Marli Naidoo
Is jy iemand wat altyd jou sin moet kry anders wip jy jou, skree op almal en gooi goed rond, of huil totdat jy kry wat jy wil hê? Dalk kry jy stilstuipe, onttrek jouself, en weier dan samewerking alvorens ander nie eerste om verskoning vra nie. Jy is heel moontlik emosioneel onvolwasse.
Tekens dat jy nog emosioneel moet grootword:
Die emosioneel onvolwasse persoon is selfsugtig en selfgesentreerd, en stel haar eie belange voorop.
Jy kan nie wag nie. Alles moet onmiddellik gebeur en presies net soos jy dit wil hê.
Die onvolwasse grootmens moet altyd wen. Alles is ʼn kompetisie. Selfs ʼn argument met jou lewensmaat moet uitloop op ʼn wen/verloor situasie.
Die onvolwasse grootmens is nooit tevrede met wat sy het nie.
Jy vind dit moontlik moeilik om onderskeid te tref tussen reg en verkeerd, goed en sleg, en om voor- en nadele verstandig op te weeg. Jy word maklik beïnvloed deur ander, steun op ander om jou opinie vír jou te vorm, en is nie seker van jou eie identiteit nie. Jy is ook baie sensitief vir kritiek. Dit laat jou twyfel aan jou eie vermoëns en jy voel dan dat jy ʼn mislukking is.
Iemand wat emosioneel onvolwasse is, sukkel om verantwoordelikheid te aanvaar. Jy blameer ander en verontskuldig jouself. Jý mag foute maak, maar ander mag nie.
Jy leef in ʼn fantasiewêreld en kan nie vrede maak met die harde werklikheid van die regte lewe nie.
Hoe om te groei tot volwassenheid:
Wees eerlik met jouself. Jy moet eerstens erken dat jy ʼn probleem het. Daarna moet jy besluit om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou eie lewe, optrede en toekoms.
Begin om van jouself te gee. Doen iets vir iemand anders. Luister en stel belang in ander se lewens en in wat vir hulle belangrik is. Selfs ʼn glimlag kan iemand se dag ophelder.
Beoefen selfdissipline. Maak ʼn lysie van take wat jy weet gedoen moet word, maar waarvoor jy nie juis lus is nie, en doen dan elke taak op die lys.
Hou op om verskonings te soek. Wanneer dinge verkeerd loop, vra jouself: Wat het ek gedoen om hierdie probleem te veroorsaak? Wat kan ek leer uit die situasie? Wat is die beste oplossing?
Raak ontslae van kompetisie in jou verhoudings. Daar gaan argumente wees, maar dit maak nie saak wie wen nie. Vind die goue middeweg en beide partye sal daaruit voordeel trek.
Moenie dat vrees jou beheer nie. Kies groei oor vrees en onthou dat jou sukses en geluk belangriker is as jou vrese.
Aanvaar dat mense verskil en dat jy hulle nie kan verander nie. Respekteer die verskille en ander se menings.
Moenie van ander verwag om jou gelukkig te maak nie. Word emosioneel volwasse en onafhanklik.
Moenie meer in die verlede leef nie. Jy kan nie die verlede verander nie, maar jy kan kies om te vergewe en dan vorentoe te beweeg.
Bronne:
Bielay, G. 2010. “The differences between emotional maturity and immaturity”. Victoria Counselling Solutions, http://www.victoriacounsellingsolutions.com/_blog/Free_Relationship_Quiz_and_Articles/post/The_differences_between_emotional_maturity_and_immaturity/
Du Bruyn, G. & I. 2008. “Groei na emosionele volwassenheid”. Elize Botes, www.elizebotes.co.za/…/Shalom_Nuusbrief_37_Junie_2008_Emos_volw_s_w.doc
Gallozzi, C. 2012. “Emotional Maturity 101”. Personal-development.com, http://www.personal-development.com/chuck/emotional-maturity.htm
Wert, K. “15 Signs you may be an emotional bully”. Meant to be Happy, http://meanttobehappy.com/15-signs-you-may-be-an-emotional-bully-and-what-to-do-about-it/
Oops! We could not locate your form.