Deur Wilma Bedford
Met die aanbreek van die inperking in Maart 2020 het baie mense hulle skielik in ʼn nuwe daaglikse patroon bevind en selfs met te veel ure wat elke dag gevul moes word.
ʼn Interessante fenomeen wat te voorskyn getree het, is dat baie verveelde vroue en net so baie mans hulle na die kombuis gewend het om iets konstruktief en kreatief te vind om te doen. Die uitkoms hiervan was verrassend omdat vele aspirantkokke en bakkers skielik besef het dat hulle dit geniet om ʼn resep aanmekaar te slaan en ʼn suksesvolle brood, koek of pastei uit die oond op te tower. Meer nog, die meng, sif en knie van bestanddele het ʼn beduidende uitwerking op hulle gemoedstemming gehad en stres die wyk laat neem. Om ʼn groot homp deeg te knie, het aan hulle ‘n gevoel van kalmte en beheer verleen, selfs al het dit gevoel asof die wêreld om hulle in duie stort.
Navorsing bewys inderdaad dat om in die kombuis te werskaf stresverminding, beheer van emosies en selfs sosiale konneksies tot gevolg het. Om te bak en te kook, het gedurende die dikwels vervelige maande van isolasie ʼn tipe selfsorg geword – en vir sommige selfs tot ʼn nuwe, bevredigende en winsgewende loopbaan gelei.
Kreatiewe aktiwiteite kan sielkundige genesing in die hand werk. Klein, skeppende take kan ons gelukkiger laat voel en meer positiewe emosies opwek.
Nicole Farmer, wat navorsing doen oor die sielkundige en sosiale voordele van om te kook, het gevind dat sy tydens die inperking haar instinktief genoop gevoel het om vertroostende soppe en koekies vir haar twee kinders voor te berei. “Om te kook, verteenwoordig die gedeelde menslike ervaring van kos en om mense met kos te voed, so ek dink dit skep die geleentheid vir onmiddellike positiewe emosies.”
Die voordele van kook gaan nie net oor die gepaardgaande kreatiwiteit nie, maar die eenvoudige meganika van kook kan die proses aantreklik maak en belangrike breinsentra aktiveer.
Volgens navorsers in Tel Aviv kan herhalende gedrag en ritusse stres en angs verlig. Farmer meld ook dat alhoewel geen studies nog die fisiese bewegings wat met kook gepaardgaan, soos om groente te kap of deeg te knie, ondersoek het nie, dit so is dat hierdie bewegings dieselfde voordele kan voorsien.
Susan Biali Haas, ʼn dokter, skrywer en spreker, sê ons gee ons brein ʼn kans om te ontspan en te rus wanneer ons ons hande gebruik om iets doen wat nie van ons vereis om te veel oor enigiets te dink nie.
Sy verduidelik dat dit ook die brein kans gee om “agter die skerms” te werk. Terwyl jy besig is om met jou hande te werk, ervaar jy dikwels ‘n deurbraak in verband met ‘n probleem waarmee jy lankal worstel of ‘n idee wat sukkel om vorm aan te neem. Wanneer jy met ‘n taak besig is wat herhaling verg en dit dus jou gedagtes heeltemal afsluit van die probleem of kwessie waarmee jy worstel, sal die oplossing dikwels uit die niet opduik.
Om in die kombuis te werk, laat mense fokus op dít waarmee hulle besig is en dit kan positief, opheffend en bemagtigend wees, aldus Julie Ohana, ʼn kulinêrekunsterapeut.
Met die huidige wêreldtoestand weens die Covid-19-pandemie en geen idee wat die toekoms inhou nie, laat die proses van bak of kook jou met ʼn gevoel van skepping en voltooiing wat intens bevredigend kan wees in ʼn wêreld waaroor jy geen beheer het nie, voeg sy by.
Om met jou hande te werk, is ook baie genotvol. Ons het vir duisende jare ons hande gebruik vir ons daagliks oorlewing. Met die koms van tegnologie druk ons bloot knoppies en die minimum fisiese inspanning word van ons vereis. Om ons hande meer te gebruik, kan ʼn gesonde gemoed tot gevolg hê en die gebrek aan hierdie tipe aktiwiteit kan bydra tot angs, geïrriteerdheid, apatie, paniekaanvalle en depressie.
Baie van ons ooreet ons, kyk TV of kuier op sosiale media wanneer ons verveeld of gestres voel. Dit kan ontspannend wees maar laat ons dikwels agterna met ʼn skuldgevoel. Die internet kan ons ook besig hou en ons aandag aflei, maar ons voel nie altyd na die tyd vergenoegd nie. Om die vrugte van jou arbeid letterlik te sien en die poging om iets solied in ʼn onbestendige wêreld te skep, kan jou ook met ʼn gevoel van genoegdoening en vrede vul.
Volgens die werksoekwebwerf Monster verander ons breinchemie wanneer ons met ons hande werk. “Die eenvoudige aksie van met jou hande te werk, hetsy om jou huis se elektriese bedrading te herstel, messelwerk te doen, of eenvoudig net te vee, skep heeltemal nuwe neuropaaie in ons brein wat nie deur minder fisiese aktiwiteit teweeg gebring sou kon word nie.”
Kelly Lambert verduidelik in haar boek, Lifting depression: A neuroscientist’s hand-on approach to activating your brain’s healing power, dat doelbewuste aktiwiteite en interaktiewe ervarings meer intensiewe en deurdringende reaksies in jou brein genereer as wat ʼn enkele pil kan doen. Gevolglik begin jy meer in beheer van jou omgewing voel en meer in voeling met die wêreld om jou. “Dit verminder stres en angs en, nog belangriker, bou veerkragtigheid op teen die ontstaan van depressie.”
As om te bak of kook nie jou ding is nie, is daar natuurlik baie ander aktiwiteite wat resultate kan lewer wat jy kan sien, voel en aanraak en ʼn gevoel van genoegdoening en welsyn tot gevolg kan hê. Jy kan miskien met ʼn nuwe stokperdjie begin of ʼn oue wat jy verwaarloos het, afstof en laat herleef. Om iets te skep – hetsy deur kuns, musiek, kwiltwerk, fotografie, tuinwerk, houtwerk of sweiswerk of selfs net ʼn kombuiskas uit te skrop – is dalk net wat jou brein en liggaam nodig het. In die proses kan jy dalk net fokus, vrede, bevrediging en selfs geluk vind.
Bronne
Brasted, C. Why cooking and baking fill a void. https://www.bbc.com/worklife/article/2021-01-28-why-cooking-and-baking-fill-a-void
Chun, G.S. The health benefits of working with your hands. https://crafstmanship.net
Haas, S.B. Working with your hands does wonders for your brain. https://www.psychologytoday.com
Foto krediet: Nicole Michalou | Pexels
Oops! We could not locate your form.