Anja van den Berg
Hier is bemoedigende nuus vir werkende moeders wat daaroor bekommerd is om terug te keer werk toe na die feesseisoen tot ʼn einde gekom het – veral as jy die ma van ʼn dogter is.
Volgens navorsing aangevoer deur Kathleen McGinn, professor van Besigheidsadministrasie by Harvard se Besigheidskool, is daar “baie min dinge, waarvan ons weet, wat so ʼn duidelike effek op geslagsongelykheid het as om deur ʼn werkende ma grootgemaak te word”.
Die gevolgtrekkings van die navorsing is gebaseer op ʼn omvattende opname van 50,000 volwassenes tussen die ouderdomme 18 tot 60 in 25 nasies in 2002 en 2012.
Dit wil blyk dat die sogenaamde “werkende ma-effek” in der waarheid toekomstige vooruitsigte verbeter, veral vir volwasse dogters van moeders wat buite die huis gewerk het voordat hulle dogters 14 jaar oud was, volgens die bevindinge.
Die studie het gevind dat vroue wie se moeders buite die huis gewerk het, meer waarskynlik ook werk, ʼn toesighoudende verantwoordelikheid in hulle pos beklee, en hoër salarisse verdien as vroue wie se moeders voltyds tuisgebly het. Voorts sal mans wat werkende moeders gehad het, meer waarskynlik tot die huishoudelike take bydra en meer tyd aan die versorging van gesinslede bestee. Dit is interessant dat data aandui dat mans waarskynlik toesighoudende poste sal beklee sou hulle moeders buite die huis gewerk het al dan nie. Maar vroue wat deur werkende moeders grootgemaak is, beklee meer waarskynlik bestuursposte.
“Dit het nie vir ons saak gemaak of sy vir ʼn paar maande in ʼn jaar of 60 ure per week tydens jou hele kindertyd gewerk het nie,” sê McGinn. “Ons was nie geïnteresseerd daarin of jou ma ʼn toegewyde professionele persoon was nie, maar eerder of die kind ʼn rolmodel gehad het wat getoon het dat vroue binne sowel as buite die huis werk.”
Die navorsers het kontrole uitgeoefen vir faktore insluitend ouderdom, huwelikstaat, godsdiens, jare van opleiding, stedelik versus landelike verblyf en Binnelandse Produksie in die respondent se tuisland, onder andere. “Deur daardie dinge weg te stroop, het ons gefokus op die uitkomste daarvan om deur ʼn moeder grootgemaak te word wat buite die huis gewerk het. Die direkte effekte is deurgaans betekenisvol,” sê McGinn.
“Hierdie bevindinge impliseer dat om vroue die geleentheid te ontsê om bevredigende loopbane buite die huis te volg, teenproduktief is – nie net vir die toekoms van hulle kinders nie maar vir die samelewing as geheel,” sê professor Robin Ely, direkteur van Harvard se Geslagsinisiatief fakulteit en die Skool se senior mede-dekaan vir Kultuur en Gemeenskap. “So baie van wat mense dink hulle van geslag weet, word eenvoudig nie deur empiriese bewyse gestaaf nie, maar is in plaas daarvan gebaseer op geslag-stereotipes.”
Kinders van beide geslagte blyk te baat by ʼn moeder wat buite die huis werk. “Ons analises vind dat seuns wat deur ʼn werkende ma grootgemaak word, as volwassenes tuis meer betrokke is en meer tyd daaraan bestee om na gesinslede om te sien as mans wie se moeders voltyds tuis was,” volgens die verslag.
Belinda Phipps, voorsitter van die Fawcett Vereniging vir Vrouegelykheid, sê dat in die lig van hierdie navorsingsbevindinge, vroue steeds “alles doen, maar steeds nie alles het nie”. Sy beklemtoon dat ons kulturele houdings moet verskuif om volle geslagsgelykheid te bekom.
“Wat duidelik is, is dat dit belangrik is om die werkplek meer gesinsvriendelik te maak, die beskikbaarheid en gehalte van deeltydse werk en buigbare werksure te verbeter, sowel as om in kindersorg te investeer, om individue te help om ʼn volle werk-leef-balans te bereik,” voeg sy by.
Bronne:
Nobel, C. 2015. “Kids Benefit From Having a Working Mom”. Harvard Business School, http://hbswk.hbs.edu/item/kids-benefit-from-having-a-working-mom
Miller, C.C. 2015. “Mounting Evidence of Advantages for Children of Working Mothers”. The New York Times, http://www.nytimes.com/2015/05/17/upshot/mounting-evidence-of-some-advantages-for-children-of-working-mothers.html
Harvard Business School. 2015. “Having a Working Mother Is Good For You”. http://www.hbs.edu/news/releases/Pages/having-working-mother.aspx
Adams, R. 2015. “Having a working mother works for daughters:. The Guardian,
http://www.theguardian.com/world/2015/jun/24/having-a-working-mother-works-for-daughters