellmind. https://www.verywellmind.com/how-sugar-affects-the-brain-4065218
WebMDhttps://www.webmd.com/diabetes/features/how-sugar-affects-your-body
Oops! We could not locate your form.